|
|
|
| Bygewerk: | 23 May 13:00 IDT |
| Temp: | |
| Druk: | |
| Doupunt: | |
| Humiditeit: | 59% |
| Wind: |
Die Begroting wat mnr. Trevor Manuel, Minister van Finansies, ter tafel gelê het, is 'n poging om arm mense te beskerm, volgehoue indiensneming te verseker, die ekonomie se vermoë om te groei uit te bou, belegging te bevorder en beperkinge op mededinging te verminder.
Al dié doelwitte moet boonop bereik word sonder om skuld tot onbestuurbare hoë vlakke te laat groei. By 'n mediakonferensie voor sy begrotingsrede in die Parlement het Manuel gesê in 'n tyd wat dit maklik is om gewilde begrotings sonder substansie voor te lê, is die begroting die "eerlikste" posisie wat die Regering kon inneem.
"Met die verkiesing om die draai kon ek maklik 'n 20%-tekort op die Begroting aankondig, en nywerhede nooi om vir ondersteuning te kom vra, maar dit sou nie eerlik wees nie. Ons verstaan ons plek in die wêreld en ons verstaan die getalle. Ons hoef nie die gewilde opsies na te volg nie."
Vanweë 'n kombinasie van groter besteding en dalende inkomste maak vanjaar se Begroting voorsiening vir 'n tekort van 3,9%, of 'n bedrag van R93 miljard wat uit kort- en langtermynlenings in Suid-Afrika en die buiteland gefinansier moet word.
Suid-Afrika spring nie die verlammende uitwerking wat die wêreldwye finansiële krisis op ekonomiese groei, inkomste en uiteindelik, belastinginsamelings, het, vry nie. Manuel het in sy begrotingsrede gesê in die 2008/'09-begrotingsjaar was die inkomste reeds R14,2 miljard minder as wat begroot is, terwyl daar verwag word dat dit R50 miljard minder sal wees as Februarie 2008.
In die 2009/'10-begroting word voorsiening gemaak vir totale regeringsbesteding van R834 miljard. Die meeste van die ekstra geld wat in die Begroting bewillig word, gaan na maatskaplike toelaes en die verbetering van infrastruktuur. As deel van die Regering se landelike ontwikkelingstrategie om landbouproduksie te verhoog en landelike inwoners se inkomste te verhoog, kleinboere te ondersteun en paaie in die platteland te verbeter, sal die projek wat beginnerspakkette aan arm huishoudings versprei, die omvattende landbouhulpprogram (CASP) en spesifieke landelike infrastruktuurprojekte 'n ekstra R1,2 miljard kry.
Tydens die mediekonferensie het Manuel herhaaldelik gesê dat daar teenprestasie van staatsdepartemente en ander staatsinstansies verwag word, veral in die geval van 'n openbare onderneming soos die Suid-Afrikaanse Lugdiens, wat 'n toekenning van R1,6 miljard kry om met sy omkeerstrategie te help, en die herkapitalisasiehulp wat Land Bank verlede jaar gekry het. "Dit sal nie help om meer geld na Land Bank te gooi nie; wat nodig is, is herposisionering en 'n verbetering in bestuur."
In reaksie op vrae oor grondhervorming het Manuel gesê "snaakse goed" is met die grondhervormingsproses aan't gebeur. "Hoe meer geld ons beskikbaar stel, hoe hoër raak die pryse wat vir grond gevra word. Daar is gevalle van groot uitbuiting."
Lees Landbouweekblad se uitgawe van 20 Februarie vir meer inligting oor en kommentaar op die 2009/'10-begroting.
12 Februarie 2009
Alle regte voorbehou. © Landbou.com 2011. In Suid-Afrika gepubliseer deur Media24