Die tragiese feit dat daar geen bykomende toedelings aan die landbou is nie en dié sektor beswaarlik in die Begrotingsrede vermeld is, beklemtoon die Department van Landbou en die Departement van Grondsake se onvermoë om hul onderskeie begrotings na behore te bestee.
Dít was die mening van dr. Tobias Doyer, hoof van Santam Agri, op die Landbou-ekonomiese Vereniging van Suid-Afrika en Absa se begrotingsbyeenkoms in Pretoria. Doyer sê Manuel staan met sy fiskale beleid soos 'n stewige rots in die see en daar is genoeg reserwes om 'n ekonomiese storm te trotseer. "Die groot vraag is of daar die vermoë is om al die goeie planne uit te voer."
Hierdie siening is deur verskeie ander sprekers beaam. Prof. André Louw, hoof van AgriBesigheid by die Universiteit van Pretoria, sê die vermoë om uiteindelik die kapitaalbegroting te kan benut, is van besonderse belang. "Die feit dat ons met die broek op die enkels gevang is met krag en infrastruktuur, veral in landelike gebiede, wys dat hoewel daar geld is die insig ontbreek om dit te hanteer."
Mnr. Ernst Janovsky, hoofbestuurder van AbsaAgribesigheid, sê 'n goeie fiskale beleid is nie die probleem nie. Hoe nader die land aan 'n verkiesing beweeg, hoe groter is die politieke onstabiliteit. Dit kan 'n invloed op die wisselkoers hê.
Uit Landbouweekblad, 29 Februarie 2008