Hoe gemaak met die nuutste polisie misdaad-statistieke wat pas verskyn het? Het misdaad toegeneem of minder geword? En die groot vraag waarin boere belangstel: Wat sê dié syfers oor plaasaanvalle, indien enigiets?
Touchlab, ’n afdeling van Media24 wat fokus op digitale toepassings, het pas ’n nuwe webtuiste bekend gestel wat poog om juis dié soort vrae te beantwoord.
Dié baanbreker-webtuiste wat Touchlab ontwikkel het, gebruik misdaadstatistiek wat deur die SA Polisiediens bekend gestel is, tesame met Google Earth-kaarte. Die webtuiste wys op nasionale, provinsiale en stasievlak wat watter soort misdaad in Suid-Afrika gepleeg word.
Op dié webtuiste word misdaad op ’n Google Earth-kaart aangedui. Verskillende kleure word gebruik om die frekwensie waarmee sekere misdade in ’n geografiese gebied plaasvind, aan te dui. Verskillende misdade, van moord tot veediefstal, kan só ontleed word. Dit is ook moontlik om die langtermyn-misdaadneigings te ontleed deur middel van ’n grafiek wat die laaste 10 jaar se statistiek vertoon.
Debat oor veediefstal
Die onlangse debat oor veediefstal wat in Landbouweekblad plaasgevind het, is makliker om te verstaan met die kaart en grafiek as hulpmiddel. Die langtermyn-neiging vir veediefstal is volgens amptelike SAPS-data aan die toeneem. (Die meegaande skets dui die verspreiding van veediefstal op die webwerf aan.)

Die groot vraag wat die webtuiste nie kan beantwoord nie, is oor die aantal plaasaanvalle wat plaasvind. Daar is ’n algemene persepsie, veral onder boere, dat plaasaanvalle toeneem, nie net in getal nie, maar ook in brutaliteit. Omdat die Polisie nie spesifiek inligting oor plaasaanvalle bekend maak nie, is dit moeilik om enige gevolgtrekkinge oor dié soort misdaad te trek.
Hierdie projek wys hoe tegnologie en statistiek (wat beide vrylik beskikbaar is) ingespan kan word om landsburgers ’n beter idee te gee oor wat regtig in die land aan die gang is. Suid-Afrikaners is bekend daarvoor dat hulle so terneergedruk oor misdaad voel dat hulle dikwels nie meer gevalle van misdaad by die Polisie aanmeld nie.
Die volgende stap is om ’n parallelle webtuiste te skep wat statistieke oor misdaad van burgerlike verenigings insamel en dit op dieselfde manier te verwerk. Dalk sal ’n webtuiste wat misdaad-inligting direk van burgers insamel, ’n beter prentjie van die land skets om die Regering se aandag te trek.