|
|
|
| Bygewerk: | 23 May 11:00 IDT |
| Temp: | |
| Druk: | |
| Doupunt: | |
| Humiditeit: | 72% |
| Wind: |
Geriewe wat gedeel word, 'n baie wyer keuse om 'n goeie reeks wyne te maak, kostebesparing en die beter bemarking van hul produk is van die voordele vir druiweboere in 'n samesmeltingsooreenkoms tussen die Douglas- en Landzicht-wynkelder.
Kelders begin al hoe meer saamwerk deur geriewe en toerusting te deel om koste te bespaar. Dít is ook die pad wat twee kelders, een in die Noord-Kaap en een in die Vrystaat, geloop het. Mnr. Ian Sieg is die kelderbestuurder-wynmaker van die Landzicht-kelder in Jacobsdal en hy is nou verantwoordelik vir bemarking, die wynmaakproses (4 maande) en die gehalte van die twee kelders se wyn. Hy sê omdat Landzicht in die Griekwaland-Wes Koöperasie (GWK) se bedieningsgebied val en die twee kelders net 120 km van mekaar af is, was die inkorporering van Landzicht onder die GWK-vaandel 'n sinvolle stap.
Dit vergemaklik die beplanning van die wynmaakproses. Met die deel van geriewe kan dit tot die maksimum benut word. 'n Voorbeeld daarvan is dat Landzicht nie die geriewe het om ál die rooi druiwe te hanteer wat sy boere kan lewer nie.
Omdat die geriewe by Douglas bestaan en dié kelder meer rooi druiwe kan hanteer, word net die sap en doppe per 30 ton-tenk-vragmotor na Douglas vervoer nadat dit gepars is. Dit bring die eerste vorm van besparing vir die Landzicht-boere mee, want dit maak uitbreidings wat peperduur is, onnodig.
Die samesmelting hou ook talle ander voordele in. In jare wanneer haelskade of reën by een van die twee kelders die druiwe-oes knou, kan die kelders mekaar aanvul deur die lewering van druiwe by die ander kelder om die wa deur die drif te help trek en sodoende die kontinuïteit van gehalte jaarliks te verseker. Omdat die gesamentlike gebied van die twee kelders so wyd is, word die risiko dus baie verminder en versprei.
Deur die bemarking van wyn te konsolideer, kan nóg besparing verkry word. Waar elke kelder 'n depot in 'n gebied het, kan depots verminder en die koste só gehalveer word. Landzicht het tans 350 ha onder nuut gevestigde wingerd en die Douglas-kelder sowat 450 ha. Daarmee is die twee kelders se gesamentlike kapasiteit nagenoeg 11 000 ton. Op die oomblik word net sowat 7 000 ton benut, dus is daar nog heelwat ruimte vir uitbreiding. Die uitbreiding van witwyn-wingerde word oorweeg, maar geen rooi druiwe sal nou aangeplant word nie.
Volgens die markbehoefte gaan nóg Sauvignon blanc, Chenin blanc en Colombar in albei kelders se gebiede geplant word sodat dié topkultivars vir hul spesifieke tafelwyne gebruik kan word.
Sieg sê die belangrikste mikpunt is om die gehalte van die kelders se produkte te verbeter. Daarom word gereeld van ander kelders se wen-wyne geproe om vas te stel wat hul suksesresep is. Op grond van dié inligting word aanpassings en veranderings in keldertegnologie en wingerde gemaak. Die suiker, suur, pH, drag en korrelgrootte word onder meer gemonitor om gehalte te verbeter.
Om dít reg te kry, het die boere die uitdaging aanvaar om na beter gehalte te streef. 'n Goeie voorbeeld daarvan is dat die rooi druiwe later gepluk word om die suikergehalte hoër te kry. Eers was die vereiste ongeveer 22 °B (grade Balling), maar die nuwe neiging is 23 °B tot 25 °B.
Dit lewer 'n voller rooiwyn, wat een van die treë op die pad na 'n goue Veritas-toekenning is, 'n uitdaging vir dié gebied se wynmakers.
Die ander belangrike faktore is die omgewing se kalkgrond en mengsels van kalk en rooi sandleemgrond (wat na Sieg se mening van die beste wingerdgrond ter wêreld en dieselfde as die beste wingerdgrond in Australië is); besproeiingspraktyke met mikrospuite en druppers, en die goeie wingerd-bestuur van die boere.
Sieg sê hoewel die twee kelders saamsmelt om elkeen se geriewe ten beste te benut, sal elke kelder steeds sy eie wynreeks maak en die bestes bottel vir spesifieke bemarkingsaksies. Die wyne sal aan baie streng gehaltevereistes moet voldoen. Die wyn wat nie aan internasionale standaarde voldoen nie, "sal nie in die bottel beland nie". Die belangrikste is steeds om goeie, bekostigbare wyn te maak vir die wynliefhebber.
'n Druiwe-advieskomitee is gestig om die twee kelders en boere se belange by mekaar uit te bring. Die komitee, waarvan 'n produsent, mnr. Hennie Coetzee, die voorsitter is, doen aanbevelings aan die direksie.
Mnr. Pou le Roux van die Douglas-kelder is die kelderbestuurder op Douglas. Hy is nou ook in beheer van ál die geriewe en toerusting by die twee kelders en moet toesien dat die kelders tegnologies op die hoogte van sake bly om aan die verwagtinge van 'n nuwe wêreld se wyne te voldoen.
16 Januarie 2004
Alle regte voorbehou. © Landbou.com 2011. In Suid-Afrika gepubliseer deur Media24