|
|
|
| Bygewerk: | 23 May 12:00 IDT |
| Temp: | |
| Druk: | |
| Doupunt: | |
| Humiditeit: | 63% |
| Wind: |
Nederburg-wynmakery, een van Suid-Afrika se voorste wynplase, sal die gasheer vir MasterChef Suid-Afrika wees.
Een van Suid-Afrika se voorste wynplase sal vir 18 weke lank die gasheer vir die TV-program, MasterChef Suid-Afrika, wees. Luidens ’n verklaring sal die Nederburg-wynmakery naby die Paarl ’n klassieke Kaapse agtergrond vir die program bied.
“Dis bes moontlik die mooiste plek wat nog vir ’n MasterChef-reeks op die aardbol gekies is,” aldus me. Anne Davis, M-Net se senior opdraggewende redakteur vir die reeks. “Ons wou dit in die Wynland skiet, want vir plaaslike en internasionale kykers is die Kaapse wingerde tipies Suid-Afrikaans. Nederburg kon ons alles bied wat ons verlang.”
Opgeknap
Die wynmakery het sy wêreldbekende Johann Graue-veilingsaal, waar die beroemde Nederburg-veiling elke jaar gehou word, vir dié program opgeknap. ’n Spesiale kombuis is gebou waar deelnemers hul staal kan wys.
Die meeste van die program se aktiwiteite gaan in dié saal van 1 000 m² plaasvind. Dit is volgens organiseerders ook naby genoeg aan enige buite-uitdagings wat beoog word.
Davis sê die opknapping van die saal was ’n omvattende proses met meer as 20 kookplekke wat met die allernuutste toebehore en kombuisgereedskap ingerig is. Sowat 15 ton se hout is gebruik vir die vloer en mure en meer as vyf kilometer se kabels is ondervloers gelê. “Die tuin óm die lokaal is pragtig versorg, en die eindresultaat is waarlik indrukwekkend!”
Die MasterChef-stel sal vir die publiek gesluit wees tot die verfilming van die reeks in Maart tot ’n einde kom. Die eerste episode word op 20 Maart 2012 uitgesaai.
6 Februarie 2012
Alle regte voorbehou. © Landbou.com 2011. In Suid-Afrika gepubliseer deur Media24
Kommentaar
Lewer kommentaar. (Jy hoef nie ingeteken te wees nie.)