Internet in die stal. Foto: www.connectyourhome.com
Kan jy glo: Bekostigbare, breëband-internet vir plattelanders is glo net om die draai, sê dié maatskappy.
’n Nuwe breëband satellietdiens, wat veral plattelanders sal bevoordeel, begin op 1 Augustus. Dié diens van Vox Telecom sal die eerste in sy soort in Suid-Afrika wees.
Voglens mnr. Jacques Visser, projekbestuurder van Vox Telecom, besef min mense dat bestaande internet-verbindings meetal die hoofsentra in Suid-Afrika bevoordeel en nie die platteland nie. Die doel van die satellietdiens is juis om hierdie kapasiteit te versprei.”
Hy sê dat talle kleiner, koordlose internet-maatskappye tans probeer om die plattelandse mark te diens. ‘n Groot behoefte bestaan aan ’n bekostigbare internetverbinding op die platteland. Ongelukkig is daar tot dusver net op die stedelike gebiede gefokus, omdat dié areas as meer winsgewend beskou word.”
Tot voordeel van platteland
Visser is opgewonde oor wat die nuwe diens, genaamd YahClick, vir die Suid-Afrikaanse ekonomie gaan beteken. “Volgens die Wêreldbank verhoog ‘n ontwikkelende land se ekonomiese groei met 1,3% elke keer as toegang tot breëband internet met 10% toeneem. Ons dink byvoorbeeld aan die moontlikhede wat bestaan vir die toerismebedryf, skole, nywerhede en selfs mediese beroep. Dokters op die platteland kan nou video-beelde van ernstige gevalle na spesialiste in die stad stuur om hulle menings te kry. Boere kan hulle produkte oor die internet verkoop. Dit bied ook toegang tot e-opleiding in dié gebiede. Dienste wat nie voorheen beskikbaar was nie – soos Stem-oor-Internet-Protokol oproepe (“VOIP”), video-konferensies, virtuele private netwerke en selfs ’n algemene program soos Skype - kan nou gebruik word.”
Visser waarsku egter dat hulle nie beplan om ADSL te vervang nie. “Ons wil bloot verbruikers op die platteland die geleentheid gee om dieselfde dienste te gebruik wat reeds in die stad bestaan.”
Skottel en toerusting
Diegene wat van die diens gebruik wil maak, benodig ’n satelliet-skottel en toerusting, wat Vox sal verskaf. Die toerusting kan óf aangekoop óf gehuur word. “Ons doel is om so bekostigbaar as moontlik te bly,” sê Visser.
Alhoewel YahClick deur bestaande @lantic en Vox verkoopskanale versprei sal word, word daar ook voorsiening gemaak vir kopers in afgeleë gebiede. Die diens gaan ook by talle landbouskoue regoor die land demonstreer word. “Ons wil so na aan die verbruiker as moontlik bly en het reeds 150 installeerders en tegniese beamptes in die platteland geplaas om installasies te doen en diens te lewer.”
Navrae: Mandy Graham, tel: 021 683 8223; sel 082 932 9972; e-pos: mandy@duomarketing.co.za