|
|
|
| Bygewerk: | 23 May 13:00 IDT |
| Temp: | |
| Druk: | |
| Doupunt: | |
| Humiditeit: | 59% |
| Wind: |
Ek sit eendag by ’n visboer en kyk hoe sy werkers die klein vissies uitsorteer volgens grootte en in afsonderlike grootmaakdamme sit. “Kyk, as een vissie enigsins in ’n ander een se bek pas, word dit eenvoudig opgevreet. As jy dus nie voortdurend die vissies volgens grootte sorteer nie, vreet hulle kort voor lank jou hele boerdery onder jou uit,” het hy verduidelik.
Maar immers is dit mos die natuur se manier om te sorg dat net die grootste, die slimste en die sterkste sal oorleef. Dit is tog die grondslag van die evolusieleer: Vreet of word gevreet, wat net die flinkste en vinnigste agterlaat om voort te plant.
Nuweling in 'n mededingende mark
Met die koms van die nuwe Volkswagen Amarok-enkelkajuit na Suid-Afrika kon ek nie anders as om aan die ervaring op die visplaas te dink nie,want ewe skielik is hier nóg ’n nuweling in ’n baie mededingende mark losgelaat.
Sou dit die nuweling se 2 literenjin wees wat hom laat lyk asof hy dalk net-net in ’n ander bakkie se mond kan pas? Of is die enjin se goeie brandstofverbruik juis wat in die Amarok se guns tel?
Die Amarok se dubbelkajuit-weergawe het in September verlede jaar sy opwagting in Suid-Afrika gemaak en die gevorderde enjintegnologie, aktiewe en passiewe veiligheidstelsels, hoë geriefs- en spesifikasievlakke en veral die brandstofekonomie het die nuweling dadelik van sy mededingers onderskei.
Enkelkajuit ook nou beskikbaar
Inderdaad was die Amarok-dubbelkajuit, naas Toyota se Hilux, sedertdien die beste verkoper in hierdie marksegment. Nou het die enkelkajuit-bakkie sy opwagting gemaak, met ses verskillende modelle met turbo-aangejaagde dieselenjins wat dadelik beskikbaar is en ’n belofte van nóg twee petrolmodelle met regstreekse inspuiting wat in die vierde kwartaal hier sal wees.
Al die modelle is beskikbaar met die Basic- of Trendline-afwerking en met 4Motion- vierwieldrywing wat in drie van die ses turbo-dieselweergawes beskikbaar is. Maar wat maak die Amarok-enkelkajuit ’n gedugte mededinger in die mark vir enkelkajuitbakkies?
’n Mens kan beslis afskop met ’n brandstofdoeltreffende 2 liter-turbodieselenjin met regstreekse inspuiting. Die 2.0 TDI-enjin ontwikkel maksimum kraglewering van 90kWen 340 N.m se wringkrag, terwyl die 2.0 BiTDI-kragbron kraglewering van 120 kW en wringkrag van 400 N.m het.

Die Amarok het tans loshande die grootste laaibak onder die beskikbare
eentonners in Suid-Afrika.
Uitsonderlike dieselverbruik
Volkswagen Suid-Afrika (VWSA) maak aanspraak op ’n gemiddelde dieselverbruik van 7,6 liter/100km vir die 2.0TDI en 7,9 liter/100 km vir die 2.0 BiTDI-enjin. VWSA se aanspraak op dié uitsonderlike dieselverbruik word gerugsteun deur die sesgang-handratkas met ’n snelrat-verhouding vir bykomende ekonomie wanneer jy teen ’n konstante spoed ry.
’n Ratwisselaanwyser op die instrumentepaneel is ’n hulpmiddel om die bakkie so ekonomies as moontlik te bestuur. Volgens die spesifikasies is die nuwe bakkie die leier in sy klas wat vragdravermoë betref.
Die laaibak se 1 620 mm-breedte is nie net die breedste in sy klas nie, maar die ruimte van 1 222 mm tussen die wielboë maak dit die enigste laaibak waarop twee Euro-palette (800 mm x 1 200 mm elk) pas. Die laaibakoppervlakte van 3,57 m2 is 10% groter as dié van die naaste mededinger in die klas. Die loonvrag is tussen 1 225 kg en 1354 kg, na gelang van die model.
Voeg hierby die bakkie se vermoë om ’n oorslagrem-sleepwa van 2 800 kg te trek, en dit is duidelik dat jy hier met ’n ware werkesel-bakkie te make het.
Baie spasie
En so al asof VW weet dat ’n boer se bakkiekajuit dikwels sy “kantoor” is, is kajuitruimte en bestuurdersgerief nie afgeskeep nie. Daar is volop plek vir selfs die langste bestuurder. Die stuurwiel se posisie is verstelbaar en die bestuurder kan selfs sy sitplek se hoogte verstel.
Agter die sitplek is ’n gawe bêreplek, en daar is plek vir ’n jaggeweer, ’n kamerasak en selfs vir ’n skralerige kosmandjie. Die instrumente is maklik leesbaar en al die skakelaars is eenvoudig daar waar jou vingers hulle wil hê. Uitstekende ergonomie was nog altyd een vanVWse sterk punte.
Die hele modelreeks is toegerus met sluitweerremme (ook veldry-ABS), elektroniese remkragverspreiding en vastrapbeheer. Die Basic-model het slegs ’n bestuurderlugsak en die bykomende opsie van ’n passasierslugsak wat aan- of afgeskakel kan word. Die Trendline-model het lugsakke vir die bestuurder én die passasier.
Dagryligte is standaard in ál die modelle. Wat die voorkoms betref, vorm die Amarok se enkelkajuit en laaibak só ’n netjiese eenheid dat ’n mens wonder of dit vóór die dubbelkajuit ontwerp en gebou is. Dit is ’n mooi bakkie met ’n stewige voorkoms, en ’n goeie skeut VW-identiteit kan veral in die hoofligte en sierrooster gesien word.
Konvensionele leerraamonderstel
Die kajuit en laaibak rus op ’n konvensionele leerraamonderstel, of dan amper ’n konvensionele leerraamonderstel, want VW se ontwerpspan het botsslag-absorberende strukture in die onderstel-gedeelte onder die kajuit ingebou.
Die onderstel het vyf dwarsbalke (die voorveringsubraam ingesluit) om stewigheid te vergroot. In nóg ’n afwyking van die konvensionele leerraamonderstel is die agterste bladvere (vyf vir die enkelkajuit teenoor die drie van die dubbelkajuit) langs die leerraam gemonteer pleks van onmiddellik onder die raambalke.
Die voordele is ’n laer laaibakvloer, ’n laer laaidrumpelhoogte en ’n dieper laaibak met hoër sywande en bakdeksel in verhouding tot die laaibakvloer. ’n Bykomende voordeel is dat die bakkie self ’n laer swaartepunt het, nóg meer so wanneer ’n vrag vervoer word.
Beter rigtingstabiliteit
Ook wat die Amarok se veerstelsel betref, het VW ’n groter treetjie gegee as sy mededingers. Voor is ’n onafhanklike Mc-Pherson-stutstelsel met boonste en onderste dwarsskakels. Aan weerskante is die teenkantelstaaf aan die McPherson-stut gekoppel, met ’n koppelstang vir beter rigtingstabiliteit. Kronkelvere word gebruik in die groter afstand tussen die boonste en die onderste mikke.
Dit dra ook by tot beter rigtingstabiliteit. Agter is ’n vaste as met vyf swaardiensbladvere en trommelremme omdat VW dit beskou as ’n goeie samestelling vir strawwe werkstoestande.
’n Mens voel sommer dadelik tuis met die inklimslag in die Amarok. Dit is die een ding wat VW al lankal regkry, en dit is om sy voertuie rondom die bestuurder en sy passasiers te ontwerp. Die bekendstellingsroete op die Oos-Kaap se teer- en grondpaaie in en om die Visriviervallei het besliste uitdagings ingehou.
VWSA verdien ook ’n pluimpie vir die “halwevrag” van sowat 700 kg sementsakke wat elke bakkie gedra het. Die nuwe enkelkajuit is immers ’n werksbakkie en deel daarvan is beslis om vrag te vervoer. ’n Mens voel beslis die vrag op die laaibak en die uitwerking daarvan op veral die TDI 4 Motion-model met sy 90 kW-drywing.
Vasvoetigheid
Hoewel die vrag die hantering, werkverrigting en grondvryhoogte beslis uitdaag, raak jy gou gewoond aan die Amarok se vasvoetigheid op teer- en grondpaaie danksy die gewillige enjin en die gevorderde veerstelsel.
En tog, met die aanskoue van die steil stuk gruispad met los klippe en rowwe oppervlak wat uit die Visriviervallei lei,kon ’n mens nie help om saam met ander skeptici te wonder oor daardie verplasingsinhoud van 2 liter nie.
Baie mense voel dat ’n 2 liter-enjin goed en wel is vir gebruik in ontspanningsvoertuie, maar in ’n werkesel-bakkie? En toe die aangename verrassing (en ek moet bieg, verligting) toe die Amarok daardie los steiltes stadig met volgehoue, moeitelose momentum en die nodige grasie uitklouter sonder dat die enjin enige teken van stress wys ofdat die wiele hul vastrap verloor.
En skielik besef ek: ’n Groot enjin is nie meer ’n voorvereiste vir ’n werkeselbakkie nie. Uiteindelik is dit die kW’s en die N.m’s wat tel, en natuurlik ook hoe dit ingespan word. Dit is straks nie heeltemal so toevallig dat die Amarok genoem is na ’n wolf uit die Eskimo-mitologie nie.
My raaiskoot is dat hy reeds gulsig vreet aan die plaaslike mark vir eentonners pleks dat aan hóm gevreet word. Die Amarok-enkelkajuitbakkies word gedek deur ’n waarborg van drie jaar of 100 000 km. Die versieningsinterval is 15 000 km. ’n Roeswaarborg geld vir ses jaar en ’n diensplan van vyf jaar of 90 000 km is by die prys ingesluit.

23 Augustus 2011
Alle regte voorbehou. © Landbou.com 2011. In Suid-Afrika gepubliseer deur Media24
Kommentaar
Tyd sal leer hoe die vw met die ander kompeteer. S.A pryse vir die bakkies in lyn met Australia waar ek al baie jare bly.
Darem belaglik wat voertuigpryse in SA is.
Lewer kommentaar. (Jy hoef nie ingeteken te wees nie.)