SA tafeldruiwe na Japan

 
Tafeldruiwe. Foto: MARLEEN SMITH
Tafeldruiwe. Foto: MARLEEN SMITH

Die eerste besending Suid-Afrikaanse tafeldruiwe sal na verwagting in die 2010/’11-seisoen na Japan uitgevoer word, sê dr. Pieter Mulder, adjunk-minister van Landbou, Bosbou en Visserye.

Hy sê onderhandelinge in dié verband is vroeër vanjaar afgehandel, hoewel net die uitvoer van een variëteit (Barlinka) vir eers goedgekeur is. Mulder het Donderdagaand (2 September) die Noord-Kaapse oesfunksie van tafeldruifprodusente in Kakamas toegespreek.

“Verbeterde boerderymetodes, meer navorsing en die soeke na nuwe markte is van die oplossings wat kan help met die probleme wat Suid-Afrikaanse tafeldruifboere tans ondervind,” het hy opgemerk. Volgens hom het en kan sy departement hierin ’n rol speel.

Moontlike uitvoer na Amerika
Beamptes van die Amerikaanse departement van landbou het die land verlede maand besoek, en die moontlikheid bestaan dat groter volumes plaaslike tafeldruiwe na Amerika uitgevoer kan word.

“ ’n Finale goedkeuring van Suid-Afrika se bestralingsgeriewe deur die Amerikaners is nodig om alle struikelblokke hiervoor uit die weg te ruim,” sê Mulder. Dié goedkeuring kan ná die afvaardiging se volgende verwagte besoek in Januarie 2011 volg.

Uitvoere styg met 3 miljoen kartonne
Volgens Mulder het die totale uitvoer van tafeldruiwe vir die afgelope seisoen na 51,4 miljoen kartonne gestyg, nadat dit in die 2008/’09-seisoen 48,4 miljoen was. Uitvoere uit die Oranjerivier-distrik alleen het met 10% of 16,7 miljoen kartonne gestyg.

Die Hexriviervallei voer steeds die meeste druiwe uit - 18,4 miljoen kartonne. Dié gebied se totale uitvoer het egter met 2% gedaal.

Sowat 80% van die land se tafeldruiwe word tans na Europa en Brittanje uitgevoer. Bilaterale ooreenkomste vir uitvoer na China en Israel bestaan reeds, en onderhandelinge met Suid-Korea en Mexiko vorder.

3 September 2010
 

3
 
 

Kommentaar

Lewer kommentaar. (Jy hoef nie ingeteken te wees nie.)

Jou e-pos adres sal nie vertoon word nie.