Boere van Amerika se suide en suidweste tot Mexiko steier onder ’n droogte wat op plekke as die ergste in menseheugenis, selfs vernietigender as wat die berugte Waaistofstreek in die 1930’s, beskryf word.
Hou hulle en voer hulle; verkoop; trek na gras toe; trek voerkraal toe; of berg embrio’s op. Dít is die Texas-voorligtingdiens in Amerika se vyf opsies aan veeboere wat nou al twee jaar onder die ergste droogte die afgelope eeu gebuk gaan.
Die opsies word op ’n Excel-spreiblad uiteengesit. Elke boer kan die koste van elkeen vir sy eie boerdery elektronies bereken en vergelyk.
Baie boere in dié staat, Amerika se voorste beesproduksiegebied en die Amerikaanse staat met die meeste plase en hektare landbougrond, het al die trekopsie gekies.

Vragmotor-konvooie
Duisende stuks vee is die afgelope maande in lang vragmotor-konvooie noord waarts vervoer, dikwels via die cowboy-roetes van die 1800’s, na state, soos Nebraska, waar droogte nie die weiding vernietig het nie.
Van die diere moet tot ’n duisend myl (1 600 km) ver vervoer word, en dikwels word verliese op die uitgerekte rit gely.
Die Chicago Tribune het onlangs berig dat die vraag na huurweiding en veeplase in Nebraska so skerp toegeneem het dat bitter min nog beskikbaar is. Nebraska se voorste veeproduksiegebied, die Sandhills, is oorvol.
Die Tribune haal ’n woordvoerder van die Sandhills-beesvereniging aan wat sê hulle sit met 46 versoeke van boere wat vanjaar somerweiding soek, maar geen weiding wat geadverteer word nie.
Nebraska se beeskudde het volgens die jongste amptelike statistieke verlede jaar met 250 000 stuks aangegroei. Die Texas-beeskudde, tradisioneel die grootste in die land, het met 1,4 miljoen stuks gekrimp – die skerpste jaarlikse afname sedert statistieke amper 150 jaar gelede begin hou is.
Die nasionale beeskudde het tot sy kleinste in 60 jaar gekrimp.
Beesveilings in Texas het teen middel verlede jaar al uit hul nate begin bars, maklik met sewe tot agt keer meer vee as wat gewoonlik te koop aangebied word.
Erger en erger
Veldbrande het die pyn vererger. Die nasionale departement van landbou het die hele staat in Junie tot ’n rampgebied verklaar. Texas-boere se verliese staan al op meer as $7 miljard.
Dit is die skadelikste droogte in die staat se geskiedenis, en ook die skadelikste nóg wat enige Amerikaanse staat getref het.
Ook gesaaides is swaar getref. Volgens die nasionale departement van landbou se statistieke is net sowat 57% van die 21,3 miljoen akker wat verlede jaar in Texas beplant is, geoes. Minder as 41% van die staat se katoen-aanplantings het ’n oes gelewer. In die staat Oklahoma is net 68% van die aanplantings geoes, en in Nieu-Mexiko minder as 60%.
In die aanliggende Mexiko is die voortslepende droogte, wat ook veroorsaak word deur La Niña (wat gewoonlik ondergemiddelde reënval in daardie dele bring), die ergste in meer as 70 jaar, word berig.
Volgens dié land se landboudepartement het sowat 60 000 beeste al weens die droogte gevrek, en ’n verdere 89 000 is geslag. Ander bronne meen die verliese is veel hoër, tot 1,7 miljoen beeste, berig die webtuiste Agrimo ney.com.
Hitte en droogte
Intussen word voorspel dat die hitte en droogte oor groot gebiede kan voortduur. Amerika het pas op drie na sy warmste winter nóg beleef, en dié land se amptelike weeragentskap, die National Oceanic and Atmospheric Administration (NOAA), verwag dat die bogemiddeld hoë temperature vir ten minste die volgende drie maande gaan voortduur.
Luidens een van die agentskap se jongste verslae, met vooruitskouings tot Mei, kan dele van Texas se noordooste, Oklahoma en Kansas wel verligting van die uiterste droogtetoestande verwag. Vir ’n groot deel van die land se suide, vanaf Kalifornië in die weste tot Florida in die ooste, is daar egter nog geen verligting in die vooruitsig nie.
Mnr. David Brown, direkteur van die NOAA se streekklimaatdiens vir die suide, het aan joernaliste gesê die historiese omvang van die droogte beteken ook die herstelproses sal besonder lank duur.
Die land se departement van landbou het in sy Maart-verslag oor landbouvoorrade aangedui dat Amerikaanse beesproduksie vanjaar selfs nóg kleiner gaan wees as wat verwag is. Vleisinvoer styg, maar nie genoeg om vir die laer produksie en voortgesette sterk uitvoer te vergoed nie.
Al wat effens verligting vir boere bring, is dat die ingekorte produksie pryse opjaag. Die departement voorspel dat Amerikaanse beesboere vanjaar ’n gemiddelde prys van tussen 124 en 131 Amerikaanse dollar per honderdgewig (cwt, gelykstaande aan 112 pond) gaan ontvang. In 2010 was dié gemiddelde maar 95 dollar, en verlede jaar was dit 110 dollar.
Wêreld-vleispryse
Dié hoë Amerikaanse vleispryse het nie ’n regstreekse uitwerking op Suid-Afrikaanse produsentepryse nie, hoewel dit wêreld-vleispryse in die algemeen ondersteun.
Suid-Afrika voer egter te min vleis in (minder as 10% van ons plaaslike produksie) om op ons plaaslike mark ’n verskil te maak. ‘‘Ons pryse is nou op veel laer vlakke as die Amerikaanse pryse,’’ sê mnr. Pieter Cornelius, landbou-markontleder van die maatskappy Agrimark Tendense.
Die droogte se uitwerking op graanpryse in Amerika het wel ’n groot invloed op Safex-pryse, wat bykans regstreeks deur bewegings op die Chicago-graanbeurs gelei word. Veral die tweede jaar van droogte in Mexiko kan Suid-Afrikaanse mieliepryse opwaarts stoot.
Dié land het die afgelope jaar skielik in ’n nuwe mark vir Suid-Afrikaanse wit mielies ontpop. Teen middel Maart het Suid-Afrika al meer as 1 miljoen ton wit mielies daarheen uitgevoer, en uitvoer duur steeds voort.
2 Mei 2012