|
|
|
| Bygewerk: | 23 May 13:00 IDT |
| Temp: | |
| Druk: | |
| Doupunt: | |
| Humiditeit: | 59% |
| Wind: |
Swart ekonomiese bemagtiging gaan nie net daaroor om die bestaande koek regverdig te verdeel nie. Dit poog ook om meer koeke gebak te kry, sê me. Thoko Didiza, Minister van Landbou en Grondsake.
Sy het op die jaarvergadering van nasionale organisasie vir opkomende rooivleisprodusente (Nerpo) gesê vir die Regering is swart bemagtiging in die landbou 'n meganisme om die bedryf te bevorder. "Dit is nie slegs 'n uitdeelproses aan voorheen benadeeldes nie.
"Dit is nie 'n bedreiging vir die ekonomie nie, maar 'n manier om groei te stimuleer en meer mense by die landbou te betrek. Daar moet ook aandag geskenk word aan die vestiging van nuwe ondernemings."
Sy het na die wynbedryf as 'n voorbeeld verwys en gesê vanweë die gewildheid van Suid-Afrikaanse produkte oorskry die vraag die aanbod. Daar moet ook na ander produksiegebiede as net die Wes- en Noord-Kaap gekyk word.
Sy glo boere moet bly wees dat geletterdheid ook op die agenda vir swart bemagtiging geplaas is. 'n Geskoolde werkersmag is vir enige boer 'n bate omdat daar met ingewikkelde produksieprosesse gewerk word. Sy sê dit is egter teleurstellend dat die landboubedryf nie die geleenthede benut om vaardigheidsopleiding aan werkers te verskaf nie en dat geld wat daarvoor bewillig is, nie opgeëis is nie.
Oor die proses om 'n AgriBEE-handves saamgestel te kry, het sy gesê terwyl die proses tot in November gedebatteer word, moet alle belanghebbendes deeglik besin oor die kwessies wat gehanteer moet word. "Niemand moet dit met vrees of onsekerheid benader nie, maar elkeen moet hom beywer om vorendag te kom met 'n raamwerk wat aan die behoeftes van landbou in Suid-Afrika kan voldoen."
24 September 22004
Alle regte voorbehou. © Landbou.com 2011. In Suid-Afrika gepubliseer deur Media24