|
|
|
| Bygewerk: | 23 May 13:00 IDT |
| Temp: | |
| Druk: | |
| Doupunt: | |
| Humiditeit: | 59% |
| Wind: |
Mitsubishi-bakkies het ’n nuwe era in Suid-Afrika betree met die bekendstelling van ’n reeks opgekikkerde Triton-eentonners. Anders as in die verlede, toe die Tritons plaaslik gemonteer is, word al die nuwe Tritons as volvervaardigde eenhede ingevoer.
Die nuwe Tritons sit die geskiedenis sedert 1990 van Mitsubishi-bakkies in Suid-Afrika voort, eers as die Colt en sedert 2007 as die Triton, toe ’n geheel nuwe model met nuwe stilering bekend gestel is. Die Colt van destyds was ’n groot sukses en meer as 20 000 van hulle is hier verkoop.
Die jongste Triton-modelle, wat in ’n supermoderne fabriek in Thailand vervaardig word, lyk aansienlik anders as hul voorgangers met ’n nuwe sierrooster, kopligte en voorbuffer, sowel as ’n nuwe treetjiebuffer agter en herontwerpte allooiwiele.
Vyf modelle
Die jongste reeks bestaan uit vyf modelle – drie dubbelkajuite en twee Clubcabs – elk met die keuse tussen twee- en vierwielaandrywing. Die enkelkajuitmodel word volgende jaar in die tweede kwartaal verwag. In die dubbelkajuite is drie viersilinder-enjintipes beskikbaar: ’n 2,4 liter-petrolkragbron wat 94 kW by 5 250 r/min. en 194 N.m by 4000 r/min. ontwikkel, ’n 2,5 literturbodiesel met ’n lewering van 100 kW by 4000 r/min. en ’n gesonde 314 N.m by2000 r/min., en ’n 3,2 liter-turbodiesel wat 118kW by 3 800 r/min. en ’n vet 343 N.m wringkrag @2000 r/min. lewer.
Die twee Clubcab-weergawes kom net met turbodieselenjins, met die kleiner enjin vir die 4x2 en die 3,2 liter-eenheid vir die 4x4. Die nuwe Tritons spog met ’n besonder goeie spesifikasie ten opsigte van veiligheidsinnovasies. Dit is die eerste bakkie wat vier sterre in die Euro NCAP-botstoetsprogram behaal het.
Een besondere veiligheidskenmerk is die feit dat, in ’n botsing van agter, die laaibak onder die kajuit inskuif. Vir verdere gemoedsrus is daar ook kantslagstawe in die deure en lugsakke vir die bestuurder en die voorste passasier.
Gemik op sake- en leefstylmark
Die kragtige remstelsel berus op ’n doeltreffende ABS-stelsel en elektroniese remkragverspreiding. Die Mitsubishi Triton-reeks is gemik op die sake- sowel as die lewenstylmark. Vir laasgenoemde toepassings is die 4x4-modelle uitstekend toegerus vir veeleisende veldrytoestande. Die EasySelect-vierwieldryfstelsel stel die bestuurder in staat om vierwieldryf (4H) in die ry in te skakel by snelhede van tot 100 km/h.
Vir werklik strawwe veldrytoestande is die 4x4-modelle toegerus met laagstrekratverhoudings en ’n agterste ewenaarslot. Ook indrukwekkend is die grondvryhoogte van 205mm,die naderhoek van 33,4 grade en die vertrekhoek van 23,8 grade, wat die Triton ’n onstuitbare 4x4 maak.
Genoeg ruimte
Die kajuit is verbasend ruim en daar is meer as genoeg ruimte vir volwassenes agter. Soos ’n mens sou verwag van ’n luukse bakkie, is die spesifikasievlak besonder hoog. Geriefseienskappe sluit onder meer elektriese ruit- en kantspieëlverstelling, ’n voloutomatiese lugversorgingstelsel, CD-klankstelsel, sleutellose toegang en afstandbeheerde sluiting in.
Die nuwe reeks Triton-bakkies word gedek deur ’n waarborg van drie jaar of 100 000km en ’n diensplan van vyf jaar of 100 000 km. Die petrolbakkies moet elke 15 000 km versien word en die dieselbakkies elke 10 000 km.
Om in landbouwiele te adverteer, kontak:
Stanton Porter Marketing, tel. 012 654 2745 faks 012 654 0114 of e-pos sharon@stanport.co.za
Redaksionele navrae:
Teddy Knoetze, sel 082 456 3454.
26 September 2011
Alle regte voorbehou. © Landbou.com 2011. In Suid-Afrika gepubliseer deur Media24
Kommentaar
Ons het 'n 2008 model Colt clubcab petrol 4x2 V6 bakkie en hy's 'n yster bietjie swar op brandstof, maar het ons Jurgens Penta gesleep soos geen ander bakkie dit kon doen nie, nou sleep hy 'n Jurgens boswa en ons kamp en ry die hele Namibia vol, hou van die nuwe Triton se voorkoms.
Ek ry n Pajero Sport net die slegste van sleg paaie kan nie kla oor padhouvermoee nie sal defnitief weer een koop.
Namakwalander
Ons ry al drie jaar lank 'n Triton en hy staan nie agter wat rygerief, uithouvermoê en werkverrigting betref nie. Ons ry 60km baie swak grondpad na die naaste dorp toe. Ons laai gewoonlik lek agter op of ons sleep 'n klein waentjie vol lek en houtsparre en pale. Ons het al 'n paar maal die groot sleepwa met ses koeie op ook gesleep sonder dat ons een probleem opgetel het. Ons het nog net nuwe bande en oordentlike skokbrekers opgesit. Die nuwe bakkies lyk goed.
Ja, nou lyk hy vir my mooi. Baie mooier as sy voorgangers!!
Lewer kommentaar. (Jy hoef nie ingeteken te wees nie.)