'n Wisselweistelsel vir wild is een van die interessante dinge wat dié boer, wat aangewys is as die Wildboer van die Jaar op 'n klein plaas, toepas. Hy spits hom toe op die teel van skaars wildsoorte, wat vir hom nuwe uitdagings bied.
Nadat hy twee keer 'n baie geslaagde tabakboerdery opgebou het, het mnr. Nico Risseeuw nou 'n wildboerdery begin om hom mee doenig te hou nadat hy die boerdery aan sy seuns begin oorgee het.
Hy het in Zimbabwe 'n baie geslaagde tabak- en beesboerdery bedryf. In 1977 het hy besluit die toekoms daar lyk nie goed nie en het hy hom by Marble Hall kom vestig, waar hy in 1979 sy eerste grond gekoop het.
Met sy kennis en ervaring van tabakboerdery (wat in Zimbabwe baie gevorderd was), het hy hier gou weer 'n soortgelyke groot boerdery op die been gebring en vandag bewerk hy en sy drie seuns sowat 350 ha waarop hoofsaaklik tabak verbou word.
Met die uitmeet van die persele van die Loskop-besproeiingskema is grond tussen die persele oopgelaat waar die boere se trekdiere kon wei.
Mettertyd is dié grond verdeel en as uitbreidings by die persele gevoeg. Hy het van die aangrensende grond gekoop en in 1988 met wild op dié sowat 900 ha begin boer, aanvanklik vir die plesier daarvan.
Nou het dit tyd geword om die boerdery stelselmatig aan sy seuns oor te dra. Hy het dus besluit om met skaars soorte wild te begin boer, wat 'n groter uitdaging is as die algemene wildsoorte wat hy aanvanklik aangehou het.
Van die begin af het hy sy eie wild volgens die passiewe metode gevang en self gaan aflewer by die kopers. Daarvoor het hy 'n tregter van bykans twee kilometer gespan wat stelselmatig smaller word en uitloop in 'n boma, met verskeie hokke waarin die diere bly totdat hulle weggeneem kan word, maar nooit vir langer as twee dae nie.
Hy lok die wild met voer en lekke by die bek van die lang tregtergang in. Dan gaan kyk hy soggens vroeg watter wild in die tregter is. As hy hulle wil vang, druk hy hulle stadig in die tregter af tot in die boma met sy bakkie en twee werkers wat aan weerskante loop.
Die boma bestaan uit 'n klomp hokke, met 'n gang wat in 'n sirkel daarom loop. Skuifdeure wat in die gang in- en uitskuif sodat die looprigting van 'n bok nie dramaties verander nie, maak die hokke oop en toe. Met die bokke wat in die gang beweeg, word die deure óf met toue óf met die hand geskuif sodat die diere in verskillende hokke inhardloop sonder dat hulle agterkom dat hulle van mekaar geskei word.
Dieselfde gang loop ook op 'n laaibank uit sodat die diere met groot gemak uit die hokke tot op die sleepwa kan stap waarmee Risseeuw hulle gaan aflewer.
Om dié boma is daar 12 klein kampies wat saam 1,6 ha groot is, en waarin wild wat 'n paar dae voor aflewering moet oorstaan, kan wei en beweeg.
Sowat twee jaar gelede het hy besluit om met skaars wildsoorte te begin boer. Dit was omdat hy met algemene wildsoorte, soos rooibokke, koedoes, waterbokke en rooihartbeeste, groter getalle en dus meer grond sou moes hê om winsgewend te kon boer. Terselfdertyd het hy na 'n uitdaging gesoek om iets nuuts te begin.
Hy het toe die getalle van sy algemene wild aansienlik verminder en in die bestaande wildkamp 'n kleiner kamp van sowat 300 ha afgekamp. Dít het hy in 'n wawielvorm met 12 kampies van nagenoeg 25 ha elk verdeel.
Tans het hy 18 bastergemsbokke, 30 njalas en 12 tsessebes in dié kampstelsel. Hy wil nou ook swartwitpense aanskaf. Mettertyd gaan die tsessebes na die oop wildkamp verskuif word sodra die rooihartbeeste daar verwyder is om plek te maak vir nóg skaars wildsoorte.
In dié kampies word die wildsoorte afsonderlik aangehou. Dit is omdat hy gevind het dat die een soort die ander oorheers waar hulle saam is en hulle dan nie gelyke toegang tot water en voer het nie.
Ál sy wild kry deur die jaar voer of byvoeding, na gelang van die omstandighede. Al is die veld hoe goed en welig, gee hy steeds 'n bietjie lek sodat die diere gewoond bly daaraan om voer te vreet.
Dít skep die voordeel dat as dit só droog word dat hulle voer moet kry, ken die wild dit en vreet hulle dit maklik. Dit stel 'n boer wat sy wild koop, ook in staat om die diere vir 'n aanpassingstyd én in droogtes te voer. Wild wat nie daaraan gewoond is om voer te vreet nie, staan dikwels bo-op uitgestrooide lusern en vrek van die honger.
In die kampies benut die wild ook nie die gras en bosse eenders nie. Die bastergemsbokke benut byvoorbeeld die rosyntjiebosse uitstekend, terwyl die njalas dit feitlik glad nie vreet nie. Daarom is Risseeuw se stelsel ingerig om die wild te wissel en die weiding optimaal tot sy volle drakrag te benut.
Om dít reg te kry, het hy die naafgedeelte van die wawieleenheid onder dak gesit en skuifhekke aangebring wat 'n hok vorm, en elke hek bied toegang tot een van die kampies.
Sowat 70 meter van dié hekke af waar die kampie breër begin word, is 'n draad gespan met 'n skuifhek teen elke syheining van die kampie. In die stuk tussen die sentrale hekke en dié draad is die voerplek en watersuiping onder 'n afdak geplaas.
Aan die einde van elke kampie (by die velling van die wawiel) is daar ook twee hekke wat in die twee aangrensende kampe inloop. Só kan 'n mens aan die binnekant van die buitenste draad óm die hele stelsel ry.
Wanneer die wild van kampe moet verwissel, maak hy die sentrale skuifhek van die kamp waarin hulle is, asook die hek van die kamp waarheen hulle moet gaan, oop. Die skuifhekke wat in die kleiner sirkelheining sowat 70 meter van die sentrale hekke af is, word met 'n tou uit 'n skuiling beheer.
Daar is dan vir die diere net een opening waarheen hulle kan beweeg en hulle loop normaalweg self in die nuwe kamp in. As dit nodig is, kan hulle deur die opening aangedruk word hulle word nooit gejaag nie.
Die algemene wild in die groter wildkamp kry elke jaar deur die swaar maande voer om te verseker dat hulle in 'n goeie kondisie bly om te paar én om van kleins af te leer om voer te vreet. Risseeuw gebruik tef en hawer daarvoor. Die tef is gewoonlik vroeg beskikbaar, en as dít gedaan is, is die hawer reg.
Met die passiewe vang van die wild sorg hy ook dat net een soort op 'n slag gevang word. Indien daar meer soorte is, word die wildsoorte afsonderlik gesorteer deur middel van die skuifhekke van die hokke waarin die diere staan.
Die skeidingsproses begin al in die veld as hy die wild in die lang tregter begin aandruk. Hy soek die wild sorgvuldig uit om te voldoen aan die bestellings wat hy het.
Omdat die sortering van die wild in die boma so maklik is, kan hy ook sorg dat manlike en vroulike diere apart in hokke ingekeer word.
Die gevangde wild bly so kort moontlik in die hokke. Hy probeer om net genoeg te vang om 'n bestelling uit te voer.
As daar 'n paar te veel is, loop hulle hoogstens 'n paar dae in die klein kampies om die boma.
Op dié manier kan hy wild aan sy klante lewer wat gewoond is daaraan om voer te vreet en wat dadelik sal vreet.
Hy glo 'n mens kan net suksesvol met wild boer as jy lief is vir diere. Hy glo ook die wild kan dit aanvoel. Daarby moet 'n mens wild hanteer as lewende diere wat ruimte om hulle nodig het. Dít is die grondslag van sy onderneming.
Alles is daarop gemik om die diere te bevoordeel en dit vir hulle maklik te maak om te oorleef en te produseer.
En dit is die hoofrede waarom hy aangewys is as die Wildboer vir 2003 (op 'n plaas kleiner as 2 000 hektaar), want enige wildboer wat na dié boerdery kom kyk, sal iets nuttigs daar kan leer.
28 Mei 2004