21 Junie 2012
2036
keer gelees |
kommentaar
Die Nissan Juke.
Die nuwe Nissan Juke is ’n voertuig sonder weerga: Kragtig en gerieflik met ’n voorkoms wat mense twee keer laat kyk.
Die Nissan Juke, wat verlede Oktober plaaslik bekend gestel is, het ’n splinternuwe motorklas geskep en, ongewone voorkoms ofte nie, dit is fluks besig om een van Nissan SA se groot suksesverhale te word. Dit verkoop soos die spreekwoordelike soetkoek.
Die Juke is ’n “liquorice allsorts”-kar as jy al ooit een gesien het. (Tussen hakies, “liquorice allsorts” is “droplekkers” of “reënbooglekkers” op Afrikaans, aldus die woordeboek.) Die Nissan is ’n kombinasie van elemente: Dit het die funksionele eienskappe van ’n sportnutsvoertuig, die praktiese eienskappe van ’n luikrug, die stilering en dinamiese eienskappe van ’n sportmotor, en die gerief, ruimte en gevorderde toerusting van ’n deftige passasiersmotor. Nissan self sê die Juke is ’n “Sports B-Crossover” – wat dit ook al beteken.
Hoe lyk die Juke?
Die voorkoms . . . Nou ja, daaroor moet jy maar self besluit. Party mense, veral die ouer garde, trek hul neus op en sê die voorkant herinner hulle aan die knopneus-Morris Oxfords van die 1950’s en die daklyn, wat soos dié van ’n koepee skerp skuins na agter afloop, aan ’n outydse plaasgerief. Onder die jonger geslag, aan die ander kant, is die Juke se voorkoms ’n groot treffer. Hulle meen die Nissan lyk alte “koel”!
Maar alle bedenkinge wat jy oor die voorkoms kan hê, vervaag wanneer jy agter die stuurwiel inskuif en die langpad vat – soos ons verlede maand gedoen het op ’n rit van meer as 3 000 km van Johannesburg na Port Elizabeth en Kaapstad en terug. Die Juke is een groot plesier.
Die model wat ons gehad het, was ’n 1.6 DIG-T Tekna met ’n turboaangejaagde petrolenjin met direkte inspuiting en ’n dubbele tussenkoeler.
Wat ’n verrassing! Hoewel die viersilinder ’n verplasing van net 1,6 liter het, skop dit danksy die aanjaer ’n yslike 140 kW en ’n indrukwekkende 240 N.m wringkrag uit. Sit jou voet neer, en die Juke spring.
Die enjin het drie verrigtingsmodusse: Normaal, sport en eko. Die eko-modus is die mees ekonomiese, want die wringkragkurwe word só gewysig dat die wringkragpiek by laer enjintoere bereik word. By die wegtrek in Johannesburg het ek die eko-modus gekies en nooit, vir die hele duur van die lang rit, ekstra krag gesoek nie. Daar was altyd meer as genoeg woema.
En wat het die Jukes alles?
Die Juke het alles wat oop- en toemaak – van lugversorging en lugsakke vir die nasie tot sentrale sluiting en elektriese alles.
En die heel gerieflikste sitplekke wat jy in ’n motor kan kry. Ons het die 1 100 km van Johannesburg af PE toe in een stoot afgelê (tien uur se sit) en by ons aankoms in die Baai was ons nie gedaan nie. Niemand het gekla van ’n seer rug en sitvlak nie. Wat my laat wonder: As Nissan sulke wonderlik gerieflike sitplekke in sy voertuie kan hê, waarom nie die ander vervaardigers nie?
Die Juke is in alle opsigte ’n besonderse motor. As daar iets is waaroor jy kan kla, is dit die pakruimte. Daardie holtetjie wat veronderstel is om die kattebak te wees, het plek vir drie winkelsakke en ’n sak hondekos (miskien ses biere ook), maar nie veel meer nie. Jy kan darem, as dit op die man afkom en daar is net twee van julle, die rugleunings van die agtersitplekke platslaan.
Nog iets: Nissan beweer die turbo-Juke het ’n gemiddelde petrolverbruik van net 6,9 liter/100 km – dis nou op die Europese gekombineerde siklus. Maar, glo my, dit kan jy op jou maag skryf en met jou hempie afvee. Ons gemiddelde verbruik oor die byna 3 500 km was 9,2 liter/100 km. Toegegee, ons het nie altyd streng by die spoedperk gebly nie.
Om in landbouwiele te adverteer, kontak:
Stanton Porter Marketing, tel. 012 654 2745 faks 012 654 0114 of e-pos sharon@stanport.co.za
Redaksionele navrae:
Teddy Knoetze, sel 082 456 3454.