7 Augustus 2012
1163
keer gelees |
kommentaar
Die beoordelaars van die kompetisie. Foto: VERSKAF
Die 20 beste Pinotages wat vanjaar onder die vergrootglas gaan kom in Absa se Top-10-Pinotage-kompetisie is bekend gemaak.
Die Swartland, Stellenbosch- en Durbanville staan kop en skouers uit bo die ander streke. Elkeen het drie wyne onder die 20 bestes. Die Top-10 sal op 31 Augustus aangewys word.
Uit die Swartland is dit die Swartland-wynkelder, Riebeek Kelders en Painted Wolf Wines wat om ’n plek onder die top-10 gaan meeding. Vanuit Durbanville maak die Diemersdal-landgoed, Altydgedacht-landgoed en Durbanville Hills op die silwerware aanspraak.
Stellenbosch, wat deur baie as die Pinotage-hoofstad beskou word, se drie mededingers is Simonsig, Delheim en Spier.
Painted Wolf Wines en Rijk’s van Tulbagh het albei twee wyne op die lys. Uit Painted Wolf se stal is Guillermo Pinotage 2009 en The Den Pinotage 2010 op die lys ingesluit.
Rijk’s, ’n gewilde wenner in die kompetisie, se Private Cellar Pinotage 2008 en Rijk’s Reserve Pinotage 2008 tel onder die semi-finaliste. Mnr. Beyers Truter, voorsitter van die SA Pinotage-Assosiasie, sê die lys bied ’n opwindende mengsel van gevestigde produsente én nuwe kandidate.
“Rijk’s en Simonsig is geen vreemdelinge in Absa se Top-20 nie, terwyl ’n nuwe kandidaat, soos Painted Wolf, letterlik uit die niet sy verskyning maak met twee wyne op die lys,” sê Truter.
Pinotages van uitstaande gehalte
“Saam met hierdie gemengde groep van nuwe en gevestigde wynkelders is dit fantasties om gehalte-Pinotages te vind wat hul oorsprong uit byna al die Suid-Afrikaanse wynstreke trek – van Stellenbosch en die Paarl, tot Walkerbaai, Darling en die Swartland.
Vir Pinotage om gehaltewyne van so ’n diverse spektrum van terroirs te lewer, bewys nie net die veelsydigheid van die druif nie, maar toon ook die toewyding van die produsente om hul streek se klimaat en terreine deur Pinotage en goeie wynmaak uit te druk.”
Beoordelaars is dit eens oor die algemene elegansie van die wyne, asook ’n waarneembare verskeidenheid in styl en verbetering in gehalte.
Mnr. Duimpie Bayly, sameroeper van die proepaneel, het gesê: “Voor die beoordeling het ek dit duidelik aan die span gestel dat ons ons nie sal beperk tot die soek na enige spesifieke Pinotage-styl nie. Die doel was om wyne te soek wat in enige taal beskryf kan word as ‘groot’ vanweë hul elegansie, balans en pure teenwoordigheid.”
Die beoordelaars op die foto is: Van links, Fred Viljoen, wynmaker van Viljoensdrift op Robertson, Samantha De Morney-Hughes, assistent wynmaker by Vergelegen, Duimpie Bayly, sameroeper van die paneel, die wynskrywe Neil Pendock, Anthony Hamilton Russell van Hamilton Russell Vineyards in die Hemel-en-Aarde Vallei, Gideon Theron van Lutzville wynkelder en die Tsogo Sun-hotelgroep se sommelier, Miguel Chan.