Deur ANDRIES GROENEWALD
10 September 2012
1981
keer gelees |
kommentaar
Volkswagen het sy gewilde Amarok-dubbelkajuitbakkies nou heelwat ekstra woema gegee - tot die boer se vreugde.
Wie onthou nog September 2010? Wel, dit is nou twee jaar sedert Volkswagen Suid-Afrika (VWSA) die eerste Amarok-bakkies op plaaslike bodem bekend gestel het.
En almal onthou ook nog al die ge-“oe” en ge-“aa” oor die maatskappy se nuweling se tweeliter-dieselenjin (met twee turbo-aanjaers en direkte inspuiting) wat drywing van 120 kW en 400 N.m wringkrag lewer. Die meeste doemprofete was van mening dat die enjins dit nie sou hou nie.
Tog het 7 200 dubbelkajuite al nuwe base in Suid-Afrika gekry. En die maatskappy reken verkope is aan bande gelê weens voorsieningsprobleme uit Argentinië.
Die Amarok word beskou as tegnies een van die mees gevorderde bakkies in Suid-Afrika. Die hoogs gevorderde dieselenjin met sy twee turbo-aanjaers en direkte inspuiting het nuwe standaarde gestel vir drywing, brandstofekonomie en beperkte emmissie.
Die bakkie is ook steeds een van die gerieflikste bakkies om in te ry sonder om sy goeie vragdravermoëns in te boet. Maar intussen het meer water in die see geloop: Ford het sy nuwe Ranger bekend gestel en groot afwagting bestaan vir die opvolgers vir die lank-in-die-tand Mazda BT50 en die Isuzu KB’s.
En nou het VW sy Amarok se ekonomiese 2.0 BiTDI-dubbelkajuit se drywing verhoog van 120 kW tot 132 kW. Die maksimum wringkrag van 400 N.m vanaf 1 500 r/min. tot 2 250 r/min. bly dieselfde. Brandstofverbruik word aangedui as ’n suinige 7,9 liter/100 km en 8 liter/100 km vir die 4 Motion-weergawe met sy vierwieldrywing.
Die nuweling versnel van 0 tot 100 km/h in 10,3 sek. (10,6 sek. vir die 4Motion), en die maksimum snelheid is 184 km/h (183 km/h vir die 4Motion).
Luuks en gerieflik
Kry jou sit in die Amarok se luukse, ruim en gerieflike kajuitruimte en die VW-ergonomie val dadelik op. Die bakkie bied klaswenner-gerief vir sy bestuurder en insittendes, ’n uitstekende ritgehalte en padhouvermoë op alle padoppervlakke.
Maar hoe voel daardie ekstra 12 kW skop waaroor die enjin nou beskik? Daarop moet ek eerlikwaar sê ek kon dit nie agterkom nie, want dit was eenvoudig te lank gelede dat ek met die 120 kW-weergawe gery het.
Tydens ’n toetsrit op die Hoëveld het die 132 kW-Amarok wel genoeg verbysteekkrag gehad in die hoër ratte, maar dit het ook die 120 kW-model gegeld, onthou ek. Ek glo egter die verskil sal beslis meer waarneembaar wees wanneer die twee modelle rug-aan-rug vergelyk kan word of wanneer ’n sleepwa of woonwa gehak word.
Die tweede model in die reeks, die TDI met sy 90 kW drywing danksy ’n enkel-turbo-aanjaer met wisselvinwerking lewer 340 N.m wringkrag vanaf 1 750 r/min. en verbruik 7,7 liter/100km. Die model versnel tot 100 km/h in 13,5 sek. (13,7 sek. vir die 4Motion). Die maksimum snelheid is 163 km/h (161 km/h vir die 4Motion).
Die enigste petrolmodel, die 2.0 TSI, lewer drywing van 118 kW en 300 N.m wringkrag. Hierdie aangejaagde enjin se wringkragpiek is beskikbaar vanaf 1 600 r/min. tot 3 750 r/min. Dit spog glo met ’n petrolverbruiksyfer van 9,6 liter/100 km in ’n gekombineerde siklus, dit versnel flink in 9,9 sek. tot 100 km/h en haal ’n maksimum snelheid van 180 km/h.
Die Amarok-dubbelkajuit is beskikbaar met ’n sesgang-handratkas, maar gerugte van ’n agtgang outomatiese skakel-ratkas doen die rondte. Net die tyd sal leer of die Amarok met sy bykomende woema sy man sal kan staan teen die nuwe mededingers.
Pryse: (BTW ingesluit)
Trendline
Amarok-dubbelkajuit 2.0 TSI 118 kW 4x2 R313 500
Amarok-dubbelkajuit 2.0 TDI 90 kW 4x2 R341 700
Amarok-dubbelkajuit 2.0 TDI 90 kW 4Motion R391 900
Highline
Amarok-dubbelkajuit 2.0 BiTDI 132 kW 4x2 R375 100
Amarok-dubbelkajuit 2.0 BiTDI 132 kW 4Motion R425 300