Namibië se enigste blomplaas, Namib Roses, het in die afgelope 20 jaar van 7 000 roosbome na 70 000 roosbome gegroei. Luidens ‘n berig van Die Republikein verskaf die plaas naby Dorbabis die land met derduisende snyrose, krisante, lisianthusse, tuberrose, saailinge en struike per jaar.
Mnr. Francois Durand, eienaar, sê die besigheid het ontwikkel uit ‘n liefde wat by hom ontstaan het terwyl hy in die tagtigerjare aan die Universiteit van Stellenbosch studeer en deeltyds op ‘n roosplaas gewerk het.
Gespesialiseerde tegnologie
Durand gebruik gespesialiseerde tegnologie om vir die blomme ‘n gunstige groeiklimaat te skep aangesien Namibië se klimaat nie vereenselwig kan word met die produksie van snyblomme nie. Die blomme word in reuse kweekhuise wat sowat 2.5 ha beslaan op die plaas Klein-Marula, geplant.
Saailinge word in saailaaie geplant en met mikrobesproeiers nat gehou, terwyl die roosplante vier-vier in ’n plantsak geplant word. Bemesting en water word met ‘n drupper aan elke plant voorsien en die drupper word deur ‘n rekenaar beheer.
Die rekenaar ontvang inligting oor die vog, temperatuur en ligintensiteit in die kweekhuise en daarvolgens bepaal dit hoeveel water aan watter roosplant verskaf moet word.
Die rekenaar bereken ook hoeveel keer per dag die rose natgelei moet word, en elke toediening duur 85 s. Die temperatuur binne die tonnels word tussen 28 en 30 grade Celsius gehandhaaf.
Rose van Suid-Afrika
Durand koop sy roosboompies by groot Suid-Afrikaanse kwekers aan, soos onder meer mnr. Ludwig Taschner van Pretoria. Hy produseer 16 verskillende kleure, waaronder die Grand Gala, Gold Strike, Dolce Vita en Pascali.
Bron:
Die Republikein
15 Januarie 2010
Kommentaar
Lewer kommentaar. (Jy hoef nie ingeteken te wees nie.)