|
|
|
| Bygewerk: | 22 May 06:00 IDT |
| Temp: | |
| Druk: | |
| Doupunt: | |
| Humiditeit: | 70% |
| Wind: |
Die gesegde 'om te weeg is om te weet', het nuwe betekenis gekry. Met onder
meer die noukeurige opteken van sy boerderybesonderhede en die weeg van beeste
vier keer per jaar het dié boer sy bruto opbrengs van 1997 tot 2002 met meer as
100 % laat styg.
Dit is belangrik dat die Suid-Afrikaanse vleisbeesbedryf 'n standaard-meting van opbrengs kry soos die ander landboubedrywe, sê mnr. Jan van Zyl van die plaas Buckshee, naby Reivilo, tuiste van Kroon Vee Brahmane.
Saai-, groente- en vrugteboere meet hul opbrengs in ton per hektaar. Vleisbeesboere meet dit in prys per kop of die speengewig van kalwers, terwyl die norm behoort te wees hoeveel kilogram vleis per hektaar of per 100 kg lewende gewig op 'n plaas geproduseer word.
Hy het sy beeste begin weeg toe hy van die Olifantshoek-omgewing na die Ghaapse berg tussen Vryburg en Reivilo verhuis het. Die toestande was anders. Hy het geen kennis van veebelading of reproduksie in dié gebied gehad nie. Deur ál sy diere te weeg, kan hy nou sy produksie meet. Só kan hy doelgerig probeer om die doelwitte wat hy gestel het, binne die konteks van produksie en verbetering en die uitbouing van sy natuurlike hulpbronne te haal.
Alle diere op die plaas word in die week van 15 Mei geweeg omdat weidingstoestande elke jaar in Mei en Junie ooreenstem. Dit neem geen ekstra tyd in beslag nie omdat alle veeboere se diere tog minstens een maal per jaar deur 'n drukgang moet gaan vir die gewone inentings.
Omdat die diere dieselfde tyd elke jaar geweeg word, is die totale groei die verskil tussen die vorige jaar se eindgewig en die huidige jaar se begingewig. Dit is egter nodig om die wins en verlies op die totale gewig te bereken. Daarom is dit van deurslaggewende belang om die gewig van alle diere wat op die plaas aangekom het en dié van vee wat bemark (en verwyder) is en dié van verliese (vrektes, ens.) in ag te neem.
As hierdie syfers bekend is, kan die
totale netto produksie (kilogram) soos volg bepaal word:
[begingewig - eindgewig] + [kilogram bemark - kilogram bygekoop] - kilogram verliese (vrektes).
Om die produksie (kilogram) per hektaar te bepaal, moet die totale netto produksie deur die aantal hektare gedeel word. Mnr. Van Zyl gebruik die totale gewig van vier kwartaallikse weegslae om die gemiddelde gewig vir die jaar te bepaal, wat dan gedeel word deur die aantal hektaar waarop geboer word om die belading te bepaal.
Die produksie (kg) per 100 kg belading kan soos
volg bepaal word:
[produksie (kg) per
hektaar] gedeel deur [belading (kg) per hektaar] x
100.
Dit is die doeltreffendheidsnorm van hoeveel vleis (kg) per 100 kg belading op sy veld geproduseer word.
Die afgelope jaar het mnr. Van Zyl in die distrik Vryburg 39,4 kg vleis per 100 kg belading op sy veld geproduseer. Dit beteken 'n opbrengs van 39,4 % op vleiskapitaal.
Sy mikpunt is stoetteling ter wille van voorsiening van bruikbare teelmateriaal aan kommersiële boere. Hy moet met sy bestaande hulpbronne doeltreffend vleis kan produseer, anders het hy nie 'n bemarkbare produk vir stoet- of kommersiële telers nie. "Ek het net twee produkte wat ek vir geld kan verruil: Vleis en teelmateriaal."
Omdat teeldiere een van sy hoofbronne van inkomste is, boer hy met geregistreerde Brahmane en Afrikaners. Hy het hierdie rasse gekies omdat die grootste deel van Suid-Afrika, Botswana en Namibië se klimaat, reënval en temperature vereis dat beesboere rasse soos dié moet gebruik om werklik aangepaste diere te kry wat vleis met die natuurlike hulpbronne kostedoeltreffend kan produseer.
Hy reken die vraag na sy teelmateriaal sal toeneem wanneer 'n volgende droë siklus nader kom. Sy teeldiere is reeds hoog in aanvraag weens sy seleksie vir vrugbaarheid, melk, temperament, produksie en gehardheid omdat hy die natuur met seleksie laat help. Die meeste van die teeldiere gaan na boere in sy onmiddellike omgewing.
Die feit dat die Suid-Afrikaanse vleisbedryf nie 'n standaard-meetstelsel het om sy opbrengs soos 'n graanboer in ton per hektaar te meet nie, is 'n leemte. Meting in kilogram per hektaar is ook nie heeltemal die regte standaard nie, want die omgewing verskil en kilogram per hektaar het ook 'n regstreekse invloed op hoeveel kilogram vleis wat geproduseer word.
Dit is nie volhoubaar om kg/ha (produksie) te verhoog deur die belading te verhoog nie. Die norm wat die beesbedryf behoort te gebruik, is vleisproduksie per 100 kg belading. Dan kan gestandaardiseer word. Hoe hoër dit volhoubaar is, hoe hoër is die winsgrens en dan kan die beste reproduseerder - ongeag ras - geïdentifiseer word.
Mnr. Van Zyl se belading van Mei 2001 tot Mei 2002 was 57,7 ha. Die produksie was 22,7 kg/ha, wat 'n doeltreffendheidsvlak van 39,4 kg per 100 kg belading was.
Die doeltreffendheid van sy stelsel kan ten beste geïllustreer word deur te kyk na wat tussen 1997 en 2002 op sy plaas gebeur het. In dié tyd het die gemiddelde koeigewig van sy wit Manso-Brahmane van 510 kg tot 485 kg en die rooi Brahmane van 508 kg tot 484 kg afgeneem.
Namate die gewig van die koeie met groter rame tot dié van mediumraamkoeie afgeneem het, het die produksie van 18,9 kg/ha tot 22,7 kg/ha gestyg.
Omdat die belading 57 kg/ha gebly het, het die aantal beeste toegeneem en die produksie-doeltreffendheid per 100 kg belading gestyg van 32,7 kg tot 39,4 kg - 'n styging van 6,7 kg per 100 kg belading.
Die beginsel van `hoe groter, hoe beter', wat jare lank nagejaag is, is in dié bestuursprogram as verkeerd bewys. Die koeie van 700 kg en swaarder is dié wat eerste uitgeval het.
Dít staaf die standpunt in dr. André Mentz se boek
Perspektiewe oor beesvleisproduksie
dat die eensydige strewe na groter produksie per individu, met ander woorde groter biokapasiteit, geen bydrae tot groter produksie per hektaar sal lewer nie en nie die doeltreffendheid van biogewig-insette sal verhoog nie. Daar kan dus nie sprake wees van beter bruto marges per hektaar nie. Dit kan net deur beter bestuur bewerkstellig word.
Die grootste voordeel van mnr. Van Zyl se stelsel is dat sentiment teenoor spesifieke diere geen rol speel nie. Almal word as "grasomskakelaars" bestempel, want hy verkoop net sy natuurlike hulpbron, naamlik gras, in die vorm van vleis. Die grootste waarde van dié stelsel is die bestuursinligting wat hy daaruit kry, waarvan die belangrikste is dat hy weet wat hy vir grond in die omgewing kan betaal om te koop of te huur.
Ongeag die teelwaarde van sy vee weet hy ook hoeveel vleis hy kan produseer. Hy kan 'n waarde daaraan koppel en sy begroting en kontantvloei behoorlik uitwerk.
Die vordering in die boerdery kan daarin gesien word dat hy oor die afgelope vyf jaar jaarliks 0,75 kg/ha meer geproduseer het. Oor die tydperk is dit dus 3,78 kg/ha meer. Teen 'n prys van R7/kg is dit R26,46/ha meer. Op 'n plaasgrootte van 5 000 ha bring dit hom dus R132 300 meer per jaar in die sak.
Vir vinnige vordering is dit belangrik om deeglik na die manlike teelpotensiaal in die kudde te kyk - nie op grond van skouprestasie nie, maar volgens Blup- of Breedplan-waardes, waarin die bul se melk- en groeivermoë onder ekstensiewe toestande weerspieël word. Die moeder se reproduksievermoë ten opsigte van die tussenkalftydperk is van deurslaggewende belang, so ook die hoeveelheid (kilogram) kalf gespeen ten opsigte van koeigewig.
Dit is van kardinale belang dat 'n ras of 'n kombinasie van rasse vir die betrokke omgewing aangepas moet wees. Omdat boere soms verkeerde rasse of raskombinasies kies, of swak bestuurstelsels het, word hulle gedwing om hul foute met graan of lekaanvullings reg te stel. Dit kos vleisprodusente jaarliks onnodig miljoene rande.
Verskillende produksiestelsels
Mnr. Jan van Zyl boer op afsonderlike plase met verskillende produksiestelsels: 'n Wit Brahman-stoetkudde, 'n rooi Brahman-stoetkudde, 'n Afrikaner-stoetkudde, 'n kommersiële kruisraskudde en 'n osproduksiestelsel. Só kan hy doeltreffend plaaseenhede en produksiestelsels en hul winsgewendheid bekyk.
Hoe meer inligting hy het, hoe beter kan hy bestuur. Daarom weeg hy alle beeste in die Vryburg- en Olifantshoek-gebied vier keer per jaar.
"Ek weet dat dié standpunt teen die gewone stoetveebedryf indruis. Ek glo egter stoettelers moet meer gefokus raak en leer wat die kommersiële telers se behoeftes is. Suid-Afrika het, met die beperkings van die natuur in ag genome, die beste vleisprodusente ter wêreld. Veekundiges en die Departement van Landbou kan van hulle leer."
Mnr. Van Zyl neem nie meer aan gewone skoue deel nie, want hy twyfel oor die meriete om aan individuele diere hoë kragvoer te gee. Sy "skou" is sy jaarlikse produksieveiling op sy plaas waar 200 tot 250 "beoordelaars" sy bulle en dragtige verse met hul tjekboeke "beoordeel". Die bul wat die hoogste prys haal, is die "opperste kampioen" en alle "beoordelaars" is objektief.
Hy sê prestasietoetsing is 'n hulpmiddel wat baie selektief en objektief gebruik moet word. Die dier wat in fase C die wenner is, is nie noodwendig die beste in ekstensiewe vleisproduksie nie. Hy doen ook geen fase D-toetse nie, want hy beklemtoon dat graanvoeding nie nodig en wenslik is nie. Sy diere kry dus in veldtoestande net 'n bykomende soutfosfaatlek. Paringsbesluite word met die hulp van Blup en Breedplan gedoen.
Sekere dele van mnr. Van Zyl se bestuursprogram is 'n roetine omdat sy werkers gemakliker is daarmee. Hy gebruik agt-kampstelsels en wissel elke Maandag, wanneer lekbakke hervul, waterbakke skoongemaak en getalle gekontroleer word.
Elke agtkampstelsel kry 'n bul en elke koei word op grond van voorkoms, Breedplan-waardes en prestasie van nageslag by een van die teelbulle geplaas. Hy gebruik nie dekseisoene nie, maar monitor alle koeie per rekenaar en met dragtigheidsondersoeke vir vrugbaarheid.
Omdat hy vir vrugbaarheid selekteer, het hy die vrugbaarste Brahmankudde in Suid-Afrika bo 800 diere. Seleksie vir temperament is ook belangrik en nie een van sy 1 800 geregistreerde Brahmane het 'n wilde of kwaai geaardheid nie.
Om arbeid en tyd te bespaar, word 'n sekere roetine gevolg wanneer die diere geweeg word. In Februarie word toetse vir tuberkulose en besmetlike misgeboorte gedoen, die diere word teen lam-/milt- en sponssiekte ingeënt en 'n rekonsiliasie van kuddelyste word vir genootskapdoeleindes gedoen. In die weke van 15 Mei, 15 Augustus en 15 November word die begin- en eindgewigte bepaal.
Met elke weegslag word koeie wat meer as 150 dae laas gekalf het, vir dragtigheid ondersoek. Alle verse bo 350 kg word uitgehaal om gepaar te word omdat alle verse van speentyd tot 350 kg in een trop loop. As 'n vers op 19 maande nog nie 350 kg weeg nie, word sy uitgeskot.
Alle kalwers van 9 maande tot 12 maande word by die koeitrop weggeneem. Dit het tot gevolg dat hulle natuurlik gespeen is van hul moeders omdat die moeder in die agtkampstelsel vir grootuiers is. Vir die neem van geboortegewigte kalf die koeie almal in een stelsel.
Alle kalwers se ID-nommers word binne die eerste twee weke ná geboorte in hul ore getatoeëer en oorplaatjies word aangesit. Kalwers word onthoring en gekastreer voordat hulle met hul ma by 'n bul geplaas word.
Mev. Irma van Zyl verwerk die syfers (produksie en reproduksie) op 'n rekenaar. Alle diere wat nie volgens hul produksiekriteria presteer nie, word uitgeskot. Met elke weegslag word kalwers volgens hul vaars gegroepeer sodat vasgestel kan word watter vaars die beste presteer.
Mnr. Van Zyl sê sy stelsel het geen nadele nie. Omdat hy vier keer per jaar weeg, is dit 'n bietjie meer arbeidsintensief, maar terselfdertyd bring dit ook besparings mee omdat soveel take dan gelyktydig gedoen word. Dit verg egter 'n hoë vlak van bestuur.
'n Tekortkoming is egter 'n gebrek aan rekenaar-programmatuur. Dit maak die administratiewe las baie groter. Een stelsel wat die stoet- en die gewigverwerking kon hanteer tot by kilogram produksie per 100 kg belading, sou die werk soveel makliker gemaak het.
Dit wek ook kommer dat sommige veekundiges nie in die resultate van die stelsel belang stel nie. Dit sou die bedryf bevoordeel het as daar groter interaksie tussen die stoetveebedryf en die kommersiële bedryf, en tussen veekundiges en boere is. Met hierdie konsep word teling, veekunde en weidingkunde saamgevoeg in een pakket. Dit bring balans en harmonie met die natuur en natuurlike hulpbronne.
"Dit sal 'n heuglike dag vir die vleisbedryf wees as die hele stoetbedryf gefokus raak op kilogram produksie per 100 kg belading - dus die doeltreffendheid van beesvleisproduksie. As daardie dag aanbreek, sal dit waarskynlik blyk dat inheemse rasse doeltreffender produseerders is as wat die siening tans is. Ons kan dan dalk ook besef dat ons te veel rasse of kombinasies van rasse het. Wat wel duidelik gaan wees, is dat die aangepaste diere binne 'n bepaalde omgewing die beste resultate gaan lewer en dat osproduksiestelsels dalk meer ekonomies as speenkalf-produksiestelsels is."
20
September 2002
Alle regte voorbehou. © Landbou.com 2011. In Suid-Afrika gepubliseer deur Media24