|
|
|
| Bygewerk: | 23 May 11:00 IDT |
| Temp: | |
| Druk: | |
| Doupunt: | |
| Humiditeit: | 72% |
| Wind: |
Suid-Afrika se mango-uitvoer het die afgelope seisoen met bykans 50 % afgeneem en dit is nie nét aan die droogte te wyte nie.
Alles dui daarop dat sowat 2,5 miljoen kartonhouers mango's (4 kg elk) in die huidige seisoen uitgevoer is teenoor die 4,3 miljoen kartonne in die seisoen 2002/3.
Volgens mnr. Stephan Crafford, bestuurder van die Suid-Afrikaanse Mangokwekersvereniging (SAMKV) op Tzaneen in Limpopo, word die huidige totale oes op sowat 60 000 ton geraam teenoor die 70 000 ton van 2002/03 en die 90 000 ton van 2001/02.
Die kleiner oes word toegeskryf aan droogtetoestandein die belangrikste mangoproduksiegebiede wat tot laer opbrengste en kleiner vrugte gelei het. In Mpumalanga se Onderberg-gebied het daar selfs mangobome gevrek weens die nypende watertekort.
Die droogte is egter nie die enigste rede vir die kleiner oes nie. Die buitegewone koue klimaat het die vrugset van veral die kultivar Tommy Atkins beduiwel. Die blomtydperk van Tommy Atkins is voorafgegaan deur 'n aanvanklike koue wat in 'n kritieke fase van die blomtydperk gevolg is deur 'n volgende kouefront wat vrugset by hierdie belangrike kultivar bykans uitgeskakel het.
In die afgelope seisoen is, volgens skatting, maar sowat 100 000 kartonne vir uitvoer in die Onderberg-gebied verpak teenoor die sowat 1 miljoen kartonne wat in normale seisoene vir die Europese mark verpak word.
Hoewel minder mango's uitgevoer is, het boere weens die totale kleiner aanbod goeie pryse vir hul vrugte op die plaaslike mark en ook vir verwerking gekry.
Van die belangrikste redes vir die afname in uitvoer na Europa is dat Brasilië met groot volumes later as gewoonlik in die mark was. Die pryse het gewissel van 1euro tot 3 euro.
Die wisselkoers het sedert die seisoen 2002/03 begin verswak wat uitvoer ál minder aantreklik gemaak het vir boere. In die lig van die sterk rand was boere hierdie seisoen steeds baie katvoet om hul mango's uit te voer. Crafford sê die afgelope twee jaar het groot volumes mango's na die verwerkingsmark vir atjar gevloei en hierdie gesnyde mangovoorraad het in 2003 in só 'n mate afgeneem dat 'n tekort verlede jaar ontstaan het.
Gevolglik het verwerkers reeds in September begin navraag doen oor mango's en boere is R900 tot R1 200 per ton betaal teenoor die sowat R500 per ton wat hulle in die vorige seisoen gekry het.
Die kleiner mango-oes het ook die pryse wat deur sapverwerkers betaal is, bevoordeel. Baie boere wat dus nie hul vrugte vir verwerking tot atjar aangebied het nie, het dit laat hang om aan die sapverwerkers te verkoop. Vir hierdie vrugte is boere die afgelope seisoen ten minste vanaf R1 100/t tot R1 200/t en selfs meer betaal. Hierdie pryse was verlede seisoen (2002/03) die maksimum wat deur sapverwerkers betaal is.
Hierdie relatief goeie pryse wat betaal is vir vrugte vir verwerking tot atjar en tot sap het ook gegeld vir vrugte wat vir droging bestem is. Vir sulke vrugte het produsente tot R2 000/t in hul sakke gesteek. Die droog van mango's neem toe en een enkele produsent/verwerker beoog om die afgelope seisoen 3 500 ton vrugte te droog.
Die groeiende volume vrugte wat vir droging aangebied word, veroorsaak dat minder vrugte vir die bakkiemark en op die plaaslike mark beskikbaar is.
Wat die bakkiemark betref, het boere aan die begin van die seisoen R80 tot R90 per krat vrugte gekry.
Weens die droë klimaat was die gehalte van die vrugte baie goed en met die kleiner volumes op die plaaslike mark, het boere hier ook goeie pryse verdien.
Mangoboere het die afgelope seisoen dus nie soveel verdien as in 'n goeie uitvoerjaar nie, maar gegewe die droogte, die beperkte oes en die spesifieke omstandighede het dit steeds goed gegaan met hulle, sê Crafford.
9 April 2004
Alle regte voorbehou. © Landbou.com 2011. In Suid-Afrika gepubliseer deur Media24