|
|
|
| Bygewerk: | 23 May 11:00 IDT |
| Temp: | |
| Druk: | |
| Doupunt: | |
| Humiditeit: | 72% |
| Wind: |
Die vrugtebedryf is ingewikkeld en onderhewig aan baie veranderlikes. Selfs die mees ervare betrokkenes kan sekere sake verkeerd beoordeel of oor die hoof sien. Veranderlikes is dikwels ook slaggate.
Die kragte wat op vrugteverkope in die buiteland inwerk, is uiteenlopend en ingewikkeld. Pogings van plaaslike uitvoerders en produsente, hoe eendragtig ook al, het geen invloed op die globale markkragte nie of min. As net een van baie voorsieners van vrugte wêreldwyd moet Suid-Afrika realisties wees oor hoe ver sy invloed strek.
Die volgende markkragte het 'n uitwerking op
vrugteverkope in die buiteland en op die inkomste van plaaslike produsente, maar
daar is ook ander:
Die uiteenlopende vertoning van die geld-eenhede van mededingers in die Suidelike Halfrond het 'n ewe groot invloed op inkomste. As hul geldeenhede verswak teenoor die euro, dollar en pond van die vernaamste invoerlande, word hul produkte goedkoper as die Suid-Afrikaanse produk op dieselfde mark. Daarby is dit moontlik dat mededingers voorkeurtariewe op sekere markte geniet en Suid-Afrika nie. Geldelike hulp deur die regerings aan boere in mededingende lande beïnvloed Suid-Afrikaanse verkope. Chili het in 2002 sowat $3 miljoen bestee om hul druiwe in Noord-Amerika te bemark. 'n Groot deel daarvan het waarskynlik van die Chileense regering gekom en net die besteding aan hierdie een bemarkingsveldtog is waarskynlik tien maal soveel as wat in die loop van 'n hele jaar aan 'n generiese Suid-Afrikaanse bemarkingsveldtog wêreldwyd bestee sal word. Australië, anders as Suid-Afrika, het 'n sterk plaaslike mark en vrugte wat vir uitvoer bestem is, word dikwels vir daardie mark onderskep.
Bemarkingsforums, byvoorbeeld die Sitrusbemarkingsforum en die Gesamentlike Druiweforum, is tot stand gebring om vrugte-uitvoer te bestuur. Baie rolspelers neem aktief deel aan die forums. Tog is daar klein produsente-uitvoerders en agente wat onafhanklik optree en onherstelbare skade op die markte aanrig. Hulle is gewoonlik oningelig oor toestande op afgeleë markte en word uiteindelik vasgevang in nie-winsgewende situasies. Nuwelinge op dié gebied skaad só die gesamentlike pogings van ander, veral wat markpryse betref. Hulle sal 'n nadelige invloed op die bedryf se inkomste hê totdat die bedryf in staat is om homself effektief te bestuur.
Wêreldgebeure soos die aanval in Amerika op 11 September 2001, die 1997-krisis in Suid-oos Asië en die oorlog in Irak vanjaar kan 'n diepgaande invloed op varsvrugteverkope hê. Geen beplanning kan keer dat sulke kragte hulle tol eis nie. Ander kwessies, soos die instelling van die euro, malbeessiekte, die toetrede van China tot die Wêreldhandelsorganisasie (WHO) en die opkoms van geneties gemodifiseerde organismes (GMO's), het almal tot ongunstige persepsies oor die verkoopspotensiaal van vars produkte op markte gelei. As 'n persepsie te lank aanhou, kan dit die werklikheid word.
Streng nuwe protokols en prosedures word voortdurend ingebring, wat mededinging moeiliker maak. Eurepgap en opspoorbaarheid veroorsaak dat produsente en uitvoerders van hul inkomste prysgee ter wille van `nakoming'. Soms word sulke nuwe maatreëls net as 'versperrings' gesien om handel te bemoeilik. Invoerders tree soms oneties op en bestel te veel vrugte, misreken hulle en beland in finansiële moeilikheid. Die invoerder soek dan iemand vir wie hy kan blameer - soms deur dit as 'n "vruggehalte-probleem" aan die kant van die leweransier te bestempel. Die bedryf moet teenmaatreëls ontwikkel wat sal voorkom dat Suid-Afrikaanse uitvoerders deur onetiese invoerders uitgebuit word. Onetiese optrede is nie tot oorsese invoerders beperk nie. Sekere plaaslike produsente en uitvoerders maak hulle ook daaraan skuldig, wat 'n slegte nadraai het vir die land se inkomste. Enige prosedure deur bedryfsverenigings wat sulke gedrag aan die kaak kan stel, verdien al die steun wat dit kan kry.
Gehalte is 'n permanente uitdaging. Gehaltevereistes wissel van land tot land, van supermark tot supermark, en van een koper en verbruiker tot 'n ander. Wat vanjaar aanvaarbaar is, kan volgende jaar nie meer aanvaarbaar wees nie. Gehaltestandaarde word jaarliks strenger.
Dit kan gebeur dat leweransiers hoog en droog sit weens veranderende gehaltedoelwitte van kopers wat al hoe kieskeuriger raak. Diegene wat kritiseer, besef selde hoe ingewikkeld 'n situasie is. Die Varsprodukte-uitvoerdersforum (VPUF) en sy lede is egter vasbeslote om mense in te lig wat graag beter wil verstaan. Die dinamiese varsvrugte-uitvoer-arena verdien die respek waarmee dit bejeën word.
Mnr. Stuart Symington is hoofbestuurder van die
Varsprodukte-uitvoerdersforum. Sy e-pos adres is symo@iafrica.com.
1 Augustus 2003
Alle regte voorbehou. © Landbou.com 2011. In Suid-Afrika gepubliseer deur Media24