Die sterstatus van grond is iets waarvan vele boere al lank bewus is en waaroor hulle, soos tipiese aanhangers, elke dag meer wil weet. Soms hang hulle selfs prente van die ster teen hul kantoormure!
Nou speel grond die hoofrol in ‘n nuwe rolprent. Dirt! The movie is ‘n dokumentêre prent gebaseer op William Bryant Logan se boek, Dirt: The ecstatic skin of the earth.
In dié prent vertel boere, wetenskaplikes en aktiviste dat beskawings al tot ‘n val gekom het omdat hulle die grond uitgeput het en erosie veroorsaak het. Hulle spreek ook kommer uit oor hoe die manier waarop ons grond gebruik, letterlik die vesel van lewe uitmekaar skeur en hoe dit nie weer aanmekaargesit kan word nie.
“Die aarde protesteer, maar ons hoor nie, want ons verstaan nie haar taal nie,” merk ‘n Argentynse akkerboukundige in die film op.
Daar is eweneens vrese dat landbou gebaseer op monokultuur nie die gevolge van klimaatverandering sal kan weerstaan nie. Prof. Miguel Altieri, professor in landbou-ekologie (agro-ecology) aan die Universiteit van Berkeley, in Kalifornië, sê dat ‘n verskeidenheid inheemse plante klimaatverandering aansienlik beter sal weerstaan as monokultuur.
Volgens mnr. Wes Jackson, hoof van die Land Institute in Amerika, is vernielende ekonomiese stelsels besig om hul einde te bereik en sal mense voortaan moet leer om meer spaarsamig met alle natuurlike hulpbronne om te gaan.
Op ‘n meer positiewe noot toon die prent hoe stedelike gemors in ‘n tuin omskep word, hoe kinders kalmer en minder aggressief raak as hulle tuinmaak en hoe gevangenes se ingesteldheid teenoor die wêreld verander as hulle spit, skoffel, plant en pluk.
Op die ou end is dit wat ons bo-op die grond sien groei en vrugte dra, verbind met dit wat onder die grond gebeur.
Lees meer oor die film op www.dirtthemovie.org.
17 Augustus 2010
Kommentaar
Lewer kommentaar. (Jy hoef nie ingeteken te wees nie.)