Sonkrag bied volhoubare energie vir die toekoms

Deur Jan Bezuidenhout
18 November 2014
Fotovoltaïese sonpanele kan op bykans enige plek in Suid-Afrika opgerig word.

Hoë produksiekostes is een van die landbou se grootste knelpunte, en met die jaarlikse verhoging van elektrisiteitstariewe wat nie tred hou met inflasie nie, en die onstabiliteit van kragverskaffing, is volhoubare en alternatiewe oplossings noodsaaklik.

Een van dié oplossings is sonkrag, wat al vir jare op afgeleë plase die enigste bron van energie was, maar nou al meer deur boere landwyd ge-implementeer word.

Fotovoltaïese-sonpaneel-aanlegte kan op bykans enige plek in Suid-Afrika opgerig word en is dus geografies meer verspreid as ander kragopwekkingsbronne.

Mnr. André Potgieter van Energyworx, een van die integreerders van dak-sonkrag in Suid-Afrika, sê die drastiese prysverhogings tesame met die skerp daling in die koste van fotovoltaïese-stelsels, het die kostegaping aansienlik verklein en al meer mense sien die voordeel van son-energie vir die toekoms in.

Hy verduidelik: “Dié panele verskaf elektrisiteit wanneer dit aan bestraling  blootgestel word. Die krag wat opgewek word, word aan ’n omskakelaar gekoppel, wat dit na ’n wisselstroom verander en met die netwerk-frekwensie (Eskom) sinchroniseer en sodoende die direkte aanvraag van krag van Eskom verminder. “Eskom word nooit afgeskakel nie, maar bly op bystand vir wanneer die aanvraag groter as die sonkrag-aanbod is. Saans, wanneer die sonpanele geen effek het nie, voorsien Eskom dus al die krag, maar dan is dit gewoonlik teen ’n baie goedkoper tarief.”

Die vrugtebedryf verg baie hoë krag verbruik, weens hul intensiewe verkoelings-aanlegte. Sonkrag werk in die warm maande op hulle hardste – dieselfde tyd wanneer die aanlegte die meeste op konstante verkoeling staatmaak. André glo die oplossing vir Suid-Afrika – en die res van die wêreld – se energieprobleme is die proses waarvolgens die oortollige sonkrag wat privaat opgewek word, na ’n netwerk teruggevoer word en as’t ware jou elektrisiteitsmeter laat terugloop wanneer jy krag na Eskom terugvoer vir latere gebruik.

Energyworx het Suid-Afrika se eerste dak sonkrag-aanleg groter as 100kWp by Villiera-wynlandgoed installeer. Dit word gereeld deur die Universiteit van Stellenbosch vir toetsing gebruik en dien as vertoonvenster.

Nóg plase in die vrugtepakbedryf wat die voordeel van sonkrag ontdek het met die installasie van Energyworx-aanlegte, is onder meer Stellenpak in Simondium, die Bo-Radyn Boerdery buite Villiersdorp en Bluejays buite Stellenbosch.

Mnr. Robert Saunders van Stellenpak vertel dat Engergyworx hul sonpanele middel 2014 op die dak van hul pakhuis geinstalleer het. “Die 420kWp stelsel wat 600 MWh per jaar gaan produseer, bestaan uit 1680 panele wat ’n area van 2744m2 dek”, sê Saunders. “Daar is 21 omskakelaars – 15 hiervan voorsien krag aan die koelkamers en ses aan die pakhuis. “ Elektrisiteit maak ongeveer 10% van hul totale produksiekoste uit en hoewel hulle nog nie genoeg syfers het nie, reken hulle die panele gaan ’n 15% besparing meebring.


Kommentaar

Kommentaar (4) “Sonkrag bied volhoubare energie vir die toekoms

  1. mkruger
    mkruger

    Soos dit blyk is die grootste gedeelte van baie boere se rekening nie die gebruik nie maar die “kostes” wat deur Eskom gehef word.
    Wat help dit om ten duurste sonpanele op te sit, minder Eskom krag te gebruik maar jou “kostes” deur Eskom gehef bly dieselfde.
    Nog ‘n vraag is dit: Hoe lank voor die regering belasting hef op die boere wat sonpanele gebruik vir die benutting van die son se natuurlike energie.
    Dit is nie so vergesog nie. Ons betaal reeds grondbelasting en soos die planne nou is gaan ons vir reenwater wat uit ons boorgate uit kom ook eersdaags moet betaal.

  2. butch
    butch

    jy is dooodreg Maarten – beslis sal daar belasting gehef word – ook op windlaaiers – daar is nie ‘n manier dat die regering sy hande van inkomste vir homself sal afhou nie – waarskynlik sal jy nog 20% van die projek aan die regering moet “skenk” ook – ala “fracking’

  3. Philip
    Philip

    Hierdie een ken jy seker

  4. Fanie Hennig
    Fanie Hennig

    Sonpanele

    Het 6 op ‘n plaas ver vanaf die huis
    Hoe kan ek dit teen diefstal beskerm?

    Fanie Hennig

    Clanwilliam


Lewer kommentaar

Slegs in Afrikaans

Los 'n antwoord

Alle velde moet ingevul word.

Verwante artikels