In reaksie op versoeke het Engen Petroleum, een van die land se grootste vervaardigers en verskaffers van brandstof, ’n nuwe dieselproduk ontwikkel. Met die bekendstelling van Engen Dynamic Diesel in Johannesburg het mnr. John Kennedy, kommersiële bestuurder, gesê met brandstofpryse wat tans op hoë vlakke beweeg, kan dié diesel verbruikers help om rande te spaar, terwyl dit hulle voertuie se prestasie verbeter.
Die maatskappy sê met behulp van navorsing is ’n brandstof ontwikkel wat tegelykertyd aan ekonomiese, omgewings en prestasie behoeftes voldoen. “Ons het gevind dat terwyl die eienaars van dieselaangedrewe motors prestasie waardeer, sal hulle tevrede wees met ’n meer ekonomiese opsie. Hulle wil ook hê dat hulle brandstof moet byhou met globale tegnologiese ontwikkeling en hul brandstof moet omgewingsvoordele bied,” aldus mnr. Lesley McDonough, handelsmerkbestuurder van Engen.
Skoonmaak en herstel
Die nuwe brandstof beskik ook oor die vermoë om ’n dieselvoertuig se enjin skoon te maak en skoon te hou. Mnr. Pierre Malherbe, brandstoftegnologiebestuurder van Engen, sê die skoonmaakproses hou verband met aanpaksels in ’n enjin waarin diesel van ’n lae gehalte gebruik word. Die nuwe brandstof verbeter ’n voertuig se brandstofverbruik en herstel die enjin se prestasievermoë na waarvoor dit oorspronklik ontwerp is.
“Die uitwerking sal die sigbaarste wees in enjins wat reeds prestasie inboet weens swakker diesel. Ná die tweede of derde tenk brandstof sal Engin Dynamic Diesel die enjin na sy oorspronklik prestasie herstel,” vertel Malherbe.
Petrol
Die groep stel terselfdertyd ook ’n nuwe petrol bekend, wat dieselfde uitwerking op ’n petrolenjin sal hê, genaamd Engen Primax Unleaded.
’n Veldtog om Engen Dynamic Diesel landwyd bekend te stel, sal die maand plaasvind. Die brandstof sal vandeesmaand ook in Botswana, Lesotho, Swaziland en Namibië bekend gestel word. Volgende maand sal dit in Mauritius bekend gestel word. Kennedy sê die nuwe diesel en petrol sal van die begin van November af by die groep se afsetpunte en petrolstasies beskikbaar wees.