Deur GLENNEIS KRIEL
6 Augustus 2012
1267
keer gelees |
kommentaar
'n Heerlike biefstuk! Foto: NEVILLE LOCKHART
Watter beesras het die beste lendeskyf? 'n Restaurant in Johannesburg het nou 'n kompetisie om dit vas te stel!
Van die 24 potensiële beesrasse wat geïdentifiseer is om aan die Local Grill in Johannesburg se kompetisie deel te neem, het boere van twaalf van die grootste rasse al aangedui dat hulle nie bang is om hul naam op die spel te sit nie.
Mnr. Steve Maresch, die eienaar van die restaurant, sê dié twaalf is Angus, Bonsmara, Afrikaaner, Tuli, Boran, Drakensberger, Hereford, Dexter, Sussex, Jersey, Pinzgauer en Wagyu.
Landbouweekblad het met ’n paar van die boere gepraat wat gaan deelneem aan die kompetisie om te bepaal watter beesras die lekkerste lendeskyf (sirloin steak) maak, om vas te stel hoe die gemoedere loop.
Die kompetisie sal op 24 September tydens Nasionale Erfenisdag (ook Nasionale Braai- en Renosterdag) plaasvind op die Ultimate Beef-skou wat by die Birchwood-hotel in Johannesburg gehou word. Landbouweekblad is ’n mediavennoot van die skou. Bel Steve Maresch by 083 456 0252, vir meer inligting of e-pos info@ultimatebeef.co.za of gaan na die webtuiste www.ultimatebeef.co.za.
Afrikaner
Lauren Tissier praat namens die Afrikaner-beestelersgenoot-skap: “Ons is baie opgewonde oor die geleentheid om die ras te bevorder en dink ons staan ’n goeie kans om te wen. Die genootskap gaan ’n bees kies om die ras te verteenvoordig van een van ons lede wat reeds ’n restaurant van vleis voorsien. ‘‘Afrikanerbeeste se vleis is nie net van die sappigste van al die beeste nie, dit is ook baie gesond. Dit het lae cholesterol, hoë essensiële vetsure en bevat omega 3-vetsure. Dit is ook laag aan kilojoules en die vleis bevat geen groeistimulante of antibiotika nie.”
Boran
Quentin de Bruyn, eienaar van die Vastrap Boran-stoetery by Ladybrand, in die Oos-Vrystaat: “Ek dink die kompetisie is ’n uitstekende geleentheid om die Boran-beesras aan die publiek bekend te stel. Die beeste, wat van Kenia ingevoer is, is maar net vir die afgelope tien jaar in die land.
‘‘Ek weet nie hoe ons gaan vaar teen van die bekender rasse nie, maar meen dat Borans in die toekoms al hoe gewilder gaan raak omdat hulle baie gehard is en een van die min rasse is wat heeltemal op die veld afgerond kan word. Hulle kan derhalwe die mark vir organiese beesvleis en vleis van beeste wat op die veld afgerond is, domineer. Hulle lewer ook uitstekende resultate in kruistelingsprogramme.”
Drakensberger
Willie Landman praat namens die Drakensberger-beestelersgenootskap: “Die Drakensberger-raad het besluit om ’n bees namens die telersgenoot-skap in te skryf om die ras te verteenwoordig.
"Verskeie wetenskaplike studies het al bewys dat die Drakensberger een van die rasse is met die sag-ste en sappigste vleis. Die ras dra ook die geen vir tussenweefselvet wat steak so smaaklik maak. Ons glo dat die fynproewers wat as beoordelaars by die kompetisie gaan optree, die superioriteit van die ras se vleis sal bevestig.
‘‘ ’n Ander goeie punt is dat dit ’n inheemse ras is. Dit is dus goed aangepas by Suid-Afrikaanse produksietoestande en vereis min bykomende produksiemiddels.”