’n Leidende geo-hidroloog en ’n geoloog waarsku dat ’n oor-emosionele debat oor hidrobreking vir aardgas die Karoo meer kwaad as goed kan berokken.
Hy sê hy is ’n Karoo-kind. Dr. Danie Vermeulen het op die familieplaas by Carnarvon grootgeword en later daar en by Barkly-Oos in die Noordoos-Kaap geboer en boorgate geboor. Dit was voordat hy hom deeltyds as geo-hidroloog bekwaam en uiteindelik dié werk heeltyds begin doen het.
“Ek wéét wat beteken water vir die Karoo. En ek wéét dat waar daar water is, daar altyd ook emosie is. Maar ons kan dit (die beoogde hidrobreking) nie wegwens nie. Ons moet nugter daarna kyk en die emosie uithaal. Dit help nie om net op die ongunstige te fokus sonder om na oplossings te soek nie.”
Brandpunt
Vermeulen, hoof van die Universiteit van die Vrystaatse se instituut vir grondwaterstudies, het onlangs die Amerikaanse staat Pennsilvanië besoek om hom van hidrobrekingstoestande daar te vergewis. Dié staat is een van die brandpunte in die wêreldwye debat oor dié omstrede ontginningsmetode.
Die besoek is op Vermeulen se versoek met die hulp van kollegas in die gerespekteerde agentskap Amerikaanse Geologiese Opname (USGS) gereël, en het saamgeval met sy besoek aan die Universiteit van Minnesota, waar Vermeulen moes gaan klasgee.
Hy benadruk dat die Pennsilvanië-toer onafhanklik geskied het en dat hy sy Amerikaanse kollegas vertrou dat hulle hom nie ’n rat voor die oë sou probeer draai nie.
“Ek moes gaan om self na die feite te gaan kyk. As akademikus mag ek nooit kant kies nie, want dan verloor ek my geloofwaardigheid.” Wat hy daar gesien het, stem nie heeltemal ooreen met wat hy tot dusver hier op televisie oor die saak gesien het nie, sê Vermeulen.
Bewerings betwyfel
Eerstens meen hy bewerings dat boorgate weens hidrobreking met metaangas besoedel word, is eenvoudig onwaar. Amptelike statistieke toon dat tot 40% van die boorgate reeds met metaan besoedel was nog voordat met hidrobreking begin is.
“Dis ’n natuurlike verskynsel. In Suid-Afrika is ook baie boorgate wat natuurlik met metaan besoedel is.”
Hy het ook nog geen bewyse gesien dat die breking in Amerika in die dieper lae besoedeling van grondwater van onder af veroorsaak het nie. Hy meen dit kan onmoontlik in die Karoo gebeur dat grondwater weens die breking van onder af besoedel word.
“Daar is geen geo-hidrologiese wet wat dit sou toelaat nie.”
Verbeterde tegnieke
Vermeulen ontken nie dat die energie-maatskappye in die verlede baie foute gemaak het nie, maar meen hul tegnieke het veral die afgelope jaar drasties verbeter – grootliks in reaksie op die baie slegte publisiteit.
“Hulle het baie foute gemaak, maar nou werk hulle hard om dit reg te stel. Hulle het hard slae gekry en hul huiswerk gaan doen. Deesdae maak al die groot maatskappye dubbel seker dat niks verkeerd loop nie.”
Een verbetering wat hy gesien het, is dat vier pleks van twee voerings van verharde staal deesdae in die boorgate gebruik word. Hierdie voerings word teen ’n druk van 8 000 kPa getoets om te bepaal of hulle nie dalk lek nie.
Streng maatreëls
Voorts het Vermeulen gesien dat streng maatreëls nou getref word om oppervlakbesoedeling by die boorgate te voorkom. Al die toerusting rondom die gate is op dik plastiek-platforms wat die grond heeltemal bedek om te keer dat chemiese stowwe op die grond beland.
Hy meen ook die ontginningsmaatskappye kan ’n gebied waar geboor is rehabiliteer sodat bitter min van ’n voetspoor oorbly. Hy het egter twee groot struikelblokke vir hidrobreking in die Karoo geïdentifiseer. In die eerste plek meen hy die land het nie die nodige water daarvoor nie.
Net een boorplatform met ’n groep boorgate verg 90 000 kubieke meter water oor die sowat 45 dae wat die breking gedoen word om die aardgas beskikbaar te stel. Dit kom op 23 liter water per sekonde neer.
Tekort aan grondwater
Vermeulen meen die Karoo het nie genoeg grondwater daarvoor nie. Hy is nie eens ten gunste van besproeiing uit ’n Karoo-boorgat nie. Hy meen ook nie die Oranjerivier is ’n opsie nie omdat dié rivier nie altyd sterk genoeg loop nie en omdat hy meen dit sal onverantwoordelik wees om boere se potensiële besproeiingwater vir breking te gebruik.
Wat hulle wel kan oorweeg, is om seewater te gebruik, meen hy. Die Karoo is in elk geval op ’n eertydse seebed gevorm, en die Ecca-gesteentes waarop die gebied lê, is van nature hoog in natriumchloried (sout).
’n Nog beter opsie sou wees om die seewater te ontsout. Dit behoort sowat R150 000 per boorgat te kos. “Dink aan die reuse-wins wat ’n boorgat oplewer. Dit kos sowat $25 miljoen om ’n boorgat te ontwikkel. In die Golf van Mexiko kos dit $100 miljoen om ’n olieboorgat te ontwikkel. Die netto wins op ’n aardgasboorgat is rondom $100 miljoen. Wat is ’n ekstra R150 000 dan om die water te ontsout?” sê Vermeulen.
Paaie
Saam met die groot hoeveelheid water wat nodig is, kom die tweede en grootste struikelblok wat hy vir Karoo-breking voorsien: “As daar nie pypleidings gelê word nie, gaan daar ’n groot aantal swaarvoertuie op die paaie wees om die water na die boorgate te vervoer.”
Die water wat vir die breking onder ’n groep boorgate gedoen moet word, sal per pad vervoer moet word. Een groot tenkwa vervoer maar 20 kubieke meter water. Dit beteken 4 500 tenkwa-vragte water wat oor 45 dae na ’n groep boorgate aangery moet word.
Ook ’n eenvormige soort sand, wat sowat 10% van die breking-mengsel beslaan, moet aangery word. In Pennsilvanië word die water vir breking uit Minnesota aangery, sê Vermeulen. Daar word teerpaaie voor gebou, maar die afstande is baie korter as in die Karoo.
Pypleidings
Die Amerikaners is ook besig om op groot skaal ondergrondse pypleidings sowat 2 m onder die oppervlak vir watertoevoer aan te lê, maar intussen is die vragmotorverkeer steeds baie druk in dié gebiede.
Uiteindelik is Vermeulen se beroep dat behoorlike navorsing eers gedoen moet word voordat enige breking in die Karoo toegelaat word. “Die eenvoudige antwoord is, ons weet nie. Ek kan nie ’n antwoord vir of teen dit gee voordat behoorlike navorsing gedoen is nie.
“Ons hét die nodige kundigheid daarvoor, en die energie-maatskappye moet
daarvoor betaal. Anglo het al jare ’n toets-aanleg in die Waterberge waar hulle aardgas ontgin. Hoekom kan dit nie ook in die Karoo gedoen word nie?
“Bou vir ons ’n toetsaanleg in die Karoo dat ons dit eers vir vyf jaar kan bestudeer, en laat die energiemaatskappye daarvoor betaal. En as nie bewys kan word dat hulle ná die tyd die gebied kan rehabiliteer sonder om ’n voetspoor agter te laat nie, is dit ’n no go.”
Fokus op groter maatskappye
Sy voorstel is dat ’n voornemende prospekteerder swaar belas moet word om eers vir die vooraf-navorsing te betaal. As wel besluit sou word om ontginning toe te laat, moet net die groter maatskappye toegelaat word. Ondervinding in Amerika het gewys dat die kleiner maatskappye dikwels vir die meeste oortredings van omgewingswetgewing verantwoordelik is, sê Vermeulen.
Nog ’n voorvereiste is dat ’n heel nuwe stel wetgewing geskryf en ingestel sal moet word om breking in Suid-Afrika te reguleer. Dit moet selfs strenger as die Amerikaanse wetgewing wees, en ’n korps nuwe, behoorlik opgeleide amptenare moet aangestel word om dit af te dwing.
Dit kan ook uit belasting vanaf die energiemaatskappye gefinansier word.
“Ek is nie vir of teen breking nie. Al wat ek sê, is dat die regte prosedure gevolg moet word as dit wel gedoen word en dat die Karoo nie in die proses mag seerkry nie,” sê Vermeulen.
“Dit is goed om mense van die gevare bewus te maak, maar dit help nie om net emosies op te jaag en nie oplossings te soek nie,” waarsku hy.
Hou debat opbouend
Ook dr. Maarten de Wit, geoloog en direkteur van die wetenskaplike netwerk African Earth Observatory Network (AEON), pleit vir ’n konstruktiewer debat en groter belegging in navorsing oor die invloed van hidrobreking op die Karoo.
Hy skryf in ’n artikel in die SA Journal of Science dat die debatvoering oor skaliegas-ontginning in Noord-Amerika en Kanada net so emosioneel en soms net so irrasioneel as in Suid-Afrika is. ’n Belangrike verskil is egter dat die Amerikaanse debatte opbouend is.
Selfs met Suid-Afrika se beperkte internetbandwydte word die Amerikaanse styl van oop aanlyn-debatvoering hier gevolg, maar met ’n belangrike verskil: Die debat hier is meer op konfrontasie gegrond.
Gebrek aan kundigheid
De Wit vermoed dat dit weens ’n gebrek aan tegniese kundigheid oor hidrobreking en die gepaardgaande kwessies hier in Suid-Afrika is. Goeie, betroubare wetenskaplike inligting en kritiese evaluering onderlê die gesprekvoering in Noord-Amerika, en hulle het ’n groot korps goed opgeleide kundiges in die relevante velde daar.
Danksy hierdie ingeligte debatvoering kan ’n klomp “skerp, onafhanklike waghonde” die hidrobrekers dophou, foute uitwys en dan optree om te sorg dat dit reggestel word.
“Omgewingsbewustes en federale en staatsamptenare kan, byvoorbeeld, opmerk dat energiemaatskappye, soos Halliburton, diesel in hul brekingsvloeistowwe gebruik en die wet oortree. Die Noord-Amerikaanse kundiges se kennis dra genoeg gewig dat hulle energiemaatskappye met selfvertroue kan pak. Die reaksie daarop is vinnig en professioneel.”
Navorsing
De Wit wys daarop dat hy op ’n onlangse reis deur Noord-Amerika oral kollegas ontmoet het wat aktief navorsing oor die gevolge van hidrobreking doen. Party beskou dit as gemeenskapsdiens, en party hoogleraars aan top-universiteite pas hul kurrikula aan om in daardie behoefte te voorsien.
Een van hierdie wetenskaplikes is ’n wêreldbekende seismoloog wat navorsing begin doen het oor aardbewings wat veroorsaak word, nogal aan die Universiteit van die Witwatersrand.
“Sy soort kundigheid is wat ons ernstig in Suid-Afrika kort om te verseker dat ons nie deur die gesofistikeerde hulpbronne van internasionale kapitaal en besigheid mislei word nie,” skryf De Wit.
Voordelig?
Hy voeg by dat skaliegasontginning ongetwyfeld vir Suid-Afrika enorme ekonomiese en welsynsvoordele kan bring, veral in die Karoo waar armoede hoogty vier en die gaping tussen ryk en arm besonder groot is. “Maar waar begin ons as daar op die oomblik geen akademiese infrastruktuur in Suid-Afrika is om daarmee te handel nie?
“Ons het geen onafhanklike kundigheid oor skaliegas, breking of horisontale boor nie. Ons (akademiese) instellings het nie geïntegreerde gas-en-grondwatereenhede wat kan toets of brekingsprodukte ondergrondse waterbronne besoedel en die openbare gesondheid benadeel nie.
"Ons het ook nie nasionale of provinsiale (regerings-)agent-skappe wat dit kan doen nie. Sonder die hulp van duur oorsese konsultante kan ons geen verbod (op bepaalde chemiese middels in die brekingvloeistof) afdwing nie.”
De Wit meen ’n nuwe fase van belegging in wetenskap en tegnologie is nou nodig. Intussen moet Suid-Afrikaners noodgedwonge hul debat op voorbeelde uit Amerika en Europa grond en moet besluite oor hierdie
belangrike kwessies deur mense geneem word wat ’n paar kortkursusse bygewoon het, soos wat die Petroleumagentskap van Suid-Afrika se amptenare byvoorbeeld moet doen.
Hy waarsku ook dat ’n algehele verbod op breking nie in hierdie stadium noodwendig, soos wat radikale omgewingsbewustes voorstel, die oplossing is nie. Dit is iets waaroor Suid-Afrikaners dieper sal moet gaan nadink as hulle saamstem dat die land armoede en klimaatsverandering wil verlig en openbare oproer wil voorkom.
Lees De Wit se volledige artikel hier.
23 September 2011