18 September 2012
1362
keer gelees |
kommentaar
Die nuwe TD 5-trekker. Foto: VERSKAF
PROMOSIE: New Holland Landbou het die Lenteskou in Pretoria bygewoon om hul wye reeks brandstofdoeltreffende landboutoerusting uit te stal.
New Holland Landbou het saam met sy verspreider New Holland Suid-Afrika van 1 tot 6 September hul volledige reeks trekkers en oestoerusting tydens die Lenteskou ten toon gestel. Dié skou is by die Tshwane Events Centre in Pretoria aangebied.
Die fokus van die skou vir New Holland was die nuwe TD5-trekker, wat die ster van ’n bekendstellingsgeleentheid was. Die boere wat na die geleentheid genooi is, was baie beïndruk deur die nuwe reeks. Die drie sleutelmodelle van dié reeks wissel van 66 kW tot 83 kW.
Mnr. Ockert Scheepers, trekkerprodukbestuurder by New Holland Suid-Afrika, is baie ingenome met die sukses van die bekendstelling en die aandag wat die TD5 by die skou gekry het: “Die TD5 het baie belangstelling van ons gaste en besoekers aan ons kraampie gekry.
"Die reeks is die antwoord op Suid-Afrikaanse boere se behoeftes in hierdie kragsegment: ’n trekker wat terselfdertyd brandstofdoeltreffendheid, hoë werksverrigting en uitsonderlike gemak bied, tesame met ’n wye reeks opsies wat verskillende take op die plaas kan verrig – ’n ware veelsydige werktuig."
Veeldoelige trekker
Trekkers in hierdie kragsegment word nie net in die veld gebruik om te trek of te ploeg nie, maar ook in die voerkrale en vir lewende hawe. Aanhangsels soos ’n voorlaaigraaf is dus baie belangrik.
“Die TD5 is die enigste trekker wat regtig aan al die vereistes voldoen in hierdie taai kW-segment. Dis ’n trekker wat reg is vir enige taak,” verduidelik Ockert. “Dit bied uitsonderlike werksverrigting met die jongste Tier 3-enjintegnologie, lewer tot 16% verhoging in wringkrag, terwyl dit terselfdertyd tot 10% op brandstof bespaar, vergeleke met die TDD-model wat hom voor hom bekend gestel is.”
Die TD5 is beskikbaar met ’n kajuit sowel as met rolbeskerming (“ROPS”) en albei kom met ’n plat bak met hangpedale.
Bestuurdersgerief en ergonomie is ook ongeëwenaard, met ’n ten volle herontwerpte kontrole-uitleg. Die nuwe VisionView™-kajuit verhoog sigbaarheid en verminder geraasvlakke met tot 50%, vergeleke met die vorige model.
Perfek vir presisie-laaiwerk
’n Spesiale kenmerk wat ook nuut is by die TD5-reeks is die Powershuttle, wat perfek is vir presisie-laaiwerk. Vir die eerste maal bied New Holland ’n fabrieksgemonteerde voorlaaigraaf, spesiaal ontwerp vir die TD5.
Ockert voeg by: “Die nuwe TD5-reeks spog met ’n nuwe leier in sy reeks – ’n model wat 83 kW bereik en stewig gewortel is in die tradisie en leierskap van die legendariese New Holland 110-90-model.”
New Holland se volledige produkaanbod kan in die verskillende behoeftes van Suid-Afrika se diverse boerderytoestande voorsien: van die talle opkomende boere met klein plotte grond wat hul bedrywe wil meganiseer en meestal basiese, sterk, trekkers met meganiese tegnologie en kleiner kW vereis, tot die segment met die sterker kW, waar boere tegnologie, soos presisieboerdery om oeste en winste te verhoog, omarm.
Suid-Afrikaanse boere kom vandag teen baie tawwe uitdagings te staan en is voortdurend onder druk om uitset te verhoog om verhogings in insetkoste teen te werk. Om hierdie rede volg hulle ’n geennonsens-benadering wanneer dit kom by hul vereistes vir landboumasjinerie.
Ryk geskiedenis
“Ons is saam met Suid-Afrikaanse boere deel van ’n ryk geskiedenis wat baie jare teruggaan, met ons erfenis gewortel in die geskiedenis van die landboutoerustingbedryf. Ons vernuwe voortdurend ons aanbiedinge om by te hou by die veranderende vereistes en nuwe uitdagings. Vanjaar is ’n goeie jaar vir New Holland met die bekendstelling van twee nuwe reekse, naamlik die TT Compact en die TD5,” verduidelik Karl Engelbrecht, New Holland se trekkerproduk-bemarkingsbestuurder.
Die uiterste weerstoestande en voortdurende gebrek aan reën dwing Suid-Afrikaanse boere om vernuwend te wees in hul benadering, veral met die bewaring van vog en die benutting van die kort planttydperke.
Om hierdie probleme die hoof te bied, moet boere kan staatmaak op betroubare, sterk toerusting wat die beste in hul klas presteer, sowel as ’n ondersteuningsnetwerk vir rugsteundiens om die masjiene voortdurend aan die loop te hou.