Mnr. Razvan Macici, keldermeester, bestudeer ’n witwyn. Foto: VERSKAF
Die prys vir die beste Sauvignon blanc in die Suidelike Halfrond in die Internasionale Wyn-en-spiritualieë-kompetisie het vanjaar aan Nederburg gegaan.
Een van Suid-Afrika se
bekendste wynlandgoedere presteer vanjaar besonder goed. Nederburg se Sauvignon blanc is in die Internasionale Wyn-en-spiritualieë-kompetisie (
IWSC) in Londen as die beste in die Suidelike Halfrond aangewys.
Dié aankondiging is gedoen kort ná
Nederburg as een van die beste presteerders in vanjaar se
Veritaskompetisie aangewys is. Luidens ’n verklaring is mnr.
Razvan Macici, keldermeester, terselfdertyd ’n finalis in Diner’s Club se Wynmaker van die Jaar-kompetisie vir 2012.
Die 2010 Private Bin D234 se druiwe is van wingerde naby Darling afkomstig. Benewens dié trofee, het die wyn ook ’n uitstaande goue medalje ontvang. Dit is spesifiek gemaak vir verkope op die Nederburg-veiling.
Tweede wenrondeDié prys is die tweede trofee wat die Paarlse wynmakery in ’n kompetisie teen mededingers in die Suidelike Halfrond ontvang. Die landgoed se 2009 Eminence is in verlede jaar se
Five Nations Wine Challenge in Sydney aangewys as die beste wyn by dié geleentheid. Dié wyn is vanjaar in die IWSC ook met ’n goue medalje bekroon.
Ander wyne wat vanjaar in die IWSC gepresteer het, was die 2008 Eminence, die 2007 Eminence en die 2009 Edelkleur wat almal goue medaljes ontvang het. Verlede jaar se Winemaster’s Reserve Noble Late Harvest het ook ’n goue medalje gewen.
Die landgoed se lys van pryse in die 2012 IWSC sluit sewe uitstaande silwermedaljes en 13 silwermedaljes in.