Raadop met die stadige internetverbinding het ’n entrepreneur van Barkly-Oos in Landbouweekblad gelees hoe boere in die Boland dit reggekry het om deur middel van Wi-Fi die kuberruim suksesvol op die platteland te betree. Deesdae help hy sy medeboere én sakeondernemings om dieselfde in onherbergsame dele van die land te doen.
Foto-byskrif: Mnre. Chris Isted (links) en Johan Lemmer by een van die vier torings wat hulle moes oprig om die sein tot op Isted se plaas te herlei. Foto: Verskaf
Enigeen wat op die platteland met ’n swak internetverbinding sukkel, weet hoe frustrerend dit is om in die middel van ’n transaksie ‘‘afgegooi’’ te word wanneer jy probeer banksake doen. Dan is dit van vooraf inskakel en hoop dat dit die volgende keer sal werk.
Vra vir mnr. Chris Isted (36), wat met skape en beeste op die plaas Reedsdell by Barkly-Oos boer. Hy sê die internet het deesdae so integrale deel van enige sake-onderneming geword dat dit beswaarlik moontlik is om daarsonder klaar te kom. Sonder selfoonontvangs in die omgewing waar hy boer en met die Telkom-plaaslyne wat dikwels buite werking is, is inbelverbindings feitlik buite die kwessie.
‘‘Hoewel ons boereverenigings die land se grootste diensverskaffers, MTN en Vodacom, genader het om torings hier op te rig, het hulle nie daarin belang gestel nie aangesien die omgewing volgens hulle te yl bevolk is om dit vir hulle lonend te maak. Ook Telkom het aangedui dat hy nie boere sal kan help deur die plaaslyne op te gradeer nie.’’
Vinniger internet
Nadat Isted egter ’n artikel in Landbouweekblad (‘‘Vinniger internet sluit die wêreld oop’’, 7 Maart 2008) gelees het, het hy met mnr. Johan Lemmer van Wellington, wat sulke stelsels in die Boland geïnstalleer het, in verbinding getree. Isted wou ’n soortgelyke stelsel in die Oos-Kaap kry.
‘‘Omdat Aliwal-Noord die naaste ADSLlyn (assimetriese digitale intekenaarlyn) het, moes daar vier torings teen ’n koste van R20 000 elk tussen my plaas en die dorp opgerig word om die internet te herlei.
‘‘Aangesien dit my sowat R80 000 uit die sak gejaag het, het ek besluit om ook ’n diensverskaffer te word om ’n deel van my koste te verhaal. Hoewel my stelsel eers in April geïnstalleer is, het ek begin Julie reeds ’n waglys van 12 mense net op Barkly-Oos gehad wat in ’n soortgelyke diens belang stel. Daar was ook reeds navrae van boere in die naburige distrikte.’’
Isted vra sowat R3 000 om ’n stelsel te installeer. Daarna betaal huurders maandelikse diensgeld van R170 per 500 MB. Lemmer bestel die bandwydte. Die frekwensie van die seine tussen die torings beloop 5 gigahertz. Die aflaaispoed by kliënte se huis beloop 2 800 kb/s en die oplaaispoed tussen 380 kb/s en 480 kb/s. Dit vergelyk gunstig met 3G-verbindings.
Sekere aanpassings
Isted sê die onlangse swaar sneeuneerslae in die omgewing het nie die internetontvangs belemmer nie. Die koue nagte daarna, toe die temperatuur in die berge tot minus 20 grade C gedaal het, het meegebring dat ys op die torings gevorm het. Die ys het op die skottels beland wat onder op die paal gemonteer is en dit beskadig. Daarom beoog hy sekere aanpassings wat dit sal voorkom.
Hoewel hy bewus is van ’n onderneming in die Vrystaat en Kaap wat soortgelyke installasies doen, meen hy daar lê in die res van die land nog ’n groot veld vir hierdie tipe diens braak. Daarom sal hy graag ander boere raad gee hoe om makliker en redelik kostedoeltreffend toegang tot die internet te kry.
Isted, wat ook betrokke is by die oprigting van herhalers vir tweerigtingradio’s, sê die Marnetdiens, wat hoofsaaklik deur die weermag en boere gebruik is, het grootliks in onbruik verval. Daar is egter steeds ’n behoefte aan doeltreffende kommunikasie.
‘‘Wanneer daar wegholbrande is en ander natuurrampe voorkom, bly die radio steeds die beste manier is om met die rampbestuurspanne in verbinding te tree.’’
Aan herhalers gekoppel
Al die radio’s wat Isted verskaf, is aan herhalers gekoppel. Sodoende kan mense kontak maak met enigeen wie se radio aangeskakel is – ongeag waar hulle in die kontrei ry.
‘‘Aanvanklik het die uitbreiding van selfoondienste meegebring dat minder mense in tweerigtingradio’s belang gestel het. Omdat die koste van selfoonoproepe egter so duur is en jou maklik meer as R1 000 per maand uit die sak kan jaag, verkies al hoe meer boere weer die radio as goedkoper kommunikasiemiddel.’’
Laasgenoemde kos sowat R2 000 per eenheid en die huurkoste beloop R30 per maand.
Isted sê as hy die lewe vir ander mense makliker kan maak of net instrumenteel kan wees om te verseker dat een mens se lewe tydens ’n plaasaanval gespaar word, sal dit al sy moeite loon om ’n stelsel op te rig wat kommunikasie verbeter.
Tevrede kliënte
Wat sy diens betref, bly dit sy leuse om eerder 100 tevrede kliënte te hê as om 1 000 mense te bedien wat probleme met sy diens ondervind.
Sedert hy toegang tot die internet het, kry hulle meer besprekings vir die gastehuis wat hy en sy vrou, Katherine, bedryf. Hulle kry heelwat bestellings vir die handewerk van werkers in die omgewing wat goedere aan die kunswinkel op die plaas lewer.
‘‘Kommunikasie met die buitewêreld is nie net vir onsself deesdae soveel makliker nie. Ook toeriste wat die gebied besoek en normaalweg van die TV en selfone wil wegkom, is ná ’n paar dae alte bly as hulle net vinnig hulle e-pos kan aflaai en verneem na die welstand van hul familie wat nie saam reis nie,’’ sê hy.
Landbouweekblad, 14 Augustus 2009
Kommentaar
Ek bly op 'n plaas noord van Kuruman en het dieselfde probleem. Hoe ver staan jou 4 torings van mekaar af en wat is die maksimum afstand wat jou huis antenna van so 'n toring af mag wees vir doeltreffende diens?
Oulike idee. Indien sneeu, son, wind en donderweer 'n probleem vir die antenna's is, kan 'n mens 'n radar-koepel om die antenna oprig.
Sien http://www.srh.noaa.gov/bna/research/images/history9.jpg vir 'n GROOT model.
Johann Lemmer kan enige tyd gekontak word om boere te konsulteer aangaande hulle netwerk en internet toegang behoeftes. Nes in die geval met Snow Valley Communications sal hy hulle ook bystaan. Lemmer kan gekontak by johann@patat.co.za
Lewer kommentaar. (Jy hoef nie ingeteken te wees nie.)