|
|
|
| Bygewerk: | 23 May 11:00 IDT |
| Temp: | |
| Druk: | |
| Doupunt: | |
| Humiditeit: | 72% |
| Wind: |
Suid-Afrika produseer jaarliks ’n groot verskeidenheid vrugtesoorte.
Baie van die vrugte word as vars vrugte bemark deur die varsproduktemarkte, baie word verwerk in ’n verskeidenheid van produkte (soos konfyt en vrugtesappe) en baie word uitgevoer. In die eerste van twee artikels oor die produksie en die bemarking van vrugte word avokado’s, pynappels en mango’s bespreek.
Produksie en bruto waardes
Avokado’s is een van die belangrikste produkte waarvan daar die afgelope seisoen (2010/’11) sowat 81 000 ton geproduseer is. Dit is 27% meer as die 64 000 ton van die vorige seisoen. Die 2008/’09-seisoen het ’n rekord-oes van 96 000 ton opgelewer.
Hoewel twee skerp dalings in die produksie van dié vrugsoort die afgelope dekade voorgekom het, heers daar egter in die algemeen ’n stygende neiging. (Die rooi lyn in grafiek 1).
Die bruto waarde van advokado’s was R486 miljoen in 2010/’11. Dit is ’n styging van 33% vanaf die vorige jaar. In die eerste helfte van die dekade was daar heelwat skommelinge, maar in die 2005/’06-seisoen het ’n skerp styging begin wat steeds voortduur. (Rooilyn in grafiek2). Die dalings in 2005/’06 en in 2009/’10 het gepaardgegaan met afnames in produksie in dieselfde jare.

Grafiek 1
Die 92 000 ton pynappels wat in 2010/’11 geproduseer is, is ’n afname van 16% van die vorige jaar se 110 000 ton. Wat egter hier opval, is die skerp afname van 51% oor die afgelope dekade.
In die eerste helfte van dié tydperk was produksie nog bo 160 000 ton, maar van 2006/’07 af daal dit skerp tot onder 100 000 ton verlede jaar. (Blou lyn in grafiek 1). Pynappels se bruto waarde het met 8% gedaal van R174 miljoen in 2009/’10 tot R160 miljoen in 2010/’11.
Die R174 miljoen was egter die hoogste waarde die afgelope dekade. Gedurende die dekade het die bruto waarde met 30% gegroei ondanks die afname in produksie. Wat nog in die twee grafieke opval, is dat die produksie van pynappels hoër is as dié van die ander twee produkte, maar dat die bruto waarde die laagste van die drie is. (Sien kommentaar oor pryse vir verwerking hieronder.)
Mangoproduksie herstel geleidelik van ’n laagtepunt (42 000 ton) in 2008/’09 tot 53 000 ton in 2010/’11. Produksie-hoogtepunte het in 2001/’02 en 2004/’05 voorgekom toe meer as 90 000 ton geproduseer is. ’n Groot terugslag is egter in 2008/’09 beleef toe produksie net 42 000 ton beloop het.
Dit is ’n afname van 52% van die 88 000 ton die voorafgaande seisoen. (Groen lyn in grafiek 1). Oor die tien jaar toon mangoproduksie egter ’n dalende neiging. Die bruto waarde van mango’s het met 5% gedaal tot R177 miljoen in 2010/’11.
Dit toon van 2001/’02 af ’n geleidelike styging tot ’n hoogtepunt van R210 miljoen in 2007/’08, waarna dit geleidelik afgeneem het tot byna dieselfde vlak as in 2001/’02.

Grafiek 2
Bemarking
Die bemarking van die vrugte geskied hoofsaaklik op drie maniere, varsproduktemarkte, verwerking en uitvoer.
• Avokado's: Sowat 22 000 ton (27%) van die avokado-oes van 2010/’11 is op die plaaslike varsproduktemarkte verkoop, terwyl 50 000 ton (62%) uitgevoer is. Verkope op die mark was taamlik stabiel oor die afgelope tien jaar en het gewissel tussen 20 000 ton en 22 000 ton.
Uitvoer het gewissel tussen 40 000 ton en 50 000 ton. Regstreekse bemarking aan groot kettingwinkels neem toe, maar statistiek is ongelukkig nie geredelik beskikbaar nie. Ander bemarkingsmetodes, soos padkraampies, is nog in ’n beginstadium. Pryse is goed en tot R6,50/kg word op varsproduktemarkte behaal, terwyl uitvoer tot R6,75/kg oplewer.
• Pynappels: Ongeveer 21 000 ton (23%) van die pynappelproduksie is die afgelope seisoen op die plaaslike varsproduktemarkte verhandel. Sowat 67 000 ton (73%) is verwerk en net sowat 2 000 ton (2%) is uitgevoer.
Varsmarkverkope het in 2004/’05 en 2005/’06 ’n hoogtepunt van 26 000 ton bereik, maar daarna konstant afgeneem tot 21 000 ton die afgelope twee seisoene. Verwerking het met meer as die helfte afgeneem, van 137 000 ton in 2001/’02 tot 67 000 ton in 2010/’11.
Baie min pynappels (2 000 ton tot 5 000 ton) word jaarliks uitgevoer. Ongeveer ’n driekwart van die land se pynappelooes word verwerk waarvoor boere gemiddeld R0,86 per kilogram ontvang.
Hoewel dit byna dubbel die prys van vier jaar gelede is, is dit steeds droewig swak vergeleke met varsmarkpryse van net meer as R4/kg en uitvoerverdienste van R10,45/kg. Die pryse van vrugte volgens die verskillende bemarkingsmetodes oor die afgelope dekade word in grafiek 3 uitgebeeld waarin die swak pryse van verwerking duidelik gesien kan word.

Grafiek 3
• Mango's: Daar is in die huidige seisoen 13 000 ton mango’s op die varsproduktemarkte verhandel teenoor die 15 000 ton die vorige seisoen. Dit is ongeveer 25% van die totale produksie.
Verhandeling op die markte het die afgelope dekade met meer as die helfte afgeneem, terwyl pryse in dié tyd verdubbel het. Uitvoer het nog meer dramaties afgeneem, van 13,900 ton in 2001 tot 2,500 ton in 2010. Pryse het toegeneem van R3,02/kg tot R22,61/kg.
Gevolgtrekking
• Avokado's: Die produksie asook die bemarking van avokado’s is bestendig met pryse op ’n goeie vlak.
• Pynappels: Die swak prys vir pynappels vir verwerking moet beslis ’n invloed hê op die afname in produksie. Aan die ander kant is verbruikerspryse reeds hoog en sal ’n styging in produsentepryse verbruikersweerstand ontlok.
Dit laat vrae ontstaan oor wat alles van die produsent tot die verbruiker gebeur. Verder kan boere meer uitvoer oorweeg met die uitstekende pryse wat tans in die buiteland verkry word.
• Mango's: Met die styging in pryse die afgelope tyd op die varsproduktemarkte asook in die buiteland, behoort die produksie van mango’s vinnig te herstel.
Onlangse artikels oor druiwe en sitrus kan gevind word by:
Druiwe – www.landbou.com/bedrywe/tuinbou/druiwe/tafeldruiwe/wingerdboerdery-in-suid-afrika
Sitrus – www.landbou.com/bedrywe/tuinbou/sitrus/lemoene/inkomste-uit-sitrus-daal
Bronne:
• KORTBEGRIP VAN LANDBOUSTATISTIEK - 2011; DEPARTEMENT VAN LANDBOU, BOSBOU EN VISSERYE.
• DIREKTORAAT LANDBOUSTATISTIEK; DEPARTEMENT VAN LANDBOU, BOSBOU EN VISSERYE.
17 Oktober 2011
Alle regte voorbehou. © Landbou.com 2011. In Suid-Afrika gepubliseer deur Media24
Kommentaar
Lewer kommentaar. (Jy hoef nie ingeteken te wees nie.)