Nie te lank terug nie, was dit goedkoper en vinniger om ’n CD met data op van Kaapstad na Johannesburg te pos, as om die data oor die internet te stuur. Die spoed van internetverbindings het die afgelope paar jaar geweldig toegeneem en deesdae is dit maklik om groot hoeveelhede data na feitlik enige plek in die wêreld te stuur. Hierdie toename het gelei tot die ontwikkeling van ’n nuttige nuwe soort tegnologie genaamd die wolkrekenaarstelsel (cloud computing).
Internettoegang
Hierdie tegnologie is van groot belang vir boere, omdat dit toegang tot hul boerderydata verskaf op enige plek waar daar ’n internetverbinding is. Verskaffers van wolkrekenaarstelsels, soos Google en Amazon, berg gebruikers se data wat voorheen op hul tuisrekenaars was, op ’n veilige webtuiste waar dit net toeganklik is vir dié wat die regte gebruikersnaam en wagwoord het.
Die aanlynstelsels berg nie net data op nie, maar laat gebruikers ook toe om dit daar te verwerk en aan ander gebruikers beskikbaar te stel. OnsiteAG, ’n Amerikaanse maatskappy vir landboutegnologie, het ’n wolkrekenaarstelsel spesifiek vir boere gebou. Die stelsel laat gebruikers toe om data van oeste op die internet te verwerk, die posisie van hul voertuie via GPS dop te hou en aanlyn-groepgesprekke met hul werknemers te hou.
Wolke in Suid-Afrika
Dat dié tegnologie waarde vir die Suid-Afrikaanse boerdery inhou, ly geen twyfel. Daar is reeds baie boere wat e-posdienste, soos Google se Gmail, gebruik, wat ’n voorbeeld van wolkrekenaarstelsel is. Presisieboerdery is een van die belangrikste tegnologiese verwikkelinge in die landbou en die wolkrekenaarstelsel is ’n onlosmaaklike deel van die inwerkingstelling daarvan. Die insameling en verwerking van data is een van die belangrikste aspekte van presisieboerdery en die wolkrekenaarstelsel bied ’n gebruikersvriendelike manier om dit te doen. Met die wolkrekenaarstelsel kan rekenaarprogramme op die “wolk” gelaai word en toegang daartoe van enige rekenaar met ’n internetverbinding verkry word. Dit is nou moontlik om toegang te kry tot feitlik enige program – van Microsoft Word tot stamboom- en teelprogramme kan nou met gemak op enige rekenaar gebruik word, nie net dié waarop dit gelaai is nie.