|
|
|
| Bygewerk: | 23 May 11:00 IDT |
| Temp: | |
| Druk: | |
| Doupunt: | |
| Humiditeit: | 72% |
| Wind: |
Die vlieënde wynmakers is 'n groep jong mense wat gereeld tussen die wynlande
van die Noordelike en Suidelike Halfrond pendel en só wyn op kontrak vir die
Britse mark maak. 'n Suid-Afrikaner wat hom by hulle aangesluit het, het
Landbouweekblad vertel van sy ervaringe.
In 1999 het mnr. Tinus Els die eerste Suid-Afrikaner geword om hom by die "vlieënde wynmakers" van die Britse maatskappy International Wine Services (IWS) aan te sluit. Hy is aan die maatskappy bekend gestel toe 'n paar van dié vlieënde wynmakers op Bonnievale in die Boland kom werk het.
Hy het toe reeds sowat sewe jaar lank wyn op plase by die Paarl, Stellenbosch en Bonnievale gemaak. Aanvanklik het die IWS mnr. Els gevra om vir een parsseisoen by 'n koöperatiewe kelder in die Franse provinsie Bordeaux te help wyn maak.
Dié koöperasie het sowat 330 lede, een hoofwynmaker en tien opgeleide tegnici. In die seisoen wat mnr. Els daar gewerk het, moes hulle 22 000 ton druiwe hanteer, waarvan 99 % meganies gepars is. Op een Saterdag het hulle 1 500 ton Merlot gepars.
"Omdat dit in Bordeaux so baie reën, wou die Franse ons nie toelaat om vooraf sekere wingerdblokke te selekteer nie," vertel mnr. Els. In Frankryk werk net die kleiner kelders met handgeparste druiwe wat hulle in staat stel om die druiwe beter te selekteer. Wat hom egter van die Europese kelders bybly, is die hoë higiënestandaard wat gehandhaaf word.
In 2000 het mnr. Els vir die plaaslike parsseisoen na Suid-Afrika teruggekeer, maar daarna het hy 'n voltydse aanstelling by die IWS aanvaar. Hy het toe afwisselend in Frankryk (Bordeaux en Languedoc), Suid-Afrika en Spanje (naby Saragossa) gewerk.
Ná vyf parsseisoene by die IWS het hy in Augustus verlede jaar as 'n projekleier by die Britse maatskappy HwCg aangesluit om wyn in Frankryk, Italië en Spanje asook in Suid-Afrika, Argentinië en Chili te maak. Hy sal egter ook op die terrein van bemarking verdere internasionale ondervinding opdoen.
Volgens hom word Suid-Afrikaners goed in die buiteland aanvaar. Vlieënde wynmakers moet egter bereid wees om Frans en Spaans te leer. Toe sy kennis van Frans nog taamlik gebrekkig was, het hy aanvanklik bevestigend geantwoord op 'n vraag soos of hy rooi wyn saam met sy ontbyt wil hê.
Volgens mnr. Els weet die IWS presies wat die Britse mark verlang. Dit is onder meer wit wyne met meer prominente, vrugtige aromas. Ná die wyne droog gegis is, lê sommige daarvan langer as gewoonlik op die dun gistingsmoer om 'n voller smaak daaraan te verleen. Die wyn word laat gefiltreer - wanneer dit finaal reg is vir die mark.
Volgens mnr. Els kan 'n mens net só werk as jy vooraf seker is van jou mark. Hy wys daarop dat talle plaaslike wynmakers hul wyne te gou filtreer sodat hulle dit nog vir moontlike goedkeuring aan die groothandel kan voorlê.
"Die wyn het dus geen kans om verder in die tenk te verouder nie. Dit is ongelukkig by ons ingeprent om só wyn te maak. Om wit wyn se verouderingspotensiaal te verbeter, moet die regte tegnieke egter gevolg word."
Mnr. Els het twee seisoene vir die IWS top-Chenin blanc in Suid-Afrika gemaak wat in die buiteland goed aanvaar is. Hy meen Perdeberg, en selfs Stellenbosch, kan puik Chenins lewer. Tog is hy bevrees dat Suid-Afrika besig is om dié kultivar die rug te keer en dat top-Chenins binne 'n jaar of drie al hoe skaarser sal word.
Wat die rooi wyne betref, word 'n meer intense oorpompaksie vir 'n goeie kleur- en geurekstraksie gebruik. Omdat dié wyn in dieselfde prysklas as produkte van Nuwewêreldlande val, het mnr. Els ook houtstawe gebruik. Net 20 % van die wyn was in vate.
Hier te lande het hy onder meer Pinotage vir die IWS se Europese mark gemaak. Hy het goeie volryp druiwe met sagte tanniene gebruik, terwyl hy sagkens met die doppe gewerk het. "Ek het 'n bietjie houtstawe gebruik. Hoewel die wyn 'n vol styl het, is dit vrugtiger en het dit nie 'n oordonderende asetoon-karakter nie. Met die gebruik van vate kan dit vir jou 'n top-wyn gee. Suid-Afrikaanse wynmakers moet veral waak teen 'n dun Pinotage-styl, wat maar net nog 'n wyn is."
Ten opsigte van rooiwynkultivars, wys mnr. Els daarop dat Suid-Afrika moet lig loop vir verkeerde terreine, groot korrels en hoë produksie, terwyl hy ook daarvan kennis moet neem dat heelwat rooi kultivars in die suide van Frankryk en in Chili geplant word. Hy meen daar sal altyd 'n vraag wees na goeie plaaslike wit wyn, maar dat 'n oorskot rooi wyn dalk vorentoe sal ontstaan en dat dit nie weggewerk sal kan word deur dit in papsakke te probeer verkoop nie.
Volgens hom het die skille van sy oë afgeval ná hy as 'n vlieënde wynmaker begin werk het. Hy besef nou eers hoe groot die internasionale mededinging is en dat hy visie verkry het. " 'n Mens werk met ander wynmaakstyle en vreemde kultivars. Jy besef dan eers werklik watter groot en belangrike invloed die regte terroir op die gehalte van 'n wyn het."
Sy raad aan die jong wynmakers wat by Elsenburg opgelei word, is om eers buitelandse blootstelling by 'n goeie wynmaker te kry voor hulle self hul stempels by plaaslike kelders probeer afdruk. Volgens hom moet belangstellendes eenvoudig die kans waag en hul CV's aan die maatskappye IWS of HwCg stuur. Hy wys daarop dat die wynmakers by Australiese maatskappye aangemoedig word om drie maande onbetaalde verlof te neem en elders te gaan wyn maak.
Volgens hom het plaaslike wynmakers 'n magdom take. Eintlik te veel. Daarenteen word oorsese wynmakers deur genoeg tegnici bygestaan sodat hulle net op hul bepaalde doelwitte kan fokus, naamlik om wyn te maak in die styl wat die mark verlang.
Hy meen dat Australië vir die plaaslike wynbedryf 'n mededinger sal bly asook Nieu-Seeland met sy Sauvignon blanc. Daarbenewens lewer Chili van die wêreld se gewildste en mees bekostigbare Cabernet Sauvignons.
Mnr. Els wys daarop dat Britse maatskappye Noord-Afrika nou as 'n nuwe mark ontgin, terwyl 'n Franse maatskappy besig is om wyndruiwe in Egipte langs die Nyl te vestig.
Oor sy toekomsplanne sê mnr. Els dat hy op die oomblik nog baie nuuskierig is en graag eers voldoende bemarkingsondervinding wil opdoen. Vorentoe sal hy graag in Suid-Afrika by 'n wynmaatskappy, of by twee of drie kelders, betrokke wil raak.
Hy sal graag sy kennis - wat van wynstyle tot by bemarking strek - in Suid-Afrika wil terugploeg. Volgens hom kan plaaslike produsente net meer wins maak deur saam te smelt en self waarde tot hul produk toe te voeg. Die groot uitdaging is egter om hulle te laat saam werk.
Mnr. Els meen dat al die plaaslike wynstreke die boustene het om groot volumes goeie kommersiële wyn te maak. Volgens hom sit veral die Worcester- en Robertson-wynstreke op goudmyne. Hy sê wat tegnologie betref, is Suid-Afrika geensins agter nie. "Dié land moet bloot meer bemarkingsblootstelling kry."
4 April 2003
Alle regte voorbehou. © Landbou.com 2011. In Suid-Afrika gepubliseer deur Media24