|
|
|
| Bygewerk: | 23 May 11:00 IDT |
| Temp: | |
| Druk: | |
| Doupunt: | |
| Humiditeit: | 72% |
| Wind: |
Omdat dit al hoe belangriker raak om Nawels van hoë
gehalte aan die oorsese markte te lewer, is die koms van 'n nuwe laatseisoen
Nawel sommer baie goeie nuus vir die plaaslike sitrusbedryf.
Die oorsese markte, veral die ontluikende en welaf Amerikaanse mark, stel hoë eise vir gehalte. Daarom is dit vir die Suid-Afrikaanse sitrusbedryf van strategiese belang om vol te hou met sy soektog na nuwe kultivars wat aan dié markte se spesifieke behoeftes voldoen.
Mnr. Freek Veldman, 'n kultivarontwikkelaar van Citriculture Tegniese Dienste op Nelspruit, sê juis daarom heers groot opgewondenheid in die plaaslike sitrusbedryf oor Glen Ora Late, die jongste nawel-aanwins wat sy oorsprong as 'n natuurlike mutasie het.
Glen Ora Late is geïdentifiseer in 'n Palmer-nawelboord op mnr. Ben de Kock se plaas, Glen Ora, in die Burgersfort-gebied in Mpumalanga. Die vrugte van die moederboom het jare lank heelwat later ryp geword as die res van die vrugte in die boord. Die vrugte het ook baie goed gehang aan die boom tot selfs ná die piek-rypwordingstyd.
Min kraakskil
Baie min kraakskil was sigbaar, al het die lemoene tot later as die rypwordingstyd gehang in vergelyking met die res van die boord waar kraakskil nog elke jaar 'n groot probleem was. Glen Ora Late se vrugte is medium tot groot en die produksie goed tot uitstekend in vergelyking met Palmer. Die vrugte is gewoonlik rond tot effens ovaal en het 'n klein tot geen kenmerkende sekondêre nawel-ent.
Die interne vruggehalte (die vastestowwe- en suurinhoud) het goed gehou en die vrugte was steeds ferm nadat dit lank aan die boom gehang het. Glen Ora Late spog met 'n uitstekende suikerinhoud van 13 % en hoër, 'n sapinhoud van 52 % tot 56 % en 'n suurinhoud van 0,90 % tot 1,1 %. Wat hierdie resultate merkwaardiger maak, is die feit dat dit behaal is op bome wat 20 maande oud is en op 'n growweskilsuurlemoen-onderstam geokkuleer is.
Mnr. Veldman sê die nuwe Glen Ora Late se grootste voordeel bó die huidige laat Nawels is dat dit beslis laat ryp word en nie bloot tot laat in die seisoen aan die boom gelaat kan word nie. Dit lewer uitstekende produksie, vruggrootte en interne gehalte en blyk nie so gevoelig te wees vir kraakskil nie. Verder is dit 'n ferm vrug, wat beteken dat dit oor goeie verskepings- en raklewe-eienskappe behoort te beskik.
Vir meer inligting oor Glen Ora Late, of oor
kultivarontwikkeling in die algemeen, kan lesers in verbinding tree met mnr.
Veldman. Sy selfoonnommer is 083 310 7345 en tel./faks 013 741 4781.
31 Oktober 2003
Alle regte voorbehou. © Landbou.com 2011. In Suid-Afrika gepubliseer deur Media24