Revolusionêre lem-ontwerp keer windskade

Deur Johan Norval
13 Desember 2016
Dié werktuig het vir ’n omwenteling in Schweizer-Reneke en omstreke gesorg deurdat dit windskade aan gewasse in sanderige grond voorkom.

’n Jong boer van Noordwes het as melkbaard ’n omwenteling in sy omgewing teweeggebring deur ’n eenvoudige werktuig te ontwerp wat windskade aan gewasse in sanderige grond voorkom.

Die windkeerwerktuig wat mnr. Davie van der Merwe van die distrik Schweizer-Reneke sedert 2014 ontwikkel het, word nou oral nagemaak. Selfs ingenieursondernemings op Vrystaatse dorpe maak dit op aanvraag.

Die ontwerp bestaan uit ’n werktuigbalk agter die trekker se driepunt, met windkeer-eenhede wat gegroepeer is na gelang van die rywydte tussen die gewasse. Elke skyfeenheid bestaan uit drie tot vyf lemskywe wat op ’n as tussen die laers aangebring is. Die skyf se lemme dring die grond sowat 5-10 cm diep in en laat ’n ry kluite agter. Dié rye kan windskade aan jong gewasse beperk.

Graanboere gebruik die werktuig gewoonlik ná ’n harde bui reën om ’n windversperring tussen die plantrye te bewerkstellig. Sandkorrels kan jong gewasse erg beskadig as die wind waai. Davie is trots dat sy vernuwende denke sy medeboere kan help. “Boerdery is nie maklik nie en ’n mens moet mekaar maar help waar jy kan.”

Dié 27-jarige erken ruiterlik dat hy nie sy tyd op die skoolbanke geniet het nie. “Ek het myself vakansies op die plaas afgesloof en in die kwartaal by die skool gaan rus,” spot hy. Een vak wat wél nuttig te pas gekom het, was tegniese tekeninge, wat hy kon gebruik om sy ontwerp noukeurig te beplan.

Die gemengde boerdery op Zitland bestaan uit gewasverbouing, wat hy hanteer, en die beesvertakking, waarna pa Davie sr. kyk. “Ons bedryf ’n oorlêstelsel waarvolgens ons probeer om jaarliks gewasse slegs op oorlêlande in ’n verhouding van 40% sojabone en 60% mielies te verbou.”

Hulle verbou al van 2013 af sojabone teen sowat 400 000 plante per hektaar.

Só het die saadjie ontkiem
In 2013 het hulle toenemend begin meganiseer en na selfaangedrewe spuite, wyer planters en werktuie vir presisiebewerking vir doeltreffender graanproduksie oorgeskakel. “Aangesien ons ’n stelsel van oorlêlande volg, waai die diep sanddele ons partymaal deurmekaar en rig só baie skade aan dat jy gewasse op groot dele moet oorplant.”

Op ’n keer in 2013 het hulle baie met windskade gesukkel. Die bestaande praktyk was toe om die wind met tandjiesbewerkings tussen die gewasrye te probeer keer. “Dit is ’n moeilike bewerking in die nouer rye, aangesien jy net teen sowat 6 km/h kan ry, anders gooi jy die klein saailinge toe,” sê Davie.

In dié stadium het hy verby ’n buurplaas gery waar die sandduiwels ook rondgewaai het. Die werkers het vroeër in die winter, wanneer hulle in dié geweste met kluite in die droë grond sukkel, die landerye voorberei.

“Omdat dit toe nog effe droog was, moes hulle die kluite net voor planttyd met ’n stronkkapper opbreek ter voorbereiding van ’n beter saadbedding,” vertel hy. “Tot my verbasing merk ek toe later op dat die uitwerking van die wind – danksy die gekapte rye – baie afgeneem het omdat die bolaag van die grond nie so erg verwaai het nie. Ek sê toe vir my pa ons moet so ’n werktuig bou wat rol en vinnig deur die landerye kan beweeg.”

Die ontwerpbeginsel
Sy eerste ontwerp van die windkeerwerktuig het hy ontwikkel deur dae en nagte planne te teken. “Ons het daardie ontwerp – wat hoofsaaklik uit skywe met lepelagtige plaatjies bestaan het, baie verander totdat dit in die huidige model ontwikkel het.”

Davie het ook goeie inspirasie op Amerikaanse webtuistes gekry deur navorsing oor werktuie met wye rame te doen.

Sy ontwerp bestaan uit ’n balk waaraan windkeer-eenhede gegroepeer is na gelang van die rywydte tussen die gewasse. Die eenhede bestaan uit drie tot vyf lemskywe elk wat op ’n as tussen laers aangebring is. Die skywe se lemme van geboë platyster herinner aan die lemme van gestremde naellopers.

In ’n windkeer-eenheid is die lemme só op die as gerangskik dat die eenheid ’n gemaklike rolbeweging kan uitvoer terwyl die punte van die lemme die grondoppervlak versteur.  Die balk van 21 m kan teen 15 km/h getrek word. “Dit is lekker vinnig en beteken ons kan die skade wat die wind aan ons saailinge aanrig, vinniger en beter beperk.”

Slegs vier trekkers met ’n wringkrag van minstens 100 kW elk is vir dié taak op Zitland nodig, teenoor die 10 of 12 trekkers van weleer met die tandjiebewerking.

Versprei soos ’n veldbrand
“Ons bure was baie beïndruk met die ontwerp en almal het belangstellend uitgevra.” Op ’n dag het ’n buurman ’n eenheid van die werktuig kom leen en vir hom ook een gebou en die volgende dag ’n ander buurman.

“Die ontwerp het soos ’n veldbrand deur die distrik versprei en daarna ook na dele van die Wes-Vrystaat. Die windkeerwerktuig is deesdae van Hoopstad tot Wesselsbron te sien, en ek het selfs een tussen Hertzogville en Dealesville sien loop.”

Veral vanjaar kom die nut van sy werktuig tot sy volle reg. “Met groot dele van die Wes-Vrystaat wat braak lê, en landerye sonder oesreste ná die swak vorige seisoen, kry ons baie windskade,” sê Davie. “Ek dink dis hoekom so baie boere nou dié werktuie bou.”

Davie se eerste werktuig, wat nog ’n balk met ’n werkswydte van 21 m het, het hulle sowat R110 000 gekos. Hy het toe nuwe materiaal gebruik. Van die ondernemers wat van die windkeer-eenhede vir boere maak, vra sowat R2 500 vir elke draaiskyf sonder die raamwerk.

Kyk na Johan Norval se video van die werktuig.

LBW vra . . . Mnr. Davie van der Merwe
Wat is jou beste boerderybesluit nog?
Om te meganiseer en presisieboerdery toe te pas, en om eerder oorlêlande vir graanverbouing te gebruik.

Wat is die beste raad wat jy nog gekry het?
Boerdery is nie altyd lekker nie, jy moet dit maar vir jouself lekker maak.

Wat is jou grootste probleme?
Ek dink die droogte van die afgelope paar jaar het almal geknou. Aangesien ons ’n stelsel van oorlêlande volg, waai die diep sanddele ons partymaal deurmekaar en rig só baie skade aan dat jy gewasse soms op groot dele moet oorplant.

En die grootste geleenthede?
Ek is bevoorreg om elke dag saam my pa, Davie sr., as my mentor te kan boer. Min mense kry dié geleentheid.

Navrae: Mnr. Davie van der Merwe, e-pos: davie.vdmerwe@gmail.com; sel 082 944 9219.


Lewer kommentaar

Slegs in Afrikaans

Los 'n antwoord

Alle velde moet ingevul word.

Verwante artikels