Menu
 

Johan Coetsee en Andries Groenewald
6 Januarie 2003

4027 keer gelees | 0 kommentaar

Teen 2005 gaan die uitvoer van Suid-Afrikaanse vrugte die 160 000 ton-perk verbysteek, wat vrugte-uitvoer dan meer as 'n derde groter sal maak as die vlak van 1995, toe uitvoer op sowat 100 000 ton gestaan het.


Teen 2005 gaan die uitvoer van Suid-Afrikaanse vrugte die 160 000 ton-perk verbysteek, wat vrugte-uitvoer dan meer as 'n derde groter sal maak as die vlak van 1995, toe uitvoer op sowat 100 000 ton gestaan het.

Die huidige seisoen se beperkte voorraad pere en appels op Europese markte, wat Suid-Afrikaanse boere bevoordeel het, sal waarskynlik voortduur, sê dr. Daan Louw, bestuurder van die Sentrum vir Internasionale Landboubemarking en Ontwikkeling (CIAMD) in die Paarl.

Maar, aan die ander kant moet vrugteboere daarop bedag wees dat die wisselkoers sagtevrugte-uitvoer in die seisoen 2002/03 nie soveel sal bevoordeel as in die afgelope seisoen nie, maan hy. Stygende produksiekoste gaan die winsmarges in die komende seisoen benadeel.

Hy sê SA Tafeldruiwe (SAT) het pas 'n logistieke ondersoek begin na die vrugte-voorsieningsketting, wat deur die WNNR in samewerking met CIAMD gedoen word. Die doelwitte is om die doeltreffendheid van inligtingsvloei in die logistiese ketting te verbeter, asook om die gebruik van die bestaande infrastruktuur tot die maksimum te benut en nuwe strukture te identifiseer vir die medium en lang termyn.

Dr. Louw meen dié studie moes eintlik al lankal gedoen gewees het deurdat 'n logistieke krisis dreig as behoorlike beplanning nie nóú gedoen word nie.

Altesame 75 miljoen kartonne sagte vrugte is in die seisoen 2000/01 uitgevoer. Dit sal waarskynlik tot 92 miljoen in 2005 styg.

Maar die sagtevrugte-uitvoersektor sal in die volgende paar jaar voor heelwat uitdagings te staan kom om sy posisie as die Suidelike Halfrond se top-verskaffer van vrugte aan die markte van Brittanje en die Europese Unie te behou. Mededinging deur boere in Chili, Brasilië, Argentinië en Nieu-Seeland is sterk. Die ware uitdaging is om nuwe maniere van waardetoevoeging tot produkte en diens te vind.

Tafeldruifuitvoer sal na verwagting in die komende seisoen styg tot 50 miljoen kartonne, sowat 6 miljoen meer as die 2001/02-seisoen. Groter aanplantings in die Oranjeriviergebied en die herstel van die Bergriviergebied ná die teleurstellende oes van 2001/02 weens donsige meeldou, sal die meeste bydra tot die groei in uitvoer. Die uitvoer uit die Hexriviergebied sal egter konstant bly op 17 tot 18 miljoen kartonne omdat waterskaarste uitbreiding beperk.

Die gunstige klimaat het die perskeboorde bevoordeel en bemarkingsmoontlikhede vir goeie vrugte lyk uitstekend. Die kultivar San Pedro se gewildheid daal, en wanneer die kultivars Transvalia en Nova Donna die komende seisoen op die internasionale markte verskyn, gaan dit San Pedro onder nóg druk plaas.

Ook die nektarien-oes lyk goed weens genoeg koue-eenhede die afgelope winter. Markvooruitsigte vir die nuwe seisoen lyk belowend weens klein hoeveelhede op die internasionale markte. Die vraag is goed, en selfs kleiner vrugte behoort beter pryse te behaal.

Die appelkoosproduksie vir 2002/03 wissel baie tussen produksiegebiede. Die oes is kleiner, maar die vrugte is goed en die markvooruitsigte belowend.

'n Taamlik klein midseisoense pruimoes word verwag, veral in die Robertson-gebied. In die algemeen lyk die plaaslike pruimoes heelwat kleiner as dié van die vorige seisoen. Weens hoë pryse wat die afgelope seisoen in die Midde en Verre-Ooste behaal is, kan verwag word dat boere meer van hul vrugte die komende seisoen daar sal bemark. Die moontlikhede in Brittanje en die Europese Unie lyk ook belowend.

Appels en pere is taamlik deur hael in die gebied Elgin-Grabouw-Villiersdorp, asook dele van die distrik Ceres, beskadig, en in die geval van Packham Triumph-pere sal die oes 20 % kleiner as die vorige wees. Die Bon Chretien-oes sal waarskynlik dieselfde wees as dié van die vorige seisoen. Die Forelle- en Rosemarie-peeroes in die gebied Elgin-Grabouw-Villiersdorp sal waarskynlik tot 30 % swakker wees as dié van die vorige seisoen.

Min haelskade is aan appeloeste aangerig en die Granny Smith-oes kan selfs 20 % groter wees as dié van verlede seisoen.

Subtropiese vrugte

Die grootste uitdaging vir plaaslike produsente van vars produkte vir die uitvoermark is om self meer betrokke te raak by die bemarking van hul produkte en om dus vooraf presies vas te stel wat hul kliënte wil hê.

Wêreldwyd is 'n oorproduksie van vrugte en daarom word aspekte soos die regte vrugsoort en kultivar, die verlangde groottetellings, uitstekende gehalte en die volume per week gelewer kritieke faktore vir enige suksesvolle uitvoerpoging. Só sê mnr. Thys Marais, Dole SA se bestuurder: subtropiese vrugte.

Avokadoboere behoort in 2003 goeie pryse te kry omdat wêreldwyd 'n af-jaar (laer produksie) vir avokado's verwag word. In die aan-jare (hoër produksie) voer Suid-Afrika sowat 10 miljoen kartonne per jaar uit. Die skatting is dat sowat 8,5 miljoen kartonne in die nuwe seisoen uitgevoer sal word.

Dit lyk of 20 % tot 30 % minder avokado's hierdie seisoen in Spanje en Israel geoes word. Ander faktore wat die pryse van Suid-Afrikaanse avokado's op die uitvoermark kan beïnvloed, is die hoeveelheid wat Kenia gaan aanbied, die grootte van die Europese someroes vir ander vrugte, die ontkoppeling van die Suid-Amerikaanse geldeenhede van die dollar (wat dit vir Suid-Amerika aanloklik kan maak om na Europa uit te voer) en die invloed van die wisselkoers.

Die verwagting is dat goeie pryse vir plaaslike lietsjies op die uitvoermark behaal sal word. Die rede daarvoor is dat dit lyk asof Madagaskar 'n kleiner oes gaan hê en dat hy slegs tot die einde van Januarie sal uitvoer. Dít sal plaaslike produsente die geleentheid gee om hul laat kultivars in die buiteland aan te bied.

Mnr. Stephan Crafford, hoofbestuurder van die Suid-Afrikaanse Mangokwekersvereniging op Tzaneen, sê dit lyk in die algemeen asof die huidige mango-oes effens kleiner gaan wees as die oes van 2001/02.

Die redes vir die laer opbrengs is waarskynlik die gebrek aan voldoende koue in die winter (wat goeie vrugset gekortwiek het) asook haelskade wat in 'n paar van die verbouingsgebiede voorgekom het. Hierdie seisoen moes sommige boere al in Oktober voorsorg teen sonbrand tref. Aan die ander kant is puik vrugte 'n kenmerk van die droër jare, sê mnr. Crafford.

Mnr. Alan Pearce, uitvoerende direkteur van die Suid-Afrikaanse Makadamiakwekersvereniging, sê alles dui op 'n skerp toename in produksievlakke vir die 2003-seisoen. 'n Totale oes van sowat 13 000 ton (droë neut-in-dop) word verwag. Die welslae van die plaaslike bedryf is te danke aan die streng gehaltemaatreëls wat plaaslike boere nastreef om produkte aan gesofistikeerde oorsese markte met kieskeurige klante te voorsien.

Die plaaslike piesangbedryf bevind hom in 'n opwaartse kurwe wat pryse betref, en die verwagting is dat hierdie hoër pryse in 2003 gehandhaaf sal word, sê mnr. Wikus Joubert, bestuurder van die Suid-Afrikaanse Piesangkwekersvereniging op Nelspruit in Mpumalanga.

Daar is 'n paar moontlike redes vir die hoër pryse wat piesangprodusente deesdae vir hul produkte kry: 'n Afname in produksie het plaasgevind weens die bedryf wat onder druk was en produsente wat gevolglik die bedryf verlaat het. Verlede jaar se winter, Panamasiekte en verhoogde suikerkwotas het waarskynlik ook 'n bydrae gelewer tot die krimpende volumes. Die prysverhoging van basiese stapelvoedsel het moontlik ook gehelp om die hoër prys van piesangs te ondersteun, sê mnr. Joubert.

Meer nawels na Amerika

Alles is gereed om in 2003 meer nawels na Amerika uit te voer. Die uitvoer gaan tot 1,1 miljoen kartonne verhoog word, terwyl kwotareëlings en verskeping van sitrus ook verbeter gaan word.

Groot planne gaan eersdaags in werking gestel word vir sitrusuitvoer, in die besonder nawels, na Amerika, sê mnr. Gerrit van der Merwe van Citrusdal, voorsitter van Wes-Kaap Lemoene.

Mnr. Van der Merwe sê die verkoopvolumes en neigings vir nawel-uitvoer in 2003 is op die volgende gegrond:

Die uitvoervolume gaan verhoog word vanaf sowat 600 000 kartonne in 2000 tot 1,1 miljoen kartonne in 2003;

Kwota- en verskepingsreëlings gaan verbeter.

Alle Suid-Afrikaanse agente gaan betrek en invoerders van sitrus in Amerika gaan gekonsolideer word.

Ander sitrusvrugte gaan ook betrek word.

Gehaltebeheer gaan verbeter word.

Wat die uitvoervolumes betref, gaan die situasie verander omdat 'n groter nawel-oes in Amerika verwag word, wat daartoe gaan lei dat Suid-Afrikaanse nawels eers aan die begin van Julie (week 26) daar bemark kan word.

Boere moet hul vrugte in die algemeen later (week 21; middel Mei) vir uitvoer verpak. In die Amerikaanse somervakansie van ses weke gaan die volume van 40 000 kartonne tot 60 000 kartonne opgestoot word. Dit gaan geld vanaf die tweede week in Junie tot middel Julie (bemarkingsweke 30 tot 35 en pakweke 24 tot 29).

In die laaste vier weke is die plan om meer as 80 000 kartonne nawels per week te pak wat geen beperkings op volumes gaan plaas nie, want in Suid-Afrika is nie genoeg vrugte beskikbaar nie.

Mnr. Van der Merwe sê die bemarkingsplan lyk so:

Weke 27 tot 29 (80 000 kartonne/week) = 240 000 kartonne.

Weke 30 tot 35 (60 000 kartonne/week) = 360 000 kartonne.

Weke 36 tot 40 (100 000 kartonne/week) = 500 000 kartonne.

Hy het gesê wat kwotas betref, is die algemene gevoel dat die beheermaatreëls vir kwotaveranderinge na die pakhuis of agent moet verskuif. In dié stadium word, soos uiteengesit, 'n Amerikaanse mark voorsien van 1,1 miljoen kartonne, maar as 15 % vir afkeuring toegelaat word, moet kwotas toegeken word vir 1 265 000 kartonne. Dit is 335 000 meer kartonne as wat in 2002 verpak is.

Mnr. Van der Merwe sê die ideaal is om houers vir verskeping heeltemal te laat vaar, omdat tot 20 % van die nawels wat daarin verskeep word, afgekeur word weens koueskade. Die aflaai van houers duur deesdae ook langer, wat produsente se tydvoordeel belemmer. Verder is daar min beheer oor die hoeveelheid en gebrekkige inligting is daaroor beskikbaar.

Hy meen meer tyd sal aan verskeping bestee moet word omdat dit grootliks die toestand bepaal waarin die vrugte by hul bestemming opdaag. Maar die inisiatief sal van die produsente moet kom, want daar is heelwat "politiek" aan verbonde en die saak sal met omsigtigheid gehanteer moet word.

Mnr. Van der Merwe se standpunt is alle agente moet op alle vlakke betrek word. Die aantal agente in Amerika wat die vrugte daar ontvang, sal ook verminder moet word, want hoe meer onderlinge mededinging daar is, hoe nadeliger is dit vir boere. Daar is nou 11 invoerders in Amerika.

'n Fyn strategie en beplanning is nodig, want as die Amerikaanse mark nie reg benader word nie, word pryse van sitrus erg benadeel. Daarom sal die enkele pakhuise wat soms swak vrugte deurlaat, voor stok gekry moet word.

Dissipline is belangrik, en Wes-Kaap Lemoene is in gesprek met die PPECB om die uitvoerstandaarde konsekwenter toe te pas. Daar is te veel mense wat monsterpalette self pak en só swakker vrugte deurlaat, tot ernstige nadeel van almal in die bedryf.

Hy het ook gesê die moontlikheid van 'n eie embleem vir Suid-Afrikaanse sitrus in Amerika moet ernstig ondersoek word. Australië bemark reeds sy sitrus met groot welslae onder 'n kangaroe-embleem. In Amerika word sitrus grootliks in los formaat verkoop, wat 'n eie embleem noodsaaklik maak.

Mnr. Piet Smit, pakhuis-eienaar en sitrusprodusent van Citrusdal, het gesê in 2000 is sowat 600 000 kartonne nawels na Amerika uitgevoer, waarvoor 'n gemiddelde prys van $14 (R45) gekry is. In 2001 is 918 kartonne uitgevoer, waarvoor dieselfde prys in dollar gekry is, wat teleurstellend was as in ag geneem word dat Australiese nawels tot $24 per karton behaal het. In 2002 is 752 000 kartonne uitgevoer, wat 'n gemiddelde prys van $20 in Amerika behaal het, steeds minder as die $24 per karton wat Australiese nawels behaal.

Daarom word die nuwe benadering nou gevolg om strukture te vestig vir meer gedissiplineerde bemarking. Vir dié doel is 'n organisasie, VSA Sitrus, gestig wat weekliks sitrusbehoeftes in Amerika sal bepaal en dit aan Wes-Kaap Lemoene sal verstrek. Volgens dié inligting word kwotas aan produsente gegee in die vorm van 'n genommerde kwotasertifikaat.

Mnr. Smit meen die strukture vir suksesvolle uitvoer in 2003 is gereed. Alles hang nou van die boere af.

10 Januarie 2003


Kommentaar
Slegs in Afrikaans

Naam Kommentaar
E-pos
Tik in die nommers  

Vind jou perfekte maat nou!

Ek is 'n:
Stel belang in:
Ouderdom: tot
Huidige
Ligging:
Wys net profiele met foto's

Teken in vir die nuusbrief

Teken in op Landbou se weeklikse nuusbrief deur jou e-posadres hier in te vul.

Lewende Hawe

Soort 15/04/14 22/04/14 %
Beesvleis A2/A3 3446c 3452c down 0.2
Speenkalf (lewend) 1719c 1726c down 0.4
Skaapvleis A2/A3 4709c 4730c down 0.4
Varkvleis (gem. prys) 2132c 2119c down -0.6
Braaikuikens 1721c 1729c down 0.5

Aandele