Wanneer 'n mens vir 'n toer voorberei - as toerlid of toerorganiseerder - is dit altyd met 'n bietjie van afwagting en kommer oor wat kan gebeur en gaan gebeur. Daar is soveel moontlike dinge wat kan reg loop of verkeerd loop veral wanneer 'n mens baie na 'n toer uitsien en daarvoor omgee.
Hierdie toer was geen uitsondering nie en soos altyd was daar oproepe, e-posse en boodskappe tussen al die dele van die toer - toerlede, organiseerders en logistiek - om seker te maak dat daar niks vergeet word nie. “Hoe lyk die weer?” “Watter inentings het 'n mens nodig?” “Hoe gaan dit met die staking?” “Is dit duur om daar te eet?” en nog vele ander vrae wat 'n mens natuurlik het wanneer jy 'n onbekende land besoek.
Die Sondagmiddag toe ek egter ons toerlede op die lughawe ontmoet, was alles gereed, die son het geskyn en die vliegtuig het selfs 'n uur vroeër geland. Nadat ek ons toerlede ontmoet het en vinnig gegroet het, soos dit maar altyd op die lughawe gaan met mense wat 'n mens vir die eerste keer ontmoet, het ons die bussie geneem vir ons rit na die hotel in die middestad van Buenos Aires - so 40 minute se ry.
Gemengde boerdery
Die Maandag oggend het ons mekaar om 07:00 ontmoet vir ontbyt net voordat ons met ons eerste beplande toeruitstappie begin het na 'n gemengde boerdery net buitekant die stad van La Plata 130km suid van Buenos Aires.
Op die plaas aangekom het Miguel Pertino ons ontmoet en tussendeur koffie, tee en máte het hy die vrae beantwoord en ons meer vertel van sy boerdery en boerdery in Argentinië oor die algemeen. Hy was baie dankbaar vir die milde reëns wat hulle die vorige twee weke ontvang het aangesien dit baie droog was en dit windpompe al begin sukkel het om water uit hulle 17m diep gate te trek.
Soos wat hy verduidelik het is hulle hoofinkomste vanuit die verkope van bulle uit hulle Aberdeen Angus stoet. Miguel is deel van 'n nuwe generasie Argentynse beesboere wat baie hard daaraan werk om die gehalte van die vleisbeeste te verbeter en sodoenende beter met saaiboerdery te kompeteer vir boere se aandag wat winsgewendheid betref.
Soos wat Miguel verduidelik het saai hulle ook mielies, koring en sojabone maar dit word hoofsaaklik net gebruik vir voeding afhangende natuurlik van graanpryse. Vir middagete het ons 'n heerlik skaap oor die kole geniet saam met 'n heerlike Malbec-rooiwyn wat Argeninië net soveel minder vreemd gemaak het vir almal.
10 000 beeste opgeveil
Dinsdagoggend was ons eerste besoek aan die Liniers Mark waar ons dit baie geniet het om 'n veiling te sien van 10 155 beeste vir Buenos Aires se vleismarkte. Hierdie mark hanteer 20% van die vleisbeeste in Argentinië en help om die 72.5kg beesvleis per persoon wat jaarliks deur elkeen van die 40 miljoen Argentyne geniet word, te voorsien. Dit was baie interessant vir ons groep toe hulle uitvind dat hierdie veiling net vir vleisbeeste is en dat elke een van die beeste wat verhandel word direk na die slagpales gaan.
Nadat ons die vroegoggend verkeer in en om die stad getrotseer het het ons die 150km tot in San Pedro afgelê waar ons middagete aan die oewer van die Río Paraná geniet het. Ongelukkig was die dag baie koud en reënerig en kon ons nie juis die uitsig waardeer nie. Hier het ons vir die eerste keer as groep in 'n restaurant 'n middagete geniet wat in ons standaard Argentynse ete geword het - sirloin steaks, aartappels en slaai saam met 'n Malbec rooiwyn wat af en toe met Quilmes bier agfewissel is.

Toerlede: Van links is Jan Schoonwinkel, Mike de Kock, Horst Hellberg, Hendrik Jordaan (toerleier) en dr. Adele Faul.
Twee ure later is ons klaar en het ons die 30km na die voerkraal van Mnr. Rivarola afgelê. Sy seun, Federico, wat nou die bestuur van die besigheid oorgeneem het het ons ontvang en lanks 'n kaggelvuur in hule konferensiekamer die basiese inligting vertel van hierdie 15 000 beeste groot voerkraal waar daar jaarliks 40 000 ontvang en vetgevoer word.
Na die verwelkoming het ons die koue en wind aangedurf en het Federico ons die voervoorbereidingsarea en krale gaan wys. Hierdie uitstappie wat as die koudste van die toer bekend geword het was baie leersaam en het gehelp om ons toerlede verder te laat verstaan waar die Argentyne al hulle beesvleis vandaan kry.
Ons het om ongeveer 19:00 in die hawestad van Rosario aangekom waar ons in die antieke boutique hotel Rosario Esplendor tuisgegaan het. Later die aand het ons die “mansion” restaurant Rock&Feller besoek vir ons “standaard” maaltyd.
Die volgende oggend, Woensdag, 23 September, om 09.30 het ons 'n afspraak gehad met die direkteur van Hawe Owerhede van die hawe van Rosario waar ons weereens vriendelik ontvang is. Die direkteur het aan ons verduidelik dat die goewerneur van die Provinsie van Sant Fe die enigste sosialistiese goewerneur in Argentinië is en dat hy dit as objektief gestel het om seker te maak dat die regering en private sektor so nou as moontlik saamwerk om maksimum effektiwiteit te verseker.
Goedkoopste tariewe
Skynbaar is die objektief van die Hawe Owerhede van Rosario om soveel moontlik van die uitvoere van die noordelike gedeelte van Argentinië te hanteer teen die goedkoop moontlikste tariewe. Elkeen van die toerlede het 'n boek oor die 100 jarige geskiedenis van die hawe as geskenk ontvang en daarna is ons vergesel na die graanterminaal. Hier het ons o.a. gesien hoe 30 ton grootlorries in 5 minute afgelaai word, hoe die graankwaliteit bepaal word en natuurlik ook hoe die graansilos gebruik word om gelyktydig vragmotors af te laai en 70 000 ton skepe te laai in die 18m diep Paraná Rivier.
Na hierdie besoek het die groep die middag vry gehad en het ons 'n bietjie gaan inkopies doen in hierdie tweede grootste stad van Argentinië, wat heeltmal meer aanvaarbaar is vir 'n Suid-Afrikaner wat 'n bietjie oorweldig voel deur die masiewe Buenos Aires. Hierdie was ook die eerste kans wat die toer gehad het om van Argentinië se beroemde roomys te geniet - wat soos die Argentyne sê - van Italië kom en hier vervolmaak is.
Teen 17:00 het ons na die plattelandse dorp van Venado Tuerto vertrek waar ons vir die volgende drie nagte sou oornag. Die hotel in Venado Tuerto is baie eenvoudig maar is skoon en netjies en die atmosfeer in die dorp laat enige boer dadelik tuis voel. Na 'n “standaard” aandete in 'n restaurant met die naam, “Die Koei” is ons bed toe om gereed te wees vir ons uitstappie die volgende dag.
Grootste boer
Carlos, 'n plaaslike landboukundige, het ons Donderdag oggend om 08:00 by die hotel ontmoet en saam met ons van daar af na die plaas van een van die grootste boere in die omgewing gery. Op die plaas aangekom het hy vir ons verduidelik dat die plaas 6000ha groot is en dat daar o.a. vleisbeeste, graan - mielies en soja en ook 'n melkery is.

Foto: Geenbewerking is hier die norm.
Die eienaar van die plaas kon nie self daar wees nie maar sy voorman, Alberto, wat reeds 50 jaar vir hom werk, het ons ontvang en die plaas gewys. Eerstens het ons na die vleisbeeste gaan kyk en Alberto het ons een van die drie drukgang-komplekse gaan wys wat hulle onder dak het. Verder het ons na hulle melkery gaan kyk waar hulle net besig was om die laaste koeie van die oggend te melk.
Ons laaste stop punt was om te gaan kyk waar hulle mielies plant d.m.v. die geen-bewerk metode en hier ook het Alberto genoem dat die vorige jaar verskriklik droog was maar dat die nuwe jaar belowend lyk.

Foto: Geenbewerking-planter.
Nadat ons gegroet het en Alberto vir ons elkeen 'n mini-mieliekop gegee het wat hy as 'n stokperdjie ontwikkel het, het Carlos ons verras met die nuus dat hy dit reggekry het om vir ons 'n besoek aan 'n skaapstoetery te reël. Vir die mense wat nie presies verstaan hoekom dit so besonders is nie kan ek net kortliks verduidelik dat Argentinië net 14 miljoen skape het. 95% hiervan is vir wolproduksie en is in die suidelike streek Patagonië geleë (ten minste 1500km van Venado Tuerto) en die res word op boere se plase aangehou in troppe van 10 of 20 skape indien jy dit sou kry.
Die plaas wat ons besoek het is net 25ha groot en dit word baie intensief bestuur om skoukwaliteit Hampshire Down voorbeelde te teel. Die lede van ons toer wat wel met skape boer was nie baie beïndruk met die idee van so 'n mini-boerdery nie, maar almal was dit eensgesind dat die werk wat op hierdie plaas gedoen word noemenswaardig is omdat daar regtig 'n intensiewe poging is om die Argentyne meer aan skaapvleis en skaapboerdery bloot te stel.
Na hierdie besoek was dit al redelik laat gewees en het ons teruggekeer na ons hotel toe waar ons afskeid geneem het van Carlos.
Planterfabriek besoek
Vrydag oggend het ons na ontbyt na die planter fabriek van Agrometal vertrek. Ons moes 'n goeie uur en 'n half reis om by die klein dorpie aan te kom waar hierdie fabriek geleë is maar ons het veilig daar aangekom. Nadat ons vir 'n paar minute gewag het is ons deur die bestuurder, Oscar, en die hoof van ontwikkeling ontmoet. Hulle was baie dankbaar gewees vir ons besoek en het verduidelik dat Agrometal die grootste planter fabriek in Argentinië is en dat hulle ongeveer 25% van die binnelandse mark voorsien.
Die eerste deel van die besoek aan die fabriek is gebruik om vir ons een van die fabriek se nuutste planters te wys. Hierdie model is 100% automaties en word deur 'n rekenaar en GPS satelliete beheer. Hierdie tegnologie is natuurlik nie oorspronklik van Agrometal nie maar hulle het die hele sisteem in hulle fabriek ontwerp en is gereed om alle aspekte daarvan te diens en die boer dus 'n 100% plaaslike diens te gee.
Hierna is ons deur die fabriek geneem waar ons kon sien hoe die 400 werkers en 'n goeie aantal robotte elkeen hulle deel doen om al die verskillende modelle “geen bewerking”-planters te bou. Gedurende die toer van die fabriek is aan ons verduidelik dat elke planter wat gebou is van die eerste dag reeds 'n eienaar en 'n einddoel het wat toelaat dat ekstra sorg geneem kan word om totale kliënte diens en kwaliteit te verseker.
As 'n beleid ontwerp Agrometal altyd nuwe en spesifieke planters wat gebou word volgens die vereistes van die spesifieke area, land of gewas waarvoor die implement gebruik gaan word. Van die interessantste planters wat ons gesien het sluit 'n planter in wat koring sowel as soja kan plant. Skynbaar word hierdie “alles-in-een” planters gebou om aan die aanvraag te voorsien van planters wat meer werk kan doen met 'n kleiner kapitale uitleg in 'n seisoen waar die droogte en graanpryse dit moeilik maak om geld te belê in van die heel groot modelle.
Suid-Afrikaanse mark?
Teen die einde van ons besoek aan die fabriek het Oscar aan ons meegedeel dat hulle graag die Suid-Afrikaanse mark sal betree en dat hulle graag sal wil hoor watter soort planters die Suid-Afrikaanse boer verkies.
Na 'n komplimentêre middagete by die dorp se restaurant het ons met die reis terug na Venado Tuerto begin. Op pad soontoe het ons egter eers, in die middel van siesta tyd, by 'n John Deere handelaar gestop waar ons groep dit baie geniet het om tussen hierdie wondermasjiene rond te stap en dit te vergelyk met wat in Suid-Afrika beskikbaar is. Die eienaar van die handelaars-agentskap was daar gewees en het van die geleentheid gebruik te maak om aan sy buitelandse besoekers hulle werkswinkel te wys wat pas deur John Deere van Amerika goedgekeur is as 'n “wêreldklas” fasiliteit.
Met alles gesien wat van belang is het ons verder gereis na ons hotel. Met ons aankoms in die dorp het ons eers vinnig gestop om die grootste fiets in die wêreld te aanskou - skynbaar so beskryf deur die Guinness World Records.
Saterdag oggend, met 'n heerlike sonskyn soos elke dag wat ons in hierdie landbou dorp deurgebring het het ons net na ontbyt vertrek terug na die groot stad van Buenos Aires. Voor ons vertrek wou party van ons groep eers 'n draai maak by die plaaslike geskenkwinkel wat om ongeveer 09.00 oop maak. Ongelukkig was hierdie 26ste dag van September dié dag waarop hierdie winkel 'n bietjie later as normaalweg oopgemaak het en het ons teen 09:20 besluit om maar in die pad te val sonder hierdie inkopies.
Argentynse platteland
Vandag moes ons net onder 400km aflê en aangesien ons genoeg tyd gehad het is ons met 'n pad terug wat ons meer van die Argentynse binneland sou wys. So besluit en so gedaan en nadat ons in Pergamino gestop het om na 'n paar indrukwekkende tapkarre te kyk en ons “standaard” middagete in San Antonio de Arreco geniet het het ons om ongeveer 17:00 voor ons hotel in die stad van Buenos Aires gestop.
Sommige van die groepslede het besluit om hierdie aand na 'n tangovertonig te gaan kyk en moes nog 'n bietjie inkopies doen voor dit so ons het ooreengekom om mekaar die volgende oggend om 10:30 te ontmoet vir ons afskeidsbesoek aan die rivierdelta area in Tigre.
Sondagoggend het bewolk, koud en reënerig aangebreek en was nie die laaste dag weer wat 'n mens graag sou wou gehad het nie. Die oorspronklike idee was om die delta area per boot te verken maar dit sou sinneloos gewees het met die bietjie uitsig wat daar was en ons het besluit om eerder die Vrugte Hawe in Tigre te gaan verken en om daarna middagete in 'n restaurant op die oewer te geniet.
Die besoek aan die Vrugte Hawe was aangenaam maar baie koud en almal was redelik bly gewees toe ons by die restaurant aankom waar ons weer eens kilogramme sappige Argentynse beesvleis kon geniet.

Foto hierbo: Braaivleis, op die Argentynse manier.
Om enige probleme met die verkeer en die weer uit te skakel het ons vroeg die laaste 50km rit na die lughawe aangepak maar daar was gelukkig geen rede vir kommer nie. Die agtermiddag son het vir ons gewag op die lughawe en ons het mekaar met 'n glimlag en 'n effense hartseer gegroet na hierdie wonderlike week wat ons saam in Argentinië se boerderywêreld kon spandeer.
• Hendrik Jordaan het hierdie artikel geskryf en die foto's geneem. Hy is ‘n toeroperateur in Buenos Aires en hierdie was die tweede boeretoer wat hy namens landbou.com gereël het. Kontak hom by: landbou@laurik.com.ar of www.laurik.com.ar of per telefoon by 0054115941 9637 by Laurik International.
20 Oktober 2009