Vlermuise bespaar makadamiaboere miljoene

Deur Jasper Raats
18 April 2017
“Die skade wat stinkbesies aanrig, sal verdubbel as vlermuisbevolkings in dié boorde verdwyn.”

Vlermuiskaste naby makadamiaboorde kan miljoene rande se verliese weens mot- en stinkbesieskade beperk, wys navorsers aan die Universiteit van Venda se werk op ses plase in die Levubu-omgewing in Limpopo.

Prof. Peter Taylor, wat aan die stuur van die navorsingsprojek staan, sê stinkbesieskade kos die Suid-Afrikaanse makadamiabedryf jaarliks R50 miljoen tot R100 miljoen. Mnr. Graeme Whyte van die Green Farm Nut Co., een van Suid-Afrika se grootste verwerkings- en uitvoermaatskappye vir makadamianeute, sê tot 80% van boere in Limpopo en Mpumalanga se neutskade word deur stinkbesies veroorsaak.

Boonop sien die maatskappy dat ál meer beskadigde neute by aanlegte in KwaZulu-Natal gelewer word. “Dit wys dat die stinkbesiebevolking ook daar aan die groei is.” Whyte sê die beskadigde neute kan tot olie verwerk word, maar boere verdien dan minder vir hul produk. Besendings met beskadigde neute kos meer om te sorteer en verg ook meer tyd.

“By ’n aanleg waar daar nie baie beskadigde neute gelewer word nie, kan ons tot 70 ton neute in ’n dag uitkraak, maar waar daar baie sorteerwerk is, daal hierdie koers tot 20 ton neute per dag.”

Beskerm
Dit is daarom belangrik dat boere alles in hul vermoë doen om vlermuis- en voëlbevolkings te beskerm, sê Taylor. “Ekonomiese modelle van die besparing wat vlermuise teweegbring deur om en in makadamiaboorde te jag, wys dat die skade wat stinkbesies aanrig, sal verdubbel as vlermuisbevolkings in dié boorde verdwyn.”

Hulle beveel die gebruik van veilige insekdoders ten sterkste aan, asook die bewaring van natuurlike plantegroei en habitatte se buffersones en die installering van vlermuiskaste by boorde. Taylor se veldspan het 48 draadhokke in ses plase se makadamiaboorde aangebring om die impak van vlermuise en voëls op makadamianeute te bepaal.

Twee van die plase behoort aan mnr. Alan Whyte van die Green Farms-maatskappy. Die ander deelnemers was mnre. Fritz Ahrens, Jaco Roux, Alistair Stewart en Branden Jardim.

Vergelyk
Die hokke is in vier stelle opgedeel. Een stel hou voëls en vlermuise heeltemal weg van die bome en verhoed alle roofdieraktiwiteit op insekte in en om die bome. ’n Tweede stel gee aan voëls en vlermuise 24-uur-toegang tot die bome en die insekte daar.

’n Derde stel word in die nag toegemaak om vlermuise uit te hou en ’n vierde stel word in die dag toegemaak om voëls uit te hou. Die persentasie beskadigde neute in elk van hierdie beheerhokke word daarná met mekaar vergelyk.

“Voordat ons met die navorsing begin het, het ons geweet vlermuise vang valskodlingmotte, maar nou, ná die eerste jaar, het ons gesien hulle vreet ook stinkbesies, nie net in vlug nie, maar ook waar hulle op die makadamiabome se blare sit,” sê me. Valerie Linden, een van die navorsers.

Haar kollega me. Sina Weier is toegespits op die verskillende voedingspatrone van voëls en vlermuise om te bepaal watter insekte hulle vreet en om vir boere ’n aanduiding te gee watter omgewing hulle moet skep om die regte voël- en vlermuissoorte te lok.

Gehalte
Die twee navorsers sê hulle kan reeds sien dat neutkwaliteit drasties afneem wanneer voëls en vlermuise afwesig is. “Ons verwag dat boere kan afskaal met die gebruik van gifstowwe deur habitatte vir voëls en vlermuise te skep, wat die algemene plae op makadamianeute biologies sal bestuur.

“Dit sal produksiekoste verminder en omdat hulle minder skade aan hul neute sal hê, sal boere ’n groter deel van hul oes kan uitvoer,” sê Linden. Die navorsingsprojek strek oor twee jaar.

• Dié artikel is geborg deur GWK. Besoek GWK se webblad by http://www.gwk.co.za/


Lewer kommentaar

Slegs in Afrikaans

Los 'n antwoord

Alle velde moet ingevul word.

Verwante artikels