Van 120 ha veegrond tot besproeiingsreus in 25 jaar

Deur Marleen Smith
15 Desember 2016
Die Suid-Vrystaat se wisselvallige klimaat en produksiekoste het twee veeboere laat besluit om hulle eerder tot besproeiing te wend.

Twee Suid-Vrystaatse vriende wat 25 jaar gelede hul veeplase vir ’n lappie onontwikkelde besproeiingsgrond verruil het, het sedertdien ’n omvangryke landboubesigheid opgebou met 4 000 ha onder besproeiing, verskeie silokomplekse en ’n stewige bemagtigingsarm.

Mnre. Gert Joubert en Francois Verster is albei in die distrik Dewetsdorp naby Lesotho gebore en getoë. In 1991 het hulle die groot besluit geneem om vanaf dié veewêreld weswaarts te hervestig – op 120 ha onontwikkelde grond op die Vanderkloof-besproeiingskema buite Luckhoff.

Die bestaande eienaars, ook veeboere, het nie in besproeiing uit die betreklik nuwe Oranje-Riet-kanaal belang gestel nie. Hul eerste twee spilpunte het Gert en Francois tweedehands op veilings aangeskaf omdat hulle nie geld vir nuwes gehad het nie.

Vandag strek hul besproeiingboerdery oor 4 000 ha met meer as 150 spilpunte. Sowat 60 000 ton graan, ook van medeboere, beweeg jaarliks deur Joubert en Verster Agri se silo’s. Die onderneming lewer verskeie landboudienste aan medeboere en hulle het onlangs na permanente gewasse uitgebrei deur hul eerste plase met sitrus-, pekanneut- en amandelboorde te koop.

Hoekom het julle destyds besluit om te skuif?
Weerpatrone en produksiekoste het ons genoop om na alternatiewe praktyke te kyk. Ons keuse het op besproeiing geval.

Julle verbou jaarliks duisende ton kontantgewasse. Wat is jul ekologiese en ekonomiese benadering tot saaiboerdery onder besproeiing?
Ons volg ’n gesonde wisselboustelsel van koring, gevolg deur sojabone en dan mielies, met drie oeste elke twee jaar. Die laaste tien jaar lê ons sterk klem op minimumbewerkingspraktyke. Geen oesreste word gebrand nie en diep bewerking word net gedoen as dit nodig is om verdigtingslae op te hef. Die lande word jaarliks chemies ontleed. Elemente waaraan daar ’n tekort is, word wisselend volgens presisiekaarte toegedien. Vee benut die oesreste, wat bewerking vergemaklik.

Vertel meer oor jul veeboerdery.
Op marginale grond verbou ons raaigras en lusern vir Bonsmaras en Merino’s. Lamtye is baie intensief. Alle dragtige ooie word geskandeer, en meerling-ooie lam in klein hokkies om vrektes te beperk.

Julle is baanbrekers in die regstreekse bemarking van graan van die plaas af – nie net jul eie nie, maar ook ander boere s’n wat julle aankoop. Hoe het die mark vir jul produkte die afgelope jare verander?
Vanaf ’n eenkanaalstelsel na koöperasies en nou regstreekse bemarking aan kopers wat die graan op die plaas kom laai.  Vanweë die groot afstande tussen die plase het ons ses silokomplekse gebou – met buise, siwwe, droërs, geykte skale, graderingstoerusting en opgeleide gradeerders – waar aangrensende plase se graan gelewer word.

Ons behartig ook onder meer graandroging en die uitsif van skadelike sade vir ander landbou-ondernemings wat nie die nodige geriewe in die omgewing het nie. Ons silokomplekse is deur die PPECB-skema geoudit en voldoen aan die nodige voedselveiligheidstandaarde, wat ons in staat stel om koring na Zambië uit te voer. Ons graandeurset staan tans op sowat 60 000 ton per jaar.

Hoe benut julle skaalekonomie as dit by die aankoop van produksiemiddele kom?
Ons koop meestal in groot maat regstreeks van groothandelaars – nie net vir onsself nie, maar ook vir medeboere om produksiekoste te bespaar. Ons as boere is prysnemers, maar kan met rekordhouding en doeltreffende finansiële bestuur in ’n groot mate ons produksiekoste bepaal.

Vertel meer oor die tegniese instandhouding van so ’n omvangryke boerdery.
Werknemers word deurlopend op kursusse gestuur sodat ons opgeleide personeellede vir die meeste take het. Dit sluit in spilpuntoprigting en -herstelwerk, elektriese werke, werktuigkundiges, silo-operateurs, gradeerders en rekenmeesters.

Ons bly op die hoogte van die jongste tegnologie in byvoorbeeld die beheer van spilpunte, soos outomatiese aan- en afskakel in Eskom se rooi en groen tye. Dit sou ’n onbegonne taak gewees het om 150 spilpunte met die hand aan en af te skakel.

Watertoediening en werktuie word ook met outomatiese stuurstelsels vanaf RTK-torings via satellietseine beheer. Volledige stelle onderdele vir besproeiingstelle word in voorraad gehou. Ons kundige personeel lewer ook besproeiingsdienste aan ander boere.

Watter tegnologie het onlangs jul groei die meeste versnel?
GWK se presisieboerdery-afdeling het groot waarde toegevoeg met die skedulering van watertoediening, die chemiese ontleding van kunsmis, die bepaling van verdigtingslae en insiggewende blaarontledings. Ons steun swaar op die kundigheid van mnre. Dup Haarhoff en Hannes Hattingh van dié afdeling. Satellietnavigasie op werktuie maak ook ’n groot verskil.

Julle glo sterk in bemagtiging en jul swart ekonomiese bemagtigingsarm bestaan al 12 jaar. Hoekom is dit vir julle belangrik?
Werkers van intreevlak tot in die topbestuur is vir enige onderneming belangrik. Daarom moet almal deel wees van vooruitgang. Ons Tshepiso-werkerstrust is om dié rede gestig. Dit stel begunstigdes in staat om huise en voertuie te koop en hul kinders vir tersiêre opleiding te stuur. Dit maak ’n beter lewenstandaard moontlik en kweek goeie gesindhede en gemotiveerde werkers.

Die maatskappy Tshepiso Farms is in 2004 gestig en bestaan uit die Tshepiso-werkerstrust en Joubert en Verster Agri. Alle werknemers van Joubert en Verster word ná een jaar diens begunstigdes. Geen regeringsgeld is betrokke nie; net ’n waterreg wat die Departement van Water en Sanitasie aan die trustbegunstigdes toegeken het. Die maatskappy bedryf met groot sukses 400 ha spilpuntbesproeiing, waaruit die begunstigdes ’n bogemiddelde inkomste verdien en waarop hulle inkomstebelasting betaal.

Ons wil die SEB-komponent uitbrei en hou die mark dop vir nog grond met waterregte wat beskikbaar raak. Ons is ook by die ontwikkeling en vestiging van omliggende opkomende boere betrokke. Hulle is almal tans selfstandige en suksesvolle boere.

Is julle gemaklik om in die heersende politieke klimaat grond by te koop?
Ons het volle vertroue in die toekoms. ’n Mens moet jou nie deur populistiese uitsprake laat lei nie. Die werklikheid van voedselsekerheid is bepalend. Met finansiële dissipline, beplanning en deur op hoogte van die jongste tegnologie te bly, kan ’n mens, met ’n paar opofferings, ’n suksesvolle landbouer in Suid-Afrika wees.

Die sentiment oor grondbesit het in ons onderneming verander. Ons siening is nou dat grond ’n fabriek is wat voedsel volhoubaar moet produseer en waaruit almal wat by die besigheid betrokke is, voordeel moet trek.

Hoe gaan julle dié somer bestuur?
Dit gaan beslis moeilik wees. Ons het reeds ’n 15%-inkorting in ons waterkwota en dit kan vererger as die droogte voortduur. Ons het klaar minder hektare beplant en sal konsentreer op die plant van gewasse wat minder water nodig het.

Hoe vergemaklik ’n maatskappystruk-tuur die bestuur van jul boerdery?
Die moedermaatskappy doen die oorhoofse aankope, bemarking en bestuur. Ons kinders en ons twee junior vennote bedryf hul boerderye outonoom, maar gebruik die moedermaatskappy se oorhoofse bestuur. Beter insetpryse kan beding word en die middelman word met die bemarking van produkte uitgeskakel sodat ons ook beter produsentepryse kan beding.

’n Gulde reël is dat ons geen tyd met formele vergaderings mors nie. Daar word persoonlik met elke afdeling se bestuur in gesprek getree en relevante kwessies word informeel op grondvlak bespreek en opgelos.

Hoe lewer landboutoerisme ’n bydrae tot jul onderneming?
Voëljagpakkette en vlieghengel is gewild onder buitelandse besoekers. Die meeste jagters is suksesvolle sakelui, wat vir ons ’n goeie geleentheid skep om deure na buite oop te maak. Ons pak wildboerdery nog op klein skaal aan.

Navrae: Joubert en Verster Agri, tel. 053 664 0188.


Lewer kommentaar

Slegs in Afrikaans

Los 'n antwoord

Alle velde moet ingevul word.

Verwante artikels