|
|
|
| Bygewerk: | 23 May 13:00 IDT |
| Temp: | |
| Druk: | |
| Doupunt: | |
| Humiditeit: | 59% |
| Wind: |
Die rol van plaaslike regerings is té belangrik vir die landbou om nie daarby betrokke te raak nie, sê mnr Theo Venter, politieke ontleder en spesiale raadgewer by die Universiteit van Noordwes.
Venter het op Agri Gauteng se kongres gesê landbou-organisasies moet alle geleenthede benut om met owerhede saam te werk en prosesse te beïnvloed. "Besluite gaan geneem word of jy uitstap of nie. Probeer eerder om jou invloed te laat geld," was sy raad. Hy meen landbou-organisasies kan 'n opbouende rol in landelike gebiede speel. Elke stukkie grond is nou onder die beheer van 'n plaaslike owerheid.
Venter, wat oor die strategiese belang van skakeling met plaaslike owerhede oor landbou-beleid gepraat het, sê oplossings moet binne streke gevind word daar bestaan nie 'n nasionale bloudruk of model nie. Hy sê daar moet indringend oor die rol van die georganiseerde landbou as belangegroep besin word.
Landbou-organisasies moet dringend forums instel om vir hulle te beding. "Anders sal besluite geneem word sonder dat julle eers daarvan bewus is," het hy gesê.
Hy meen dat daar talle goeie nuus is wat nie deur landbou-organisasies uitgedra word nie. "Die suksesse en goeie nuus moet oorgedra word. Die stem van die landbou is té belangrik om nie gehoor te word nie," het hy gesê.
Landbouweekblad, 14 September 2007
Alle regte voorbehou. © Landbou.com 2011. In Suid-Afrika gepubliseer deur Media24