|
|
|
| Bygewerk: | 23 May 13:00 IDT |
| Temp: | |
| Druk: | |
| Doupunt: | |
| Humiditeit: | 59% |
| Wind: |
Die gerieflike, nuwe Hilux-reeks bied jou alles wat jy van ’n bakkie wil hê. En op die pad bestuur dit soos ’n passasiersmotor.
Vandat die eerste, baie eenvoudige Hilux-bakkie in 1969 in Suid-Afrika opgedaag het, is al meer as 860 000 van hulle hier verkoop. Trouens, op die Corolla na, waarvan daar al meer as 950 000 eenhede van die hand gesit is, is die Hilux verreweg die gewildste voertuig in die land en is dit maand ná maand die voorste verkoper.
Opgekikker
Toyota het pas ’n nuwe, opgekikkerde en verbeterde Hilux-reeks bekend gestel, en as die outomatiese D-4D-dubbelkajuit waarmee ons so ’n sirkelroete van Johannesburg af Oos-Londen en Port Elizabeth toe en terug gery het ’n aanduiding is, gaan die nuwe Hilux soos nog meer soetkoek verkoop.
Die nuwe, omvattende reeks bied jou net mooi alles wat jy in ’n bakkie soek. Daar is nie minder nie as 21 van hulle: Enkel- en dubbelkajuit en die Xtra Cab (met sy verlengde kajuit), petrol en diesel, handrat en outomaties, en twee- en vierwieldryf. Plaasbakkie, werkbakkie, kerkbakkie, daar’s ’n Hilux te kus en te keur.
Die Hilux waarmee ons so ’n vinnige draai deur die land gemaak het, was ’n vierwiel-aangedrewe, outomatiese D-4D RB (vir “Raised Body”) met die drieliter-turbodieselenjin. Soos jy sou verwag van ’n dubbelkajuit wat R424 000 kos, is dit gerief en weelde net waar jy vat, voel en kyk.
Ten volle toegerus
Die Hilux het alles, van snelheidsbeheer tot ’n klimaatbeheer-lugversorgingstelsel en genoeg lugsakke om hom bo-op die water te laat dryf. Die kajuit is rustig, elegant en ruim, en alles van die bekleedsel tot die mat tot die dakvoering tot die plastieke is van die allerbeste materiaal gemaak.
Die twee sitplekke voor is gerieflik en groot – daar’s voldoende ruimte vir die grootste agterstewe, om die waarheid te sê. Op die pad bestuur die Hilux D-4D soos ’n passasiersmotor en veral as jy ’n vraggie agterop het, is die rit glad nie stamperig nie.
Die outomatiese viergangratkas veraangenaam sake vir die bestuurder, want jy hoef nie die ratkierie die hele tyd te sit en rondstoot nie. Die tussenverkoelde sestienklep-D-4D-turbodieselenjin van 3 liter ontwikkel 120 kW by 3 400 r/min. en sy wringkragpiek van 343 N.m word tussen 1 400 en 3 200 r/min. gelewer.
Bietjie dors as jy haastig is
Dis ’n lekker enjin, stil en soepel en in normale verkeer ook nie besonder dorstig nie. Maar as jy jou voet neersit, want dit word donker en jy wil by die huis kom, begin hy diesel suip en kyk jy na ’n verbruik van hier by die 13 liter/100 km – oftewel, dit kos jou R130 vir elke 100 kmdat wat jy ry.
En dan is daar ’n ander ding. Wanneer gaan vervaardigers leer om nie voertuigkajuite vol blink goed te plak nie? Die silwerkleurige beslag op die Hilux se instrumentpaneel is weliswaar baie mooi, maar ry jy so teen agtuur se stryk in die oggend van Bloemfontein af Aliwal-Noord toe en die son skyn so skuins van links af in die kajuit, het jy ’n sonbril nodig om die weerkaatsing uit jou oë te hou.
Baie irriterend! Soos al die ander Hilux-modelle is ’n fabriekswaarborg van drie jaar of 100 000 km en ’n versieningplan van vyf jaar of 90 000 km by die prys van die 3.0 D-4D Raider 4x4 ingesluit.
Om in landbouwiele te adverteer, kontak:
Stanton Porter Marketing, tel. 012 654 2745 faks 012 654 0114 of e-pos sharon@stanport.co.za
Redaksionele navrae:
Teddy Knoetze, sel 082 456 3454.
18 Oktober 2011
Alle regte voorbehou. © Landbou.com 2011. In Suid-Afrika gepubliseer deur Media24
Kommentaar
Lewer kommentaar. (Jy hoef nie ingeteken te wees nie.)