|
|
|
| Bygewerk: | 23 May 11:00 IDT |
| Temp: | |
| Druk: | |
| Doupunt: | |
| Humiditeit: | 72% |
| Wind: |
Die gemiddelde kraglewering (in kW) van trekkers in Suid-Afrika het sedert 1995 met byna 25kW toegeneem, sê mnr. Lane Reynolds, voorsitter van die SA Landboumasjinerie-assosiasie.
Siklusse
“Die gemiddelde krag van trekkers het stadig maar seker in siklusse verhoog. Die eerste siklus (wat in 1995 begin het) het die gemiddelde krag van 70 kW tot byna 76 kW opgestoot voor dit einde 1997 tot net bo 71 kW geval het,” sê Reynolds.
“Die tweede siklus het in die eerste kwartaal van 1998 begin met die gemiddelde krag wat van 71 kW tot byna 77 kw aan die einde van daardie jaar gestyg het. Daarna het dit weer tot sowat 74 kW geval.
“Die derde siklus het in die vierde kwartaal van 2000 begin met die gemiddelde krag op 80 kW voordat dit tot net onder 75 kW gedaal het. ’n Vierde siklus het die gemiddelde engjinkrag tot 90 kW geneem.
’n Vyfde siklus het die enjinkrag tot 94 kW geneem en weer terug tot 90 kW voordat die nuutste en sesde siklus by 95 kW gedraai het voor dit weer ietwat gedaal het,” sê Reynolds.
Stelselmatige styging
Uit hierdie syfers kan beslis afgelei word dat die gemiddelde trekkerkraglewering in die SA Landboumasjinerie-assosiasie se databasis stelselmatig gestyg het. Dit is egter onseker hoekom dié siklusse voorkom.
Reynolds sê dit is ook opmerklik uit hul databasis dat die gemiddelde ouderdom van die trekkervloot stelselmatig jonger word.
“Van die tweede kwartaal van 2000 is daar ’n opmerklike verlaging in die gemiddelde ouderdom,” sê hy.
Die rede daarvoor is dat die hoë trekkerverkope van die vroeë 1980’s begin uitfaseer het, wat tot nuwer trekkers gelei het. Dié situasie het sowat ses jaar lank voortgeduur.
“Nadat die syfers van 2006 tot 2008 op omtrent 10 jaar gestabiliseer het, het dit weer geval tot 9 jaar. Sedertdien het dit ’n klein bietjie gestyg,” sê Reynolds.
24 Augustus 2011
Alle regte voorbehou. © Landbou.com 2011. In Suid-Afrika gepubliseer deur Media24
Kommentaar
Interessante artikel. Afname in bestaans-/privaatboerdery en toename in kommersiele boerderye kan die statistiek ook beïnvloed.
Lewer kommentaar. (Jy hoef nie ingeteken te wees nie.)