|
|
|
| Bygewerk: | 23 May 13:00 IDT |
| Temp: | |
| Druk: | |
| Doupunt: | |
| Humiditeit: | 59% |
| Wind: |
Ervare kommersiële boere behoort by voorligtingsdienste betrokke te wees omdat opkomende boere hulle meer geloofwaardig as onervare voorligtingsbeamptes beskou, sê mnr. Aggrey Mahanjana, besturende direkteur van die organisasie vir opkomende Rooivleisprodusente (Nerpo).
Hy het op die kongres van die Rooivleisprodusente-organisasie (RPO) naby Stellenbosch gesê daar moet veral onthou word dat Suid-Afrika drie soorte boerdery-stelsels met verskillende behoeftes het. Kommersiële boere se produkte kry voorrang in nasionale en internasionale markte. Opkomende boere gaan gebuk onder die beperkinge wat weens klein plase op hulle van toepassing is en bestaansboere het 'n ander benadering nodig om hul ekonomie te bestuur.
Volgens Mahanjana behoort die regte bewaringsbestuur by bestaansboerderye aandag te kry. Daar moet ook seker gemaak word die bestryding van dieresiektes onder die vee van sulke boerderye is doeltreffend sodat dit nie die nasionale kudde benadeel nie.
"As 'n opkomende boer teen 'n verlies boer, word hy 'n las vir die staat. Geen ondernemingsplan vir dié boere sal werk as die huidige grondpryse en kredietstelsel daarmee in berekening gebring word nie," het hy gesê.
Dr. Alistair Patterson, 'n ontwikkelingskonsultant, sê dinge in Suid-Afrika móét verander. "Kommersiële boere lewer 'n groot bydrae tot voedselsekerheid, maar dié sektor se rassesamestelling moet aandag geniet." Hy sê 95 % van die landbougrond is in die eienaarskap van wit boere. "Só kan ons nie aangaan nie. Dit is soortgelyk aan apartheid, want uiteindelik móés dit vernietig word."
Landbouverenigings sal veranderings moet aanmoedig en opkomende boere self vestig. "Op boerevergaderings word gewoonlik 'n duisend redes gegee waarom dit nie kan gebeur nie." Volgens Patterson is die grootste probleem dat kommersiële boere nie meen dat daar 15 000 swart boere is wat goeie boere kan word nie. "Daar is egter wél. Diegene met entrepreneursvaardighede moet deur landbouverenigings uitgeken en ontwikkel word."
Patterson sê die beginsel van gewillige koper, gewillige verkoper kon tien jaar terug gewerk het toe grondpryse nog laag was. "Nou nie meer nie."
Staatsingryping het misluk ten spyte van waarskuwings uit ander Afrika-oorde, soos Kenia, dat pogings om gesinne op kommersiële boerderye te plaas, sal misluk. "Boere moet geïdentifiseer word wat opkomende boere kan help. Die Regering kan sosiale dienste verskaf, maar het geen ondervinding met kommersiële produksie nie," het hy gesê.
18 Augustus 2006
Alle regte voorbehou. © Landbou.com 2011. In Suid-Afrika gepubliseer deur Media24