Deur GERRIT SCHAAFSMA
17 September 2012

1278 keer gelees | 0 kommentaar

Lees in dié nuwe rubriek meer oor hoe tegnologie in die landbou ingespan word vir beter resultate op die plaas.


Herfs in Amerika is Apple-liefhebbers se gunstelingseisoen. Steve Jobs het jare gelede reeds begin om elke herfs ’n skou aan te bied waar die nuutste stuk wondertegnologie, soos die iPhone, die iPad en die iPod, aan die wêreld bekend gestel word. Steve Jobs is nie meer met ons nie, maar die tradisie wat hy begin het, duur voort.

Dié week het mnr. Phil Schiller, adjunkpresident van bemarking by Apple, die nuwe iPhone in San Francisco aan die wêreld bekend gestel. Dié iPhone het ’n groter skerm as sy voorloper en is ligter en dunner. Die foon weeg nou net oor die 100 g en het meer krag (computing power) as wat die algemene skootrekenaar drie of vier jaar gelede gehad het.

Maar wat beteken al die tegnologiese vooruitgang vir die boer? Is dit dan nie net nóg ’n duur speelding nie? Die kort antwoord is dat nuwe slimfone, soos die iPhone 5, dalk duur is, maar dat hulle ’n al hoe belangriker stuk toerusting in die boer se gereedskapskis gaan word.

Boere kan toepassings (toeps) wat op slimfone gelaai is, gebruik om hul plase beter te bestuur. ’n Toep is ’n rekenaarprogram wat vir ’n spesifieke doel ontwerp is en op slimfone en tabletrekenaars, soos die iPad, werk. Daar is meer as 700 000 toeps wat op die iPhone gebruik kan word, maar net ’n handjievol is vir boere van belang. Daar bestaan drie soorte boerderytoeps:

1.      Dié wat as ’n naslaangids dien.
2.      Dié wat produktiwiteit meet.
3.      Dié wat nuus en mark-data verskaf.

’n Plaaslike toep wat as naslaangids dien, is onlangs deur Pannar Saad ontwikkel. Dié toep gee boerdery-inligting oor verskeie soorte siektes wat mielieplante kan raak. Dit het foto’s en beskrywings van plantsiektes en is baie gebruikersvriendelik. Die toep is gratis en vereis nie toegang tot ’n selfoonnetwerk nie. Pannar gaan binnekort die toep opgradeer om ook inligting oor koring te verskaf.

’n Groep boere in Queensland in Australië het ’n toep ontwikkel wat veronderstel is om plaasbestuur makliker te maak. Dié toep, F-Trak Live, laat ’n boer toe om aan te teken wanneer hy nuwe diere koop, lande ploeg, gif spyt en brandstof gebruik. Boere kan só meer data oor hul boerderye versamel en só koste bespaar.

Die data kan op ’n rekenaar verwerk word. Die toep kan vir 30 dae gratis gebruik word (gebruikers moet daarna R250 per maand betaal) en werk ook sonder ’n internetverbinding.

DairyCents is ’n toep vir melkboere wat deur die landboudepartement by die Pennsilvanië-staatsuniversiteit in Amerika ontwikkel is. Die toep vra die melkboer se adres en inligting oor die koste van sy produksiemiddele. Die toep verskaf data oor die gemiddelde en verkoopspryse van produksiemiddele in die gebied asook vooruitskattings oor toekomstige pryse. Die boer kan dan onmiddellik sien hoe sy boerdery met ander melkboere vergelyk en beplan hoe om in die toekoms sy hulpbronne te gebruik.

Daar is ook die Landbou-toep vir ’n iPad wat deur Landbouweekblad ontwikkel is. Dié toep is ’n baanbreker in Suid-Afrika. Dit gee boere toegang tot meer inligting oor verskillende onderwerpe as ooit tevore. Die weer, ekonomiese en plaaslike nuus, inligting uit die argief en vele meer is op die toep beskikbaar – alles in ’n gebruikersvriendelike formaat.

Die landbou-toeps wat nóú bestaan, is net die begin van ’n revolusie wat boerdery gaan hervorm. Meer inligting, toeps en ander tegnologiese hulpmiddele as ooit tevore gaan aan boere beskikbaar wees. Die tegnologie gaan vinnig verander en sal binnekort ’n belangrike deel van elke boer se onderneming wees.

Die eerste boere wat duisende jare gelede ’n buffel ingespan het om ’n ploeg te trek, was besig om tegnologie te gebruik om sy boerdery te bevorder. Net so is byderwetse boere besig om slimfone en tablette te benut om hul boerderye die toekoms in te lei.

Gebruik jy ’n toep om jou te help boer? Stuur vir Gerrit Schaafsma 'n e-pos daaroor en ons vertel dalk jou storie in Landbouweekblad.

Bronne: Pannar Saad, The Land, Phys.org, Techradar.com
Kommentaar
Slegs in Afrikaans

Naam Kommentaar
E-pos
Tik in die nommers  

Kry ons op jou foon

Vind jou perfekte maat nou!

Ek is 'n:
Stel belang in:
Ouderdom: tot
Huidige
Ligging:
Wys net profiele met foto's

Teken in vir die nuusbrief

Teken in op Landbou se weeklikse nuusbrief deur jou e-posadres hier in te vul.

Lewende Hawe

Soort 14/05/13 21/05/13 %
Beesvleis A2/A3 2814c 2815c down 0
Speenkalf (lewend) 1583c 1552c down -2
Skaapvleis A2/A3 4428c 4430c down 0
Varkvleis (gem. prys) 1766c 1774c down 0.5
Braaikuikens 1483c 1512c down 2

Aandele

Pricecheck Flights