|
|
|
| Bygewerk: | 23 May 11:00 IDT |
| Temp: | |
| Druk: | |
| Doupunt: | |
| Humiditeit: | 72% |
| Wind: |
'n Aantal puik nuwe perskes, appelkose en geelskil-nektariens vir droog en inmaak is aan die kom. Dié kultivars, wat plaaslik geteel is, word op 'n semi-kommersiële grondslag aangeplant en 'n paar daarvan lyk baie belowend.
Vrugteboere soek altyd nuwe en beter kultivars waarmee hulle meer geld kan maak. Om egter 'n nuwe kultivar suksesvol vry te stel, verg 'n suksesvolle teelprogram wat jare duur, baie geld kos, en kundige navorsers, asook doeltreffende kontrole-meganismes en innoverende kommersialiseringsmetodes nodig het. Boere wil lae risiko's hê ten opsigte van nuwe kultivars, asook goeie inligting en 'n doeltreffende bemarkings- en kultivarprogram.
'n Aantal nuwe kultivars appelkoos, geelskil-nektarien, asook taai- en lospit-geelskilperskes vir die droog- en inmaakbedryf word nou in dele van die Wes-Kaap volgens die Fase 3-evaluasieprogram van die Landbounavorsingsraad (LNR) se Infruitec-Nietvoorbij-Instituut vir Vrugte, Wingerd en Wyn (IVWW) op Stellenbosch semi-kommersieel geplant. Heelparty van hulle lyk baie belowend. Hulle gaan waarskynlik binne die volgende jaar of wat kommersieel vrygestel word, sê mnr. Chris Smith, koördineerder van die teel- en evaluasieprojekte vir steenvrugte by die IVWW, wat die nuwe kultivars ontwikkel het.
Hy sê altesame 35 kultivars taai- en lospitperskes, geelskil-nektariens en appelkose vir die droogbedryf is in die afgelope jaar getoets. Hiervan het een taaipitperske-, elf lospitperske-, agt geelskil-nektarien- en elf appelkooskultivars die finale evaluasiestadium bereik.
Wat inmaak betref, is altesame 55 taaipitperske-, een witvleisperske- en sewe appelkooskultivars geëvalueer.
PE94-28 is 'n lospitperske wat vir droogdoeleindes geteel is, en Smith sê in proewe by Robertson het dié kultivar goed gevaar. 'n Gemiddelde persentasie van meer as 78 is in die seisoene 2000/2001 tot 2002/2003 behaal. Daar is hoofsaaklik in weke 1 en 2 geoes. Die gemiddelde suikerinhoud het in dié tydperk van 12 grade Balling (°B) tot 17 °B by Robertson gewissel.
PE94-31 het in die seisoene 1999/00 tot 2002/03 'n gemiddelde persentasie van meer as 85 van die beoordelaars ontvang. Dié nuwe kultivar se gemiddelde suikerinhoud was in dié tydperk bo 15 °B, wat baie goed is. Daar is by Bien Donné waar dit geëvalueer is van week 50 tot 2 geoes. Die kontrolekultivar waarteen PE94-31 se prestasie gemeet is, is Excellence.
PE94-27 is by Robertson getoets en het in die seisoene 1999/00 tot 2002/03 'n gemiddelde beoordelaarspunt van meer as 81 % behaal. Die gemiddelde suikerinhoud was van 13 °B tot 15 °B. Die kultivar Excellence het as kontrole gedien. Afgesien van die seisoen 2000/01 toe in week 52 geoes is, is tydens die res van die evaluasie in weke 1 en 2 geoes.
S4D-7-20 is by Bien Donné geëvalueer en sy oestyd was van week 4 tot 7. Afgesien van 'n enkele uitskieter, het die nuwe kultivar 'n beoordelingspunt van sowat 80 % behaal, terwyl die gemiddelde suikerinhoud van 12 °B tot 18 °B gewissel het. As kontroles is die kultivars Elberta, Oribi, Elandia en Kakamas gebruik.
Afgesien van S4D-7-20 met 'n 20 % blos, het die ander drie bogenoemde kultivars al-mal 'n volledige geel skil, wat 'n aantreklike gedroogde produk lewer.
Smith sê die bedryf het nou twee soorte droogprodukte, naamlik Kakamasgeurig, soos die geelskilseleksies, en Elbertageurig, soos seleksie S4D-7-20 en die tradisionele droogkultivars wat nou verbou word. Hierdie nuwe geelskil-lospitperskekultivars moet omsigtig in die bedryf ingelei en deeglik by die verbruiker getoets word.
AP93-11 is 'n inmaak-appelkoos wat op Robertson se proefperseel deurentyd tussen 1998 en vanjaar teenoor die kultivar Supergold geëvalueer is. Dit word in weke 46 en 47 geoes, en het 'n gemiddelde suikerinhoud van 12 °B. 'n Persentasiepunt van gemiddeld 66 is daaraan toegeken.
AP94-34 is ook op Robertson teenoor Supergold geëvalueer en het 'n punt van gemiddeld 68 % behaal. Oestyd is deurgaans week 47, hoewel dit vanjaar eers in week 49 geoes kon word. AP94-34 se gemiddelde suikerinhoud is 15 °B. Dié kultivar leen hom uitstekend tot vars en droë gebruik, sê Smith.
S5A-2-4, 'n appelkoos vir droog, is teenoor Bulida as kontrole-kultivar op Robertson getoets, en 'n gemiddelde punt van 67 % is daaraan toegeken. Die gemiddelde suiker-inhoud is 17 °B, en die oestyd week 48. Uitstekende resultate is vanjaar met dié seleksie behaal waar dit kommersieel gedroog en deur 'n erkende bemarker van droëvrugte gegradeer is. Daar is aanduidings dat teenoor ander kultivars verdonkering ná droging minimaal tydens raklewe plaasgevind het.
12D-31-5, wat saam met die kultivar Palsteyn in Prins Albert ryp word, het vanjaar skitterend gedroog tydens die finale droog-evaluasie. Hierdie is ook 'n seleksie wat baie belofte vir die toekoms inhou, maar daar is ander verbouingsprobleme wat opgelos sal moet word.
17C-13-24, 'n geelskil-nektarien vir droging, is op Bien Donné geëvalueer en met die kultivar M.Pride vergelyk. Dit het 'n besonder hoë punt van die beoordelaarspan gekry, naamlik gemiddeld net onder 80 %. Die gemiddelde suikerinhoud daarvan wissel van 10 °B tot 20 °B, en dit word in weke 50 tot 52 geoes.
S4C-22-8 is ook op Bien Donné geëvalueer. Dit het deurgaans 'n goeie gedroogde produk gelewer en kan as belowend beskou word, sê Smith.
Albei seleksies 17C-13-24 en S4C-22-8 lewer 'n aantreklike gedroogde produk wat groot byval vind by die beoordelaars en die bemarkers. Hulle het geen blos of rooi verkleurings rondom die pitholtes nie.
Inmaakperskes vol belofte
Die kultivar 17B-34-24, wat by Bien Donné geëvalueer is, kan in die toekoms dalk 'n alternatief vir Oom Sarel wees, wat ook as kontrole gebruik is.
Dit is een van 'n aantal nuwe perskekultivars wat onlangs geëvalueer is, sê mnr. Chris Smith, koördineerder van die teel- en evaluasieprojekte vir steenvrugte by die Landbounavorsingsraad (LNR) se Infruitec-Nietvoorbij-Instituut vir Vrugte, Wingerd en Wyn (IVWW) op Stellenbosch.
Tussen die seisoene 1999/00 en 2002/03 is 'n gemiddelde beoordelingspunt van meer as 71 % hiervoor behaal. Behalwe in die afgelope twee seisoene toe in weke 1 en 2 geoes is, was week 52 die oesweek. Die gemiddelde suikerinhoud was 13 grade Balling (°B), maar tot 15 °B is ook verkry. Dit is ook by Robertson geëvalueer, waar dit gemiddeld 66 % behaal het, met 'n gemiddelde suikerinhoud van 15 °B.
17B-35-14 is op Robertson en Bien Donné geëvalueer, met Oom Sarel as kontrolekultivar. Op Bien Donné het dit 'n gemiddelde beoordelingspunt van meer as 80 % behaal, maar op Robertson was dit 65 %. Oestyd op albei persele was in week 52, maar by Bien Donné is ook in die eerste week van die jaar geoes. Die gemiddelde suikerinhoud wissel van 10 °B tot 15 °B.
17B-34-25 is van 2001/02 tot 2002/03 op Robertson getoets, met Oom Sarel as kontrolekultivar. 'n Gemiddelde punt van 71 % is daaraan toegeken. Die gemiddelde suikerinhoud was 14 °B, en dit is die eerste jaar in week 52 geoes en vanjaar in week 1.
PE94-33 is ook op Robertson én Bien Donné geëvalueer. Op Robertson is 'n beoordelingspunt van bykans 75 % daaraan toegeken, en by Bien Donné was dit net meer as 73 %. Op albei persele was Oom Sarel die kontrolekultivar. Die gemiddelde suikerinhoud op Robertson en Bien Donné was 14 °B tot 15 °B. Oestyd was op albei persele van week 51 tot week 2. PE94-33 is ook die afgelope seisoen semi-kommersieel ingemaak, waartydens dit 'n goeie varsgradering volgens die bedryfstandaarde behaal het.
Die bogenoemde vier kultivars kan as sterk aanspraakmakers gesien word om Oom Sarel moontlik in die toekoms te vervang omdat hulle almal goeie inmaakvermoëns het en meer regop groei as Oom Sarel, meen Smith.
PE95-59, oftewel Fantasy, is 'n nuwe kultivar waaroor Smith baie opgewonde is. Dit is oor drie seisoene (2000/01 tot 2002/03) op Roberton en Bien Donné getoets en vul die gaping tussen Neethling en Kakamas. Oestyd was deurgaans tussen weke 2 en 3, en die gemiddelde suikerinhoud het gewissel van 12 °B tot 17 °B (Robertson) en 11 °B tot 14 °B (Bien Donné). Die beoordelaars het 'n gemiddelde punt van 76 % op Bien Donné gegee, en 68 % by Robertson.
PE95-63, ook bekend as Supreme, is nóg 'n semi-kommersiële kultivar wat fyn deur Smith dopgehou word om die produksiegaping tussen Neethling en Kakamas te vul.
Dié opgewondenheid sal egter finaal getoets word wanneer groot hoeveelhede Supreme by die inmaakfabrieke ingeneem en bemark word. Dit is ook op albei persele tussen 2000/01 en 2002/03 getoets en word net voor Kakamas geoes. Smith voorsien dat Supreme moontlik in die toekoms in die koeler, later areas as plaasvervanger vir Kakamas kan dien. Op Robertson is 'n gemiddeld van 71 % daaraan toegeken, en op Bien Donné 73 %. Oestyd is tussen weke 4 en 5, en die gemiddelde suikerinhoud was bykans 14 °B.
PE94-39 is tussen die seisoene 1998/99 en 2002/03 op albei persele getoets, met Kakamas as kontrolekultivar. Oestyd op Robertson was ietwat later (tussen weke 5 en 6) as op Bien Donné, waar dit tussen weke 4 en 5 geoes is. Die beoordelaars het gemiddeld 75 % (Robertson) en 73 % (Bien Donné) daaraan toegeken. Die gemiddelde suikerinhoud is 14 °B tot 15 °B. PE94-39 kan ook as aanspraakmaker gesien word om Kakamas moontlik in die toekoms te vervang, maar sal eers in die semi-kommersiële evaluasiefase in die bedryf bevestig moet word.
PE94-42 is 'n wit inmaakperske wat na Smith se mening goed vaar. Suid-Afrikaanse boere is nog nie gewoond aan 'n wit inmaakperske nie, meen hy. Dit is tussen 1998/99 en 2002/03 op Bien Donné geevalueer, met Keisie as kontrolekultivar. Die gemiddelde suikerinhoud het gewissel van 13 °B tot 18 °B, en die oestyd daarvan is tussen weke 3 en 4. Die beoordelaars het 'n gemiddelde punt van 68 % daaraan toegeken. 'n Spesiale bemarkingsaksie sal nodig wees om hierdie tipe produk in Suid-Afrika te laat posvat, meen hy.
30 Januarie 2004
Alle regte voorbehou. © Landbou.com 2011. In Suid-Afrika gepubliseer deur Media24