Boerdery word tradisioneel as meer as net ’n beroep beskou. Dit is ’n lewenstyl. Anders as byvoorbeeld rekenmeesters of prokureurs wat op sagte leerstoele in lugverkoelde kantore werk, is die landbou ’n beroep wat dikwels fisieke inspanning verg. Boere moet elke oggend hul huise verlaat en na die stand van sake op hul plaas kyk. Maar hoe lyk die toekoms? Gaan boere binnekort eerder lessenaars as trekkers bestuur? John Deere dink so en is besig om dit ’n werklikheid te maak.
In ’n advertensie wat dié werktuigvervaardiger vir die mark in Amerika geskiet het, beeld dit ’n toekoms uit waar die rol van die boer oorgeneem is deur ’n rekenaar en die boerdery heeltemal gemeganiseer is. Al wat ’n boer hoef te doen is om ’n rekenaar se besluite goed te keur. Hy hoef feitlik nie die huis te verlaat nie.
Boerdery is reeds besig om in dié rigting te beweeg en met goeie rede. Presisieboerdery is een van die belangrikste neigings in die landbou oor die wêreld heen. Dit het ontstaan as gevolg van die inligtingstegnologie-revolusie wat reeds in die 1960’s begin het toe die eerste satelliete gelanseer is. Globale Posisioneringstelsels (GPS) en Geografiese Inligtingstelsels (GIS) het dit maklik en goedkoop vir boere gemaak om gedetailleerde inligting oor hul boerderye te bekom. Data wat oor toestande op plase versamel word, kan saam met satellietkaarte gebruik word om boere ’n baie beter idee te gee oor grondtoestande, plantegroei, watergebruik, die moontlike oes en veel meer.
Die data word met rekenaarprogramme verwerk om nuttige inligting aan die boer te verskaf. Die voordele van presisieboerdery kan enorm wees omdat dit boere in staat stel om, waar nodig, in te gryp en spesifieke probleme op te los. Boere kan data insamel oor landerye en tot die naaste vierkante meter bepaal watter areas meer kunsmis nodig het as ander. Dan kan hulle hul werktuie programmeer om verskillende hoeveelhede kunsmis op die verskillende areas toe te dien. Die werktuig kry inligting van ’n GPS oor presies waar dit op die landery is en sal outomaties die kunsmis op die regte plek toedien. Een van die dae sal ’n boer nie eens die studeerkamer hoef te verlaat om sy boerdery te bedryf nie.
Maar wat gaan verlore as gevolg van al die tegnologiese vooruitgang? Wat van die band wat die boer met sy plaas het? Baie boere dink graag aan hulself as rentmeesters van die land en heg groot waarde aan die noue band wat hulle met hul grond het, ’n band wat dikwels al geslagte lank gevestig is. Wat gaan in die toekoms van dié verbintenis word?