Die Wêreldbeker-sokkertoernooi is hier en die klank van vuvuzela’s kan regoor die land gehoor word. Die landbou staan ook nie terug nie en lede van Agri SA se leierskap het internasionale deelnemers en besoekers by die OR Tambo-lughawe in Johannesburg luidrugtig verwelkom met dié blaasinstrument.
Die vraag is nou: Wie is die koning van die vuvuzela?
Hier is twee videogrepe waarin mnre. Johannes Möller, voorsitter van Agri SA, en Hans van der Merwe, uitvoerende direkteur van dié organisasie, hul slag met die vuvuzela wys. Ondanks teenstand van ‘n groep Brasiliaanse aanhangers en hul eie blaasinstrument, die bazooka, in die agtergrond, kwyt die manne hulself goed van hul taak.
Wie dink jy blaas die beste? Stem deur kommentaar op hierdie artikel te lewer!
Mnr. Hans van der Merwe wys sy slag met die vuvuzela.
Mnr. Johannes Möller kry sy beurt.
Hoe vaardig is jy met ‘n blaasinstrument?
Is jy self ‘n talentvolle bespeler van blaasinstrumente? Het jy al die vuvuzela bemeester? Meen jy jy kan die Agri SA-manne ‘n ding wys?
Hier is jou kans om ‘n prys te wen met jou vaardighede!
Hoe werk die kompetisie?
Neem ‘n kort videogreep met jou selfoon van jouself of ‘n vriend wat ‘n vuvuzela blaas. Die videogreep mag nie langer as 30 sekondes wees nie.
Bêre jou video op YouTube.com en e-pos die internetskakel na foto@landbou.com. Die video sal dan oorweeg word vir publikasie op landbou.com.
Wees kreatief! Daar is baie interessante plekke om jou vuvuzela te blaas en as jy ‘n deuntjie kan speel, soveel te beter.
Die kompetisie sluit op 11 Julie 2010 en die wenner sal op landbou.com en landbou.mobi aangekondig word.
Landbouweekblad, landbou.com en landbou.mobi sal geen korrespondensie oor die kompetisie voer nie.
Die wenner sal, behalwe vir roem, ‘n lekker landbou.com-geskenkpakkie losslaan.
9 Junie 2010
Kommentaar
Ek dink Johannes is die wenner-vuvuzela-blaser :) Dis darem lekker om te sien dat daar mense is wat hulself nie so pynlik ernstig opneem dat hulle die vermoë om pret te hê verloor nie.
Ek is baie dankbaar dat Suid-Afrika se boere waardige leiers het in die persone van mnre Ben Marais en Bennie van Zyl van TLU SA.
Vet pret! Ek dink Hans vaar bietjie beter as Johannes, maar dis net omdat hy so 'n lang asem het (:)
Lewer kommentaar. (Jy hoef nie ingeteken te wees nie.)