YouTube is ’n webtuiste wat grootliks bekend is vir sy amusante video’s, maardit is eintlik ’n waardevolle bron van kennis vir dié wat weet waar om te kyk. Die webtuiste is in 2005 begin en later vir $1,56 miljard deur Google gekoop. Die webtuiste is een van die gewildste op die internet en daar word elke minuut 60 uur se videomateriaal deur gebruikers opgelaai. Tussen al die gemors kan gebruikers met ’n bietjie geduld YouTube as ’n adviseur vir raad oor feitlik enige onderwerp.
YouTube laat enigiemand toe om self video’s op die webtuiste te laai en beskikbaar te maak vir ander gebruikers. Die webtuiste word toenemend gebruik deur mense wat hul kennis of ervaring met hul medemens wil deel. Daar is video’s oor hoe om ’n gans gaar te maak, ’n trekker reg te maak (of selfs jou eie een te bou) en hoe om jou belasting uit te werk. As jy ooit gewonder het hoe om iets te doen, gaan kyk gerus eers op YouTube – die kans is goed dat iemand dit reeds gedoen het en ’n video daarvan gemaak het.
Boere op YouTube
Greg Miles, wat naby Stutterheim in die Oos-Kaap boer, het onlangs ’n nuwe internetverbinding gekry wat hom toegelaat het om YouTube gereeld te gebruik. Hy verduidelik hoe hy dit reeds gebruik het om uit te vind hoekom hy met sy e-posdiens gesukkel het. Hy het sy probleem op YouTube se soekfunksie ingetik en het toe ’n video gekry wat verduidelik hoe om dié probleem op te los.
Suid-Afrikaanse boere is reeds op YouTube te siene – gaan na Landbou.com se video-kanaal om hulle in aksie te sien. Veral van belang is die video’s van boereplanne wat reeds in die tydskrif verskyn het. Boere wat belang stel in die slim planne wat in die tydskrif verskyn het, kan op die video’s die uitvinders in aksie sien.
YouTube en die onderwys
YouTube het ook die potensiaal om ’n groot impak op opvoedkunde te hê, veral in landelike gebiede waar daar ’n tekort aan gekwalifiseerde onderwysers is. In die toekoms sal kinders na video’s kan kyk van hoe die beste onderwysers in die land klas gee. In Amerika het mnr. Salman Khan, ’n voormalige beleggingsbestuurder, ’n webtuiste begin waar hy wiskunde, ekonomie, fisika en verskeie ander vakke verduidelik deur middel van video’s wat hy op YouTube gelaai het. Sy liefdadigheidsorganisasie, die Khan Academy, het reeds miljoene dollar se skenkings van mnr. Bill Gates se stigting ontvang vir die goeie werk wat hulle doen. Hierdie webtuiste is die moeite werd om na te kyk, veral vir skoolkinders wat sukkel met wiskunde.
Om video’s op die internet te kyk gebruik redelik baie data en ’n vinnige internetverbinding (minstens 512 kbps) is nodig om dit suksesvol te benut. In Suid-Afrika is internettoegang steeds ’n probleem in landelike gebiede, maar na mate die koste van tegnologie daal, sal dit toegankliker raak.