Groot vraag na skaars nastergalkonfyt

Deur Lucille Botha
8 Augustus 2017
Marie de Jager van die distrik Amersfoort het in 2004 op baie klein skaal begin konfyt kook van nastergalbessies.

Lees hoe Marie dit reggekry het om haar onderneming te laat vlamvat.

Vertel meer van die besigheid se naam.
Zuidvaal verwys na ons plaas, Schuilplaas, se ligging, suid van die Vaalrivier.

Hoekom is nastergal so besonders?
Dis ’n wilde struik wat net in die Hoë­veld van Mpumalanga, dele van KwaZulu-Natal en die Vrystaat groei. Dit het as ’n onkruid in ons mielielande gegroei. Die pers bessies is baie klein en as dit ryp is, kan dit net met die hand gepluk word. Daarom is dit baie arbeidsintensief. Die konfyt het die allermooiste helderpers kleur en smaak heerlik op brood, skons, kaaskoek of oor jogurt en roomys.

Die onderneming het klein begin. Hoe het dit jou gehelp?
Alles was ’n leerproses en alles wat ek weet, het ek daardeur uitgevind. Ek weet ook nou hoe om vorentoe verder uit te brei. Ek wens wel ek het vroeër begin.

Waar het jy geleer om die konfyt te kook?
Ek het in 1976 as dorpsmeisie met my man, Kobus, getrou. Ons het by my skoonma in die huis gebly en een voordeel was dat ek allerhande vaardighede by haar kon aanleer, soos om nastergalkonfyt te kook. Destyds was nastergalbessies net op die wenakkers en kontoere van landerye te kry, en hoewel die konfyt gesog was, was dit skaars. Een kooksel het maar 10 heuningbotteltjies gevul.

Wanneer het jy besef die nastergalbessies kan tot ’n besigheid lei?
Nege jaar gelede het ek agtergekom die bessiesplante kan gekweek word. My man het dit spesiaal vir my aangeplant en my eerste “groot” kooksel was 300 botteltjies. Die nastergalaanplantings het elke jaar groter geword, en daarmee saam ook die konfytproduksie. Dit het al hoe meer werk geskep vir die vroue van ons en omliggende plase.

Hoeveel mense neem jy in diens?
Tydens die nastergalseisoen, wat twee maande duur, neem ons 155 werkers deeltyds in diens. Twintig werkers kook vier maande lank aan die ander soorte konfyt (soos perske, appelkoos, tamatie, appelliefie, marmelade, soet lemoen en makataan). Soos ek die werkers beter leer ken het, het ek hul sterk punte geïdentifiseer. Party is meer behendig agter die kookpotte en ander met die plukkery.

Waaraan skryf jy jou sukses toe?
Gehalte, kontinuïteit, ywer, trots en my persoonlike teenwoordigheid gedurende produksie.

Dit klink of jy uitbreidingsplanne het?
Ek wil graag skadunette oor die nastergalplante aanbring. Ek sal meer konfyt wil kook, maar my oë en hande moet altyd deel bly van die produk. Ek sal ook later my fabriek wil vergroot. My dogter is darem ook hier om te help met die uitbreidings en om ’n oog oor alles te hou.

Navrae: Marie de Jager, web: www.exoticjams.co.za; tel. 060 5185061; sel 082 723 5599.


Kommentaar

Kommentaar (2) “Groot vraag na skaars nastergalkonfyt

  1. Lampies.Lamprecht
    Lampies.Lamprecht

    Jy is geseend om dit te kook en te bottle
    Hoe kry n mens van dit in di hande
    Wat kos dit en stuur n pryslys aan
    Ons bly in die vaal driehoek vdblpark

    • Corli van der Merwe
      Corli van der Merwe

      Hallo Lampies. Jy kan meer inligting oor die konfyt kry by http://www.exoticjams.co.za/. Groete, Corli van der Merwe


Lewer kommentaar

Slegs in Afrikaans

Los 'n antwoord

Alle velde moet ingevul word.

Verwante artikels