Vyf windplase gaan moontlik binne die volgende twee jaar op plase in die Noord- en Wes-Kaap opgerig word, sê G7 Renewable Energies.
Luidens ‘n berig op Engineering News Daily het die maatskappy bevestig dat hy voortgaan met die ontwikkeling van die windplase.
Advertensies waarvolgens openbare kommentaar gevra word oor die vyf stukke grond waarop die windplase opgerig gaan, is gepubliseer. Dié grond sluit in plase naby Lambertsbaai, Klawer, die Richtersveld, Witberg en die Roggeveld.
Die kies van grond
Die spesifieke grond is gekies met behulp van ‘n windatlas wat dr. Kilian Hagemann, direkteur, saamgestel het. Volgens die tesis kan windkrag gebruik word om 35% van die land se krag op te wek.
Die hoeveelheid wind wat in die land waai verskil wel van seisoen tot seisoen, maar die verskille stem egter ooreen met kragverbruikpatrone, met veral hoër verbruik in die winter. Die Suid-Afrikaanse Windenergievereniging (Sawea) het bereken dat sowat 25% van die land se kragaanvraag teen 2025 deur wind verskaf kan word.
Goedkoper opsie
Mnr. Nicolas Rolland, direkteur, sê dié tipe elektrisiteit gaan ook meeding wat die koste verbonde aan steenkool-opgewekte krag aangaan.
Rolland reken al die kostes in ag geneem, kan windkrag R1 tot R1,25 goedkoper wees as die krag wat by Kusile opgewek word.
27 Julie 2010
Kommentaar
Lewer kommentaar. (Jy hoef nie ingeteken te wees nie.)