Vinniger internet vir Vrystaters

 
Internet-toring. Foto: VERSKAF
Internet-toring. Foto: VERSKAF

Danksy ‘n ywerige belangstelling in internet tegnologie en die droom om ‘n eie besigheid te besit, maak Chris Venter dit vir plaasjapies in die Noord Vrystaat en sekere dele van Noordwes moontlik om soos dorpsjapies op die internet te kan werk én speel. 

Vir Chris was rekenaars eers net ‘n stokperdjie. Maar ná twee jaar as tegniese bestuurder by  ‘n myngroep in Virginia het hy geweet netwerke is waarmee hy wil werk. Toe begin hy sy eie  besigheid.

“Dit het stadig begin,” vertel hy. “Aanvanklik het ek net rekenaars gekoop en verkoop, geïnstalleer en herstel.” Maar soos die boere van Eleos Rekenaars te hore gekom het, het Chris al meer kilometers op die grondpaaie in die Hoopstad-omgewing afgelê. Kort voor lank het die vrae begin: het jy nie ‘n oplossing vir ons stadige internet nie?

“Ek het stelselmatig besef die behoefte vir hoë spoed internettoegang in die platteland is groot. Ek was self soms gefrustreerd met my eie internetkonneksie wat ek deur my selfoon gekry het. Soos ek meer begin uitvind het, het ek te hore gekom van iemand wat ADSL draadloos plase toe  vat.”  (ADSL is datakommunikasietegnologie wat data blitsvinnig met kopertelefoonlyne oordra.) Dat sy pad met Herman Baumgarten s’n gekruis het, is blote genade, reken Chris, want vandag het dié twee sakevennote saam sowat 300 kliënte op hul boeke. 

Dit was juis Herman, wie toe al ‘n paar jaar doenig was met breëband internet toegang vir boere, wat Chris aangemoedig het om ‘n onafhanklike internet diensverskaffer te word. 

“ Vriende het vir my 'n paar rand geleen en teen die begin van 2008 het my eerste uitsaaitoring  in Hoopstad gestaan. Chris het intussen nog vier torings opgerig, en vandag het Eleos al meer as  dertig van sy eie, tevrede gebruikers wat banksake en ander werk op die internet gedoen kry teen ‘n  spoed waarvan hu lle vroeër net kon droom.  Hy sê hoewel hy ook dorpenaars help met vinnige internet toegang, is 95% van sy kliënte boere.

Só werk dit
“Ons het by sentrale plekke, waaronder Hoopstad en Bothaville, ADSL-lyne en bedieners (“servers”) wat die data hanteer. Hiervandaan word die data uitgesaai na groter uitsaaitorings, hoofsaaklik bestaande torings of silo’s op boere se plase.  Híérdie torings saai uit oor 'n radius van ongeveer 20 tot 40 km,” verduidelik hy. 

Chris sê hy installeer sy toerusting op die bestaande torings en bied die boer wie se toring dit is, of  op wie se plaas die toring staan, internet toegang  teen 'n gawe tarief aan. Gelukkig kan die seine  wat Eleos se toerusting stuur en ontvang nie inmeng met dié van byvoorbeeld die boer se  radiotoring nie, aangesien die twee sisteme op twee heeltemal verskillende frekwensies werk. By sy kliënt se huis word 'n radio en antenna geïnstalleer. Dít is basies sy eie  stasie waar hy soveel rekenaars kan koppel as wat hy wil. Chris sê al die toerusting wat hy gebruik voldoen aan Icasa  (oftewel die Independent Communications Authority of South Africa ) se spesifikasies.

Oor siglyne
Met die stelsel waarop Eleos en soortgelyke internet diensverskaffers in afgeleë gebiede werk, is siglyne baie belangrik. Dít beteken bloot twee punte (of torings) moet sigbaar wees van mekaar.  “Ons moes al boere wegwys omdat hulle nie direkte sig na een van ons uitsaaitorings toe het nie.

Bome speel ook 'n groot rol en belemmer maklik die sein. 'n Boer kan 5 km van 'n toring wees, maar  as sy hele huis omring is met bome, kry ons nie sein nie. 'n Ander boer kan weer so ver as 35 km van  'n toring af wees en perfekte sein kry net omdat daar niks in die pad is nie.” Volgens Chris kon hulle  al dataseine tot sowat 60 km stuur sonder enige moeilikheid.

Samewerking
Mense in die draadlose internettoegang bedryf help mekaar graag, ongeag onderlinge kompetisie, aldus Chris. “Of miskien wil ons klein outjies almal net die groot ouens opdraand gee,”  skerts hy. 

Eleos is byvoorbeeld gekoppel aan die torings van 'n Bloemfonteinse maatskappy wat baie  groter as hulle is en veral werksaam is met stem-oor-internet protokol (oftewel VOIP), 'n sisteem  wat op dieselfde netwerk as dataseine hardloop, maar wat gebruikers in staat  stel om baie goedkoper as op die bestaande telefoniese netwerke te kan bel.  

“Deur ons uitsaaitorings aan die netwerk van ‘n ander maatskappy te koppel, kan ons  toegang tot kliënte kry op dorpe waar ons nog nie infrastruktuur het nie.” Wanneer  maatskappye só saamwerk skep die een bloot vir die ander ‘n tonnel deur sy netwerke na  die ander een se naaste toring. ‘n Relatiewe klein fooi vir die huur van toerusting is gewoonlik  betrokke.

Die uitdagings
Vir die boere bring dit reën maar vir Chris bring dit dikwels net moeilikheid. “Weerlig  berokken ons baie skade, veral omdat ons toerusting bo-op torings of hoë silo’s geïnstalleer  word. Statiese elektrisiteit laat hulle ook bontstaan. “Ek het een maal bo-op 'n bakkieshyser van  ‘n silo  gestaan toe die wind begin waai het. Nie lank daarna nie moes ek afklim want die statiese  elektrisiteit het my aanhoudend geskok,” vertel Chris. 
 
Diefstal kan ook ‘n probleem wees, maar dit gebeur net op daardie torings wat met sonpanele werk. “Sonpanele is 'n magneet vir diewe. Selfs al is dit byna onmoontlik om dit te verwyder, sal ‘n  dief steeds sy bes probeer om dit te steel. En as hy dít nie kan regkry nie, breek hy eenvoudig die panele en beskadig daarmee saam ons toerusting.”

Batterye wat onklaar raak en ‘n foutiewe kragtoevoer, is ander kleiner probleme. “Gebruikers moet onthou dat ons toerusting elektronika is wat aan die elemente oorgelaat word en dus van tyd  tot tyd sal breek en vervang moet word.”

Wat kos dit, en wat kry jy?
Die aanvangskoste is R3 000. Dít sluit in ‘n antenna, radio toerusting, bedrading, reiskoste en die arbeid. Vir ander dienste soos netwerk installasies gee hulle aparte kwotasies. “Ons stel ook in baie gevalle koordlose netwerke op vir mense met skootrekenaars.”  Só netwerk beteken jy kan op die internet rondspeel, enige plek in jou huis.
 
Eleos het vyf pakkette wat wissel van R220 per maand tot R820 per maand, afhangende van hoeveel  gig se data jy per maand wil hê en hoe vinnig jy dié data van die internet wil aflaai. Twee gig se data  is die minimum hoeveelheid data terwyl van die duurder pakkette geen beperking het op hoeveel  data jy per maand gebruik  nie. Selfs die stadigste aflaai spoed is vergelykbaar met Telkom se ADSL-verbinding.

Ander dienste
Naas die herstel en die koop en verkoop van rekenaars, kan Eleos hul kliënte ook help met ‘n eie webwerf. Gebruikers kry ook spesiale e-pos adresse as hulle by Eleos se netwerk inskakel. Party  mense reken selfs Chris kan ook maar die vervanging van gloeilampe op silo-torings by sy lys van  dienste voeg, want min mense sien kans om tot daar bo te klim.

Hulle verskaf ook gewone ADSL bandwydte aan dorpenaars. Bandwydte van 2 Gb kos slegs sowat  R75 per maand. Al wat jy hiervoor nodig het, is 'n Telkom lyn met ADSL.

Die toekoms
Beslis 'n hulplyn vir die gebruikers, en gou ook, sê Chris. “Dit is binne ons vermoë om ‘n groot  gedeelte van sentraal Suid-Afrika te dek. My visie is om 'n landwye stabiele netwerk te skep en  soveel moontlik boere te help wat sukkel om ordentlike internet by die huis te kry.”
 
Is jy ‘n boer wat sukkel om te Google, en boer jy naby Klerksdorp, Orkney, Bothaville, Leeudoringstad, Hoopstad, Wesselsbron, Bultfontein, Theunissen, Makwassie of Bloemhof? Skakel  dan gerus vir Chris by 078 119 9604 of besoek www.eleo.co.za (as jou huidige konneksie dit toelaat!).

Chris sê boere wat in ‘n area woon waar hoëspoed internettoegang nog nie beskikbaar is nie, moet  saamspan. “Dit sal baie help as 'n paar mense saam besluit hulle wil vinniger internettoegang hê, en  dan onafhanklike verskaffers soos ons laat weet. Ons doen dan bietjie marknavorsing in die area en  as daar genoeg potensiaal is, en daar torings in die area is wat ons kan gebruik, kan ons hulle help.”

Hy sê die probleem is dat dit 'n groot uitgawe is om in 'n area te begin. “Dit help nie jy spandeer byvoorbeeld R20 000 om 'n draadlose skakel in ‘n area te bou en jy het net een of twee kliënte nie.”  Onafhanklike diensverskaffers wat draadlose oordragstelsels van ADSL na hul eie torings bou soos Chris-hulle moet boonop vir Telkom en ander diensverskaffers betaal vir die ADSL-lyn. Om dié onkoste te dek moet jy, volgens hom, ten minste ses gebruikers op ‘n klein pakket hê.

Ander alternatiewe vir boere
Baie boere in die omgewing waar Chris werkagtig is, koppel aan die internet met datakaarte wat deur die groot  selfoonoperateurs verkoop word. Volgens Chris werk dié kaarte 100% mits jy in of naby 'n dorp is waar daar 3G beskikbaar is. Die groot verskaffers doen ongelukkig nie baie moeite met die beskikbaarstelling van 3G-tegnologie in yl(er) bevolkte gebiede nie.

“Die gewone GPRS konneksie op die plase is net nie meer voldoende vir die hoeveelheid data wat verskuif word in vandag se tyd nie. Webblaaie word al hoe groter en vat al hoe langer om te laai. Baie van my kliënte bly op plase waar daar min tot geen sein is nie. En dit skep 'n groot probleem.”

Internettoegang deur middel van ‘n telefoonlyn (sogenaamde ‘dial up’ of inbel) is ook nie meer  vir boere in afgesonderde dele van ons land 'n oplossing nie omdat plaaslyne dikwels gesteel word en dit soms maande vat voor dit herstel word.

8 Desember 2009

5
 
 

Kommentaar

Onbekende besoeker 

Wat 'n vooreg om ordentlikke internet te kan gebruik. Dit het my rek betalings elke maand se tyd met die helfte verminder

Onbekende besoeker 

AS JY EERS GEWOOND IS AAN DIE SPOED KOM JY NIE WEER MAKLIK REG MET STADIGE SPOED NIE!

Lewer kommentaar. (Jy hoef nie ingeteken te wees nie.)

Jou e-pos adres sal nie vertoon word nie.