Gamma-bestraling vir mango's

 
Mango's reg vir die mark. Foto: ANDRIES GROENEWALD
Mango's reg vir die mark. Foto: ANDRIES GROENEWALD

Alles dui daarop dat gammabestraling van mango’s vir moontlike vrugtevlieg-besmetting beter sal voldoen aan fito-sanitêre uitvoervereistes as die warmwater-behandelings wat tot dusver ondersoek is.

Die probleem met die warmwater-behandelings is dat dit ongelukkig die raklewe van die vrugte beperk.

Dr. Johann de Graaf van Westfalia Tegnologiese Dienste (WTD) op Tzaneen het gesê die behoud van bestaande uitvoermarkte, asook toegang tot nuwe uitvoermarkte, is baie belangrik vir die plaaslike mangobedryf.

WTD het ’n insektarium gevestig waar die drie kwarantyn-vrugtevliegspesies geteel is terwyl uitgebreide proewe gedoen is met die warmwater-behandeling van vrugte teen vrugtevlieg.

Volgens mnr. Robert Blakey van WTS is verskillende mangokultivars bestraal teen 400, 800 en 1 000 gamma-eenhede. Daarna is die vrugte opgeberg en ondersoek tydens rypwording.

Voorlopige resultate dui daarop dat die minste oksidering voorgekom het by dié mango’s wat teen 400 gamma-eenhede bestraal is.

“Met hierdie belowende resultate sal voor-kommersiële proewe met bestraling beslis in die volgende seisoen gedoen word,” het Blakey gesê.

3 Augustus 2010

0
 
 

Kommentaar

Anne-Marie 

Is daar enige proewe gedoen om te bepaal hoe die Gamma bestraling die gebruiker op die langduur sal beïnvloed? Byvoorbeeld, swanger vroue,en, word die verbruiker gewaarsku dat Gamma bestraling gebruik word?

Lewer kommentaar. (Jy hoef nie ingeteken te wees nie.)

Jou e-pos adres sal nie vertoon word nie.