|
|
|
| Bygewerk: | 23 May 11:00 IDT |
| Temp: | |
| Druk: | |
| Doupunt: | |
| Humiditeit: | 72% |
| Wind: |
Kry nou Landbouweekblad-artikels en veel meer op die wêreld se nuutste tegnologiese ontwikkeling, ’n tablet-rekenaar.
Die nuutste, beskikbare tegnologie is ’n landboutoepassing (application) vir die iPad (die tablet-rekenaar van Apple, een van die wêreld se voorste rekenaar- en tegnologiemaatskappye).
Wat help dié toep jou?
Die toep (app.), is ’n poort tot ’n magdom betroubare en nuttige inligting oor die landbou– van ’n argief van Landbouweekblad-artikels, intydse kommoditeitspryse en ’n besondere weeraanbieding. Die toep se naam is Landbou.
Dit bied die volgende:
’n Soekfunksie wat ’n mens toelaat om ’n snelgroeiende argief van die afgelope jare se Landbouweekblad-artikels deur te soek vir inligting aan die hand van onderwerpe, skrywers of publikasiedatums. Gebruikers kan gunsteling-artikels boekmerk vir latere gebruik of vir naslaan. Die artikels kan met die tik van ’n vinger per e-pos versend word.
Die Landbou-toep bied ‘n ongelooflike weerdiens aan. Dié diens is afkomstig van die Noorweegse Weerdiens, wat dit moontlik maak om tot op plaasvlak jou weer te kan lees. As jou iPad ‘n GPS het, druk die "GPS" knoppie links bo in die skerm waar nuwe stasies byvoeg word, en hy wys jou alle weerstasies wat naby jou ligging geleë is. Of tik enige plaasnaam en druk die soek-knoppie. Dié diens behels onder meer ’n voorspelling vir die volgende ses dae, asook ander nuttige inligting, soos humiditeitsvlakke, doupunt, lugdruk, brandgevaar, windspoed, en -rigting, verwagte neerslae en die minimum en maksimum temperature.
Deurlopende beskikbaarheid van graanpryse op Safex. Dié pryse is 15 minute ná verhandelings in die toep beskikbaar en vertoon die aantal kontrakte wat beklink is, die geldwaardes daarvan, asook aanduidings van prysbewegings.
Deurlopende beskikbaarheid van alle aandelepryse op die JSE. Dié aanbieding sluit die daaglikse verhandelinge in asook die finansiële inligting van elke genoteerde maatskappy op die beurs, wat tot vyf jaar terug strek.
Veilingspryse van lewende hawe op enkele weeklikse veilings, soos Kroonstad, Kimberley en Gouda, is beskikbaar, asook saamgevatte nasionale pryse vir beeste, skape, varke en hoenders.
’n Kraakvars digitale aanbieding van Landbouweekblad se gewilde geklassifiseerde advertensies. Dié advertensies word via die nuwe webwerf, http://geklassifiseerd.landbou.com, in die toep op die iPad vertoon. Die ligging van elke adverteerder word op Google Maps op elke advertensie aangedui. Soek hier vir nuttige winskopies per kategorie of gebied of laai en betaal self advertensies.
Laastens kan gebruikers van die iPad met die tik van ’n vinger op Landbouweekblad se Facebook-bladsy sommer met die deur in die huis val vir ’n heerlike saamgesels met die fb-gemeenskap.
Boere toets
Enkele gelukkige boere oor Suid-Afrika toets elk ’n iPad vir Landbouweekblad. Hul waarnemings en gevolgtrekkings oor dié streelpaneel sal in opvolgende artikels en berigte in die tydskrif gepubliseer word.
Landbouweekblad het ’n gespreksgroep geskep vir boere wat ’n iPad het. Die nuwe landboutoepassing word onder meer bespreek en die groep gesels oor moontlike toeps vir die landbou en boerdery. Boere wat ’n iPad het en aan dié forum wil deelneem, kan hul besonderhede aan janbez@landbou.com stuur.
Die iPad en die landbou: Hoekom?
Met die koms van die tabletrekenaar het die woord “spelbreker” in die gange en raadsale van menige mediamaatskappy weerklink. Media24 (eienaar van Landbouweekblad) het ’n geleentheid daarin bespeur en ’n spesiale afdeling, Touchlab, op die been gebring om dié iPad-platform te benut vir toepassings (Engels: apps) vir sommige van sy titels. So is ’n toep vir die landbou geskep.
Maar hoekom die landbou? Me. Leo Redelinghuys, hoof van Media24 se Touchlab, sê ’n sameloop van faktore het tot dié besluit gelei.
“Boerdery is ’n absolute nismark en vandag se landbouers is gretig om nuwe tegnologie te beproef en te benut. Ons beskou boere as ‘early adapters’.
“Tesame met die unieke inhoud wat Landbouweekblad aanbied, is besluit om ’n toep vir die landbou te ontwikkel en is geredeneer dat boere dié toepassing sou omarm. Ons het dit uitgebou om ander elemente wat van belang in boerdery is, in te sluit.
“Media24 plaas nou ’n groot fokus op innovasie in die tabletrekenaaromgewing. Die siening is dat die toekoms in tabletverwante drukprodukte lê, soos om digitale publikasies op tabletrekenaars te lees.”
Nie net die iPad...
Hoewel die iPad die gekose medium vir die landbou-toep is, kom Android-platforms ook in die prentjie en Touchlab sal voortaan ook aandag daaraan skenk.
Daarvoor is terugvoering van boere wat dié tablette gebruik, noodsaaklik sodat alle opsies oorweeg kan word, sê Redelinghuys. Die landbou-toep sal aanvanklik gratis beskikbaar wees, maar later sal dit ’n betaalmodel word. Dit sal in ’n stadium gratis beskikbaar wees vir intekenare op Landbouweekblad.
25 Oktober 2011
Alle regte voorbehou. © Landbou.com 2011. In Suid-Afrika gepubliseer deur Media24
Kommentaar
Lewer kommentaar. (Jy hoef nie ingeteken te wees nie.)